‘Spesiaal Geblik’ is loslittige prulspel


Donderdag 13 Desember: GEBLIK deur Esther von Waltsleben

Esther von Waltsleben is ’n gedugte verhoogaktrise bekend om haar komiese solovertonings, maar het ook al in verskeie RSG-dramas soos die onlangse Die reine waarheid en die vervolgverhaal Die duiwehok gespeel. Haar debuut-radiodrama, Geblik, is klugtige komedie propvol kinkels en kabels.

Die storie

Frank Powell is ‘n bekommerde sakemagnaat  en die grootbaas van die De-Lish restaurantkettinggroep. Hy stuur sy loskop-stralerjakker-seun, Jonathan, om onder die dekmantel van gehaltebeheer een van die takke te gaan besoek om vas te stel waarom dit nie so goed vaar nie. Die ambisieuse Gavin vergesel Jonathan op die spioenasietog na Blikfontein waar die tweetjies gou besef dat sake ook vir hulle gaan skeefloop…

Regisseursnota (Johan Rademan)

Spesiaal Geblik vir ‘n loslittige prulspel in die vakansieseisoen in Suid-Afrika – só kan ‘n mens kyk na Esther von Waltsleben se radioteater wat sy in Blikfontein iewers in die Noord-Kaap laat afspeel.

Die grootbaas van De-Lish, Frank Powell (Deon Lotz) besluit om sy  franchise se sakebelange te beskerm en stuur sy seun, Jonathan Powell (Wilhelm van der Walt) en jong ambisieuese werksvriend, Gavin (De Klerk Oelofsen) na Blikfontein om op die De-Lish restaurant te spioeneer.

Slim vang sy baas wanneer die twee jong jukkerige mannetjies met hul eie agendas hul  vasloop teen die restauranteienaar, Abel Koster (Andre Samuels) en sy oorlede vrou se 2 Koster-dogters, Roxanne (Mariechen Vosloo) en Cat (Karli Heine).

Die twee jaag die hormone behoorlik op en Abel se 2de vrou, Tamara Koster (June van Merch) laat ook nie op haar wag om dalk in die guns van die jong mans te beland nie. Matilda Koster (Juanita Swanepoel) keer egter die appelkar om, wanneer dinge hand-uit ruk, al is dit ‘n werklheidskim waarvan ons praat.

‘n Paar belangrike lewenslesse kom in die drama na vore.

So in die vakansiestemming kan jy boonop die musiek van die legendariese Bobby Hendricks ook hoor.

 

GEBLIK-geselskap: (agter) Deon Lotz (Frank Powell, grootbaas van De-Lish), Juanita Swanepoel, Mariechen Vosloo, June van Merch, Johan Rademan (RSG-regie), Andre Samuels. Voor: Karli Heine, Wilhelm van der Walt en Cassi Lowers (SABC-produksie)

Ambisieuse jong sakevennoot, grootbaas van die De-Lish en sy stalerjakker-seun: De Klerk Oelofsen, Deon Lotz en Wilhelm van der Walt in die Seepuntdrama-ateljee van RSG

De Klerk Oelofsen (jong vennoot) en Pa en Seun, Deon Lotz en Wilhelm van der Walt, tydens die opname van RSG Drama se produksie, GEBLIK uit die pen van Esther von Waltsleben

Restaurant-eienaar, sy twee dogters en sy eks-vrou: André Samuels, Mariechen Vosloo, Karli Heine en Juanita Swanepoel.

Die restaurant-eienaar se twee dogters en sy tweede vrou: Karli Heine, June van Merch en Mariechen Vosloo soek na ‘n oplossing vir hul dilemma in GEBLIK