Ontruim is oor oppak en afskeid


Esta Steyn se Ontruim, met spelleiding deur Helena Hugo word op RSG uitgesaai om 20:00 of 11 April 2019. Dit het die derde plek behaal in die RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie.

Esta Steyn.

Die storie

‘n Bejaarde egpaar moet begin oppak om hul huis en tuiste van die afgelope 47 jaar te “ontruim”. Dit is ‘n emosionele, soms nostalgiese weggooi en afskeid neem. Albei hul kinders woon in die buiteland, so daar is min steun en hulp. Die spoke van die verlede kom klop ook aan die deur en daar word aan ou wonde gekrap.

Dit is ‘n komiese liefdesdrama en die ware kern van hul verhouding word soos ‘n liefdevolle juweel met ‘n roerende dans vertoon.

 

Helena Hugo vertel meer

Helena Hugo (Foto: Lux Verbi, fotograaf Hanneri de Wet.)

Manus en Willemien is sewentig, hul kinders is groot en uit die huis, trouens hulle woon oorsee en kom selde kuier. Die huis met vyf slaapkamers, ’n dubbel-garage en ’n swembad word eindelik verkoop en verruil vir ’n tweeslaapkamer-plekkie in Sorgvry-aftreeoord. Maar nou moet daar afgeskaal word en besluite geneem word oor wat behoue bly en wat nie.

Willemien het lankal vrede gemaak en pak bokse vol huisgoed, terwyl Manus die garage invaar soos ’n kind wat sy lank verlore speelgoed ontdek en alles en nog wat wil saamneem omdat hy dit dalk weer sal nodig kry. Soos die ongeluk dit wil hê, maak Willemien haar eie ontdekking en tuimel hul huwelik van byna vyftig jaar amper oor die afgrond.

Nie net die huis nie, maar ook ou griewe word gevolglik uitgepak en met ’n lag en ’n traan vir goed ontruim.

Esta Steyn skryf met meelewing oor die pad wat getroudes oor jare met mekaar saamstap. Wantroue, verwyte, irritasies en misverstande word met humor getemper. Besittings wat met liefde versamel is en herinneringe aan goeie tye versag die onvermydelike verhuising en verskuif die fokus na die kinders: Boeta wat op trou staan en Christelle wat besorgd haar hulp aanbied al sou dit beteken dat sy haar eie gesin vir ’n ruk lank moet afskeep. As gesin is hulle afhanklik van mekaar, maar  Manus en Willemien het mekaar in hul ouderdom nodiger as ooit tevore.

Esta Steyn is ’n erkende skrywer wat draaiboeke vir TV-reekse soos Meeulanders en Soutlanders geskryf het, asook verskeie Weskusromans. Met Ontruim, wen Esta die derde plek in die 2018-RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie.

Spelers

Rina Nienaber

Christine Voorendyk

Gesoute akteurs Martin Jansen, Rina Nienaber, Christine Voorendyk en Sulette Thompson speel nie net toneel nie, hulle word karakters wat jou ’n kykie gee in Manus en Willemien, en Christelle en Boeta, maar ook in Millie en Abie se lewe. Kom kuier saam.