Oogkundige wen radiodrama-kompetisie


Karin du Toit

‘n Oogkundige van Vanderbijlpark, Karin du Toit (39), is die wenner van vanjaar se RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie met haar donker komedie, Die lyk. Dit is haar debuutdrama en is aangewys as die wenner uit 122 inskrywings.

“Ek werk al die afgelope sestien jaar as oogkundige, alhoewel ek meer belang stel in skryf as in oë,” het Du Toit gesê. Haar prysgeld is R35 000.

Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout (57) wat vir drie dekades lank ‘n tweetalige kopieskrywer was en bekend om haar onlangse, volwasse roman, Die dekonstruksie van Retta Blom, is in die tweede plek met haar radiodrama, As ‘n kind kom kuier. Dit is ook Bezuidenhout, wat in Parys in die Vrystaat woon, se eerste drama vir radio. Sy ontvang R25 000.

Lee Doubell

In die derde plek is Lee Doubell met Koue kaiings. Doubell van Johannesburg is ‘n voormalige kompetisiewenner. Hy was in 2017 die algehele wenner met Rommel, rommel en sy ander radiodrama, Grootpad na Kleinkop, is vroeër vanjaar op RSG uitgesaai. Dit is sy vierde drama wat die finale lys gehaal het. Hy wen altesame R15 000.

Wilmi Wheeler

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as dertig jaar) is deur Wilmi Wheeler (24) ingepalm met Die huisbesoek. Wheeler is oorspronklik van Bultfontein in die Vrystaat. Dit is ook haar eerste radiodrama, hoewel sy die RSG en Sanlam radiodrama-slypskool vanjaar in Kaapstad bygewoon het. Sy is ‘n predikantsvrou en woon in Bellville. Dit was ook haar debuutdrama. Sy wen R15 000.

Die wendramas

Die lyk deur Karin du Toit handel oor Trudie wat vir jare lank fisies en emosioneel deur haar man aangerand is. Een aand, tydens ‘n hewige argument, steek sy hom met ‘n mes in die rug. Sy en haar volwasse seun, Francois, moet planne beraam om van die lyk ontslae te raak, maar sit met die bemoeisieke buurvrou Charmaine wat alles raaksien én –luister. Dit is ‘n gitswart komedie wat enduit boei met humoristiese en natuurlike radiodialoog.

Zelda Bezuidenhout se As ‘n kind kom kuier handel oor ‘n terminale kankerlyer, Elna, wat as weduwee alleen in Northcliff woon. Een aand “besoek” ‘n inbreker, Dollar, haar en haar versorger, Vanessa. Dit is ‘n besoek wat al drie se lewens handomkeer verander. ‘n Boeiende drama propvol patos.

Koue kaiings deur Lee Doubell is ‘n spookstorie met ‘n verskil. Vyf jong mans is in die laat jare 70 op pad na Upington om vir hul nasionale diensplig aan te meld. Hulle is almal kleurvolle karakters wat nie alslag besef wat vir hulle voorlê nie. Die intrige is meesleurend, amper filmies, en dit is ‘n verhaal gevul met humor en nostalgie.

In Wilmi Wheeler se Die huisbesoek roep ‘n vrou met huweliksprobleme, Celia, die hulp van die dorp se jong, vroulike leraar in. Nie sy of die leraar besef werklik wat aan die gang is nie. In hierdie slim sielkundige riller met sy treffende slot sal die luisteraar sy ore nie glo nie.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 23 jaar oud en daar was altesame agttien finaliste. Die totale prysgeld is R90 000, maar die skrywers word ook weer betaal wanneer hul dramas uitgesaai word.

 Die wendramas sal van April 2020 in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2020 gehoor word.

Daar was vanjaar twee rondes met twee afsonderlike panele beoordelaars. Na die eerste ronde van beoordeling is agttien tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp is. Die finale tekste is toe aan ‘n nuwe paneel beoordelaars gestuur. In elke ronde is die tekste anoniem beoordeel.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar 122 inskrywings ontvang.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, was die beoordelaars veral beïndruk met die gehalte van die inskrywings en het gereken dat enigeen van die finalistekste die potensiaal het om as wenner uit die stryd te tree.

Burger sê ook dat dit opmerklik is hoeveel van die finaliste die gratis slypskole bygewoon het. Die praktiese inslag van die slypskole bied aan voornemende skrywers al die nodige vaardighede om in die kompetisie uit te blink.

Soos in die verlede, sal die finalisdramas dan ook mettertyd op RSG geskeduleer en uitgesaai word.