Bespreek nou vir 2020 Oppiwater Kunstefees


Bespreek nou vir die 2020 Oppiwater Kunstefees van 5 tot 10 April. Vanjaar vaar die MSC Orchestra van Kaapstad na Namibië, skryf Magdaleen Kruger, RSG stasiebestuurder. Sy vertel meer van dié fees.

”Dis nou die sewende jaar wat RSG en Lefra se kunsskippie, soos dit al onder ons  genoem word, die waters van die oseaan aandurf.

Sommige van julle is al gesoute RSG Oppiwater-feesgangers wat keer op keer kom saamvaar. Ander is vir die eerste keer op die vaart. So aan almal….welkom aan boord, ankers op en geniet elke oomblik.

Ek kon nog nie self so ‘n vaart meemaak nie, maar die terugvoer wat ek elke jaar kry, gee so ‘n warmte om die hart. Luisteraars geniet dit om met ons geliefde omroepers, akteurs en musiekmakers te kan kuier en selfs kopstukke te gesels in ‘n ontspanne en vrolike atmosfeer.

Ek verneem daar is ook al baie goeie en blywende vriendskappe gesmee tussen RSG-luisteraars wat een of ander tyd die Oppiwater Kunstefees meegemaak het.

My wens is dat vanjaar se Oppiwater Kunstefees vir jou verrykend sal wees en dat jy die teateraanbiedings sal geniet.

RSG-omroepers Johan Rademan, Suzaan Paxton, Jody Hendricks en Haidee Muller staan gereed om jou te ontmoet en saam te kuier. Ek kan jou verseker, elkeen van hulle het ‘n talent waarvan julle nog nie weet nie……hou maar dop; dalk kry jy kans om dit te ervaar.

Ek laat jou met iets om te ontrafel tydens vanjaar se Oppiwater Kunstefees…probeer om elke omroeper by die korrekte beskrywing te voeg.

  • Die een sal saam met jou oor die relings hang en alles van die seelewe om die boot kan vertel
  • Die ander een sal tot ounag toe stories van unieke en inspirerende mense kan vertel en lekker uit die maag uit lag
  • Dan is daar die een wat heeltyd selfies saam met jou of die skip of die see sal neem
  • En dan die ander een wat die kwinkslae uitryg, wat vir jou op verre reise sal neem en wat ‘n paar rugbygeheime kan uitlap. Maar hy stop nie met sy stories nie, tensy jy hom gaan stop nie. Anders gaan jy nooit slaap nie.

Geniet die vaart saam met jou RSG-familie en vertel vir ons hoe dit was wanneer jy weer voet aan wal sit in Kaapstad.

Klik hier om die volledige program af te laai:
Oppiwater_Kunstefees_2020_-_Program

Besoek die Oppiwater webwerf waar jy jou plek op die vaart en kaartjies vir die kunstefees kan bespreek.

Hier is enkele van die produksies wat op die fees aangebied word: