Joernalis wen radiodrama kompetisie


RSG SANLAM RADIODRAMA-SKRYFKOMPETISIE 2018

Joernalis maak skoonskip in radiodrama-kompetisie

Sophia van Taak. Sy het in 2002 haar B.Phil-honneursgraad in die Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Sedertdien het sy vir verskeie publikasies gewerk. Tans is sy ‘n joernalis by die reistydskrif Weg en een van die aanbieders van die TV-reisprogram Weg Agterpaaie. Anders geveer is haar derde radiodrama. Verlede jaar het haar radiodrama, Springgety, die derde plek behaal in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie. Sy is 37 jaar oud.

Die joernalis en TV-aanbieder Sophia van Taak is die wenner van die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie 2018 met haar drama, Anders geveer. Die 37-jarige skrywer ontvang R37 000. Dit is Van Taak se derde radiodrama. Sy het verlede jaar die derde plek in die kompetisie behaal met Springgety.

Anders geveer handel oor ‘n sewentienjarige seun wat aan Aspergersindroom ly en is deur die beoordelaars geloof vir die sensitiewe manier waarop dit die sindroom uitbeeld, asook vir die slim dialoog en uitstekende karakterisering.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 22 jaar oud met ‘n totale prysgeld van R100 000.

HERMAN CRONJé het as vyfjarige kind ‘n liefde vir skryf ontwikkel toe hy ‘n tikmasjien as geskenk ontvang het. Hy het op ‘n plaas in die Vrystaat grootgeword en later in Harrismith. Hy het ingenieurswese aan Tukkies studeer en vanjaar na Kaapstad verhuis waar hy die RSG Sanlam radiodrama-slypskool bygewoon het. Die Selle is sy debuut-radiodrama en hy is 31 jaar oud.

Die tweede plek behoort aan Herman Cronjé, wat R30 000 se prysgeld ontvang vir sy debuut-radiodrama, Die selle. Die drama is ‘n komiese wetenskapsfiksieverhaal wat handel oor ‘n vrou wat haar man, ‘n bombastiese narsis, met ‘n nuwe rewolusionêre prosedure laat “kloon”. Die beoordelaars het dit geloof vir die “vars benadering tot humor en die invloed van die wetenskap”.

Cronjé het aan Tukkies in die ingenieurswese gestudeer, maar al as vyfjarige kind ‘n liefde vir skryf ontwikkel toe hy ‘n tikmasjien as geskenk ontvang het. Hy het vroeër vanjaar RSG en Sanlam se gratis radiodrama-slypskool bygewoon en dadelik begin skryf.

ESTA STEYN het in 2017 as radiodramaturg gedebuteer toe RSG haar Paasdrama, Die Herbergier, uitgesaai het. Sy het na skool in haar pa se saagmeule as boekhoudster begin werk en kortverhale vir Huisgenoot en Sarie begin skryf. Sy was toe net negentien jaar oud. TV-kykers sal haar gewilde reeks Meeulanders onthou. Sy is ook die skrywer van onder andere Die grafte jubel en Droomdelwers (wat op RSG voorgelees is). Sy is 72 jaar oud.

In die derde plek is die Weskusskrywer Esta Steyn met Ontruim. Haar prysgeld is R18 000. Ontruim is ‘n komiese liefdesdrama oor ‘n egpaar wat na 47 jaar hul huis moet oppak en verlaat. Die beoordelaars het die drama geloof vir die knap manier waarop dit die humor en oppe en affe van ‘n verhouding uitbeeld, asook vir die roerende slottoneel.

Die 72-jarige Steyn het verlede jaar as radiodramaturg gedebuteer met die Paasdrama Die Herbergier. TV-kykers sal haar gewilde reeks Meeulanders onthou, asook die boek Droomdelwers wat op RSG voorgelees is.

ANNA GREENFIELD is 29 jaar oud en het onlangs mamma geword. Sy beskryf dit as “die grootste prys wat enigieman kan wen”. Sy huil baie maklik en praat graag oor haarself in die derde persoon. Sy het verlede jaar die RSG Sanlam radiodrama-slypskool bygewoon en Liewe Pynappel is haar tweede radiodrama.

Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is vanjaar Anna Greenfield met Liewe Pynappel, waarvoor sy R15 000 ontvang. ‘n Ietwat siniese, jong swanger vrou is totaal toegewyd aan haar ongebore baba en glo dat mans nie meer tot liefde in staat is nie. Totdat sy haar jonger sussie se kêrel beter leer ken…

Liewe Pynappel is Greenfield se tweede radiodrama, nadat sy ook RSG en Sanlam se radiodrama-slypskool bygewoon het. Dit word beskryf as ‘n moderne en amusante storie en in sy genre ‘n juweel.

Die totale prysgeld was verlede jaar R90 000, maar is vanjaar tot R100 000 verhoog om die beste Afrikaanse dramatekste vir radio te bekroon.

Buiten die prysgeld word die vier wendramas ook op RSG uitgesaai. Die wendramas sal van April 2019 in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2019 gehoor word.

Daar was vanjaar twee rondes met twee afsonderlike panele beoordelaars. Na die eerste ronde van beoordeling is sestien tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp is. Die finale tekste is toe aan ‘n nuwe paneel beoordelaars gestuur. In elke ronde is die tekste anoniem beoordeel.

Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar 124 inskrywings ontvang.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, was die beoordelaars veral beïndruk met die innoverende en verskeidenheid van temas wat die skrywers aangepak het. “Die beoordelaars het die oplewing in goeie komiese dramas geniet. Nie alle skrywers slaag altyd daarin om vars komedie te skryf nie, maar die beoordelaarsverslae het die komedie en klugtigheid geloof.”

Burger sê ook daar is ‘n nuwe tendens dat skrywers die radiomedium benut en dramas skryf wat klankdrama ten volle verken. “Dit is asof die skrywers nou die regisseurs begin uitdaag met uitdagende milieus, temas en klanklandskappe. Dit is asof die stories al verder wegbeweeg van die kombuistafel. Ons glo ook dat die luisteraars ook hierdie nuwe geslag skrywers en stories sal geniet.”

Vinnige oorsig:

  1. Die kompetisie is vanjaar 22 jaar oud.
  2. Daar was 124 inskrywings.
  3. Daar was twee rondes van beoordeling, albei anoniem. Na die eerste ronde is daar 16 finaliste gekies, op grond van punte-totaal. Die 16 skrywers het mentorskap ontvang en kon verder skaaf aan hul tekste. Toe het ‘n tweede (en nuwe paneel) beoordelaars gelees en is die wenners op grond van punte-totaal aangewys.
  4. Die totale prysgeld is R100 000. DANKIE SANLAM!
  5. Die wendramas is vanaf April 2019 op lug – deel van die Eerste Radioteater-seisoen van 2019.
  6. 75% van die wenners het RSG en Sanlam se gratis radiodrama-slypskool bygewoon.