‘Gert Garries, ‘n Baaisiekel Blues’: Luister weer


As jy die uitsending van Gert Garries. ‘n Baasiekel-blues, misgeloop het, kan jy hier na dié besonderse drama luister.Eben Cruywagen het die Hertzogpryswennende verhoogdrama deur Pieter Fourie – wat Fourie geskryf het in reaksie op Ettiene Leroux se Hertzogpryswennende roman Magersfontein, O Magersfontein – vir radio verwerk.

Johan Rademan, regisseur skryf:

Pieter Fourie het as dramaturg geen bekendstelling nodig nie. Met ‘n rits bekroonde verhoogdramas en digbundels is hy ‘n skerp waarnemer van die platteland en sy bewoners. Aards, uitdagend, ironiserend, eksoties en dikwels, met ‘n stedelike inslag, plaas toe verplaas. Sonder twyfel dan ook verdelende inhoud van Leroux en Fourie as ooreenkomste in hul werk wat deur Fourie aangespreek en uitgdaag word.

Is dit wat Pieter Fourie genoop het om Gert Garries. ‘n Baaisiekel-blues in 2002 vir die KKNK kunstefees so te skryf?

‘n Teenvoeter vir die oorgeromantiseerde plaasroman styl. Beide gebruik die platteland tog as basis om stedelike moderne werklikhede in te laat ontvou. Soms makaber, soms absurd, maar dikwels ook ontstellend realisties.

Nog ‘n ooreenkoms tussen Leroux en Fourie is as Hertzogpryswenners. In 1964 en 1976, met Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein, o Magersfontein! vir Ettiene Leroux, terwyl Pieter Fourie ook later ‘n Hertzogprys ontvang vir sy drama oeuvre in 2003.

Terloops: Magersfontein is ongewens verklaar deur die sensuurraad in 1978 en in 1980 weer “ontban”, terwyl Pieter Fourie se drama Die Plaasvervangers in 1979 deur die Administrateur van die Kaap, Lapa Munnik, verbied is omdat dit te “omstrede” sou wees.

Gert Garries wat in opdrag van RSG Drama deur Eben Cruywagen van verhoogteks na ‘n radioteater getransponeer is, bring amper ‘n derde dimensie na vore uit die oorspronklike Leroux-stof wat herbewerk is deur Fourie en dan nog ‘n bietjie genre-bemesting gegee word deur Cruywagen via sy aanpassing vir die radiomedium, sodat ‘n vrugbare uitvloeisel tot wasdom kom as radioteater.

Chris van Niekerk – sy uitmuntende spel as voorleser, verteller en regisseur van die filmspan wat Magersfontein. O Magersfontein se veldslag kom verfilm kom as geen verrassing van die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur nie.

Die verteller/regisseur, vertolk deur Chris van Niekerk, lei juis die drama in met die volgende dialoog: “Ek is die regisseur van die gebeure wat oor die volgende uur of wat gaan ontvou. ‘n Baldadige reaksie , kan jy maar sê, op Magersfontein, o Magersfontein! deur die gevierde Afrikaanse skrywer, Ettienne Leroux. En heel gepas…lig ek u in, want nie almal kan die lewe so fyn waarneem soos ek nie…sit ek baie gemaklik en ietwat uit die oog sodat ek nie my karakters in my verhaal intimideer nie, in ‘n opvou seilstoel soos die wat tradisioneel op ‘n filmstel tot beskikking van die regisseur is.”

 Die verteller word dan eweneens die lens waardeur die luisteraar “kyk” en teken met woorde die karakters.

Die karakters het ‘n monumentale uitdaging om ‘n film binne ‘n film te laat ontvou; om in gesprek te tree namens Pieter Fourie met die gebeure in Magersfontein, o Magersfontein!

Op ‘n sekere vlak is dit nie net Leroux se gegewe nie, maar die werklike slag en die gepaardgaande verdeeldheid voor die veldslag tussen Generaals Piet Cronje en Koos de la Rey waar Pres Steyn moes ingryp en die onkonvensionele taktiek van De la Rey moes kies en om nie, soos Cronje dit wou gehad het nie, die die hoogste koppies te beset nie,  maar laer aan die voetheuwels loopgrawe as teenvoeter teen die Engelse grofgeskut aan te wend. De la Rey was bang die boeremagte sou uitgelewer wees op die koppies en was toe uiteindelik reg. Magersfontein is een van die Boeremagte se 3 verworwe veldslae in een week en wat vandag nog as “Black Week” deur die Britte onthou word. Die veldslae het met die uitbreek van die ABO in 1899, 120 jaar gelde plaasgevind.

En dit bring ons by die kwessie van kleur in Gert Garries. ‘n Baaisiekel-blues.

Fourie gaan uiters slim om met net 4 karakters

Volhuis: Die span wat lewe moes inblaas in Gert Garries – ‘n Baaisiekel-blues deur die dramaturg Pieter Fourie vir RSG verwerk deur Eben Cruywagen. Vlnr: Alan Committie (Lord Seldom), Cassi Lowers( tegnies), Leon Kruger (Spietkop Le Grange), Johan Rademan (Regisseur), Chris Majiedt (Gert Garries) en Gcobani Ndabeni (Chaffeur).

Die verteller, wat dan regisseur is van die gebeure , maar ook slaan op die filmspanregisseur wat jare later in die apartheidsera Suid-Afrika kom besoek om ‘n film te skiet oor die Slag van Magersfontein.

Gert Garries (Chris Majiedt) speel ‘n bruinman op ‘n fiets wat slingerend aangery kom. Die verteller merk ‘n bondeltjie in lap toegedraai agter op die bagasierak en ‘n seilwatersak voor aan die fiets se handvatsels. Die bondeltjie in lap toegedraai is ‘n babalykie wat hy probeer begrawe kry, maar van bakboord na stuurboord gestuur word om ‘n doodsertifikaat te kry. Staal jou vir ‘n meesterlike vertolking van Chris Majiedt.

Gert Garries se pad kruis met Konstabel Le Grange wat op ‘n snikhete dag net buite Modderrivier wegkruip agter ‘n groot reklamebord en wag op sy prooi. Helaas betrap  hy Gert Garries sonder ‘n lisensie en reik, in triplikaat, ‘n boete uit. Na ‘n gesprek met Gert vind hy uit van die lykie en kan hy agv ordonnansies en protokol nie die boete uit jammerte kanselleer nie.

Le Grange, die spietkop, wat die ou staatsdiens vergestalt, word met oortuigende wit handskoene en sonbril, deur sy passies geneem deur Leon Kruger.

Konstabel Le Grange speel die rol van die groeiende en bewuswordende staatsdienswerker wat deur status en mag oorrompel word, maar tog sensitief terugkrabbel wanneer dit nodig is. Kruger lewer weergalose sensitiewe spel in die rol.

‘n Stoet van 7 motors(die filmspan) jaag teen ‘n reuse spoed verby en Le Grange besef hier is iets “ampteliks” aan die stoet en spring, met loeiende sirene begeleiding, voor die stoet in. Hulle kom tot stilstand voor die naambord Magersfontein waar Gert weer opvang en deur Le Grange genooi word om agter die stoet aan te ry…met sy Baaisiekel!

Die versterkwater in die seilsak doen sy ding en later sluit Gert Garries hoopvol aan nadat die optog reeds tot stilstand gekom het by die dorpshotel.

Alan Committie in sy debuut rol vir radio as Lord Seldom klink ‘n glasie met Chris Majiedt wat die gelyknamige rol in Gert Garries. ‘n Baaisiekel-blues uit die pen van Pieter Fourie speel. In die RSG Drama-ateljee in Seepunt Kaapstad.

Hier ontmoet hy Lord Sudden (Alan Committie) wat uit Engeland gereis het om die film te kom skiet en Gert word terstond genooi vir ‘n keurige rooiwyn met Lord Sudden wat hom ‘n rol as boerekryger met sy bondeltjie wat hy dink  “knapsack, beskuit en biltong” is, aanbied. Hy versoek ook dat hy asseblief sy uniform/kostuum wat hy aan het moet aanhou vir die rol die volgende dag. Sy vuil verslonste klere is vir vir hom outentiek “The typical Boer. In rags and tatters like a tramp. Battered and impoverished”

Alan Committie het juis onlangs ‘n tour de force in die rol van King Richard III in Maynardville gelewer en die verdeelde werklikhede syfer ook deur na sy vertolking as Lord Sudden in sy debuut radioteater en sorg ongetwyfeld vir ‘n kameerolletjie.  “Now is the winter of our discontent” en “ a horse, a horse, my kingdom for a horse” uit Shakespeare se pen sluit onbewustelik aan by Ettiene Leroux, Pieter Fourie en Eben Cruywagen se transisie na die radiodrama.

Alan Committie luister aandagtig na regisseur Johan Rademan, tydens die opname van Gert Garries. Chris Majiedt, wat die rol van Garries vertolk kyk toe.

Net wanneer jy gewonder het of Leroux se bekende bril ‘n rol gaan speel is dit bewustelik of onbewustelik op die neus van ‘n swart Chaffeur( Gcobani Ndabeni) geplaas wat in voetgangerstyl deur die gebeure loop met sy eie agenda. Simbolies van sy status en posisie in die tyd waarin die drama afspeel, wag hy geduldig op dinge om te gebeur en is daar iets profeties in sy optrede wat amper ongemerk deur die meeste ander karakters, behalwe Gert Garries ervaar word.

Die teks vir die radiodrama het talle moontlikhede. Eers is daar die gesprek tussen Fourie en Leroux, dan tussen Cruywagen en Fourie en uiteindelik die opdrag en gesprek van die regisseur met die medium.

Chris Majiedt en produksie-regisseur,Cassi Lowers, werk aan die byklanke van die fiets waarmee Gert Garries moet reis om sy kind te begrawe.

RSG bied by uitstek verdere genre-ontginning, want die voorlesings van romans, prosa, novelles en kortverhale kom hier tersprake. Die gehalte vertolking van Chris van Niekerk kon die style van voorleser en akteur en spel oorbrug en die teks kon dit selfs verder neem na ‘n filmiese styl t.o.v regie wat aansluit by die filmspan en die makabere gebeure wat ontwikkel.

‘n Groot verantwoordelikheid op my skouers om met ikone se stof te werk, maar ook om hulde te bring deur vernuwend te dink en te verpak in nuwe tye…vir eers.

Ek wonder wat Etienne Leroux vandag sou dink, want hy het 30 jaar gelede in 1989 reeds gesterf. Trots op Fourie en met ‘n vorm van berusting ook, glo ek.

Pieter Fourie wat op 3 April 1940 gebore is het die skool as 16-jarige met St 8 verlaat en as briewebesteller en klerk in die poskantoor op Koffiefontein gaan werk.

Gcobani Ndabeni en Allan Committie lag lekker in hul debuutrolle vir radio, terwyl Johan Rademan ‘n paar byklanke-truuks verduidelik en die veteran akteur Chris Majiedt hom geniet in die rol van waarnemer.

Etienne Leroux het hom aangemoedig om weer skool toe te gaan, wat hy toe as 19-jarige gedoen het. Hy studeer in Afrikaans en Engels en behaal die graad B-Honneurs aan die Universiteit van Stellenbosch.

Pieter Fourie is vandag bekend as een van Suid-Afrika se top dramaturge.