David Kramer se ‘Wakkerslaap’ CD is welkome bries


Dit was vir RSG ‘n groot voorreg om onlangs met die ikoon David Kramer te kon hande vat in die opneem (by die SAUK se atljee in Seepunt) van sy eerste CD in 10 jaar.

David is nie net ‘n sanger of ‘n liedjieskrywer nie, hy is ‘n egte kunstenaar. Dié skepper van treffers soos Royal Hotel, Stoksielalleen, Meisie Sonner Sokkies en Skipskop is na veertig jaar in die musiekbedryf nog een van die mees suksesvolle en gerespekteerder kunstenaars wat in Afrikaans skryf, komponeer en sing.

(Luister hier na die volledige onderhoud wat Johan Rademan met David Kramer gevoer het met die bekendstelling van die CD op Oggend op RSG op 27 September.)

Welkome bries
Vir RSG is hierdie CD met die naam Wakkerslaap ‘n welkome briesie oor die landskap van gemiddelde tot swak Afrikaanse musiek-aanbod wat ons dikwels oorspoel. Laat ek vining byvoeg, daar is darem ook ander goeie Afrikaanse liedjieskrywers, komponiste en sangers.

Wakkerslaap bevat twaalf nuwe liedjies geskryf in David se unieke storievertelskryfstyl.

Die titelsnit is, soos met Die Verlosser, ‘n verwerking van die ou bybel-mite van Abraham en Izak. Een van die temas op die album is verlange na plekke, ou liefdes en die uitbundigheid van jeug. Dit is ook ‘n blik op oud word en passies wat nog soos uitgebrande kole nog smeul.

Musiek is tipies Kramer
Die musiek is tipies Kramer met inheemse invloede van vastrap en rieldans ingemeng met die “folk-rock” klank van banjo en viool. Daar is ook die blues-beïnvloede, Calvinia, wat spesiaal vir Ruth Marley van die Sonskyn Susters geskryf is. Toe Ruth die liedjie in Karoo Kitaar Blues sing, het sy elke aand ‘n staande ovasie van die gehoor gekry.

Voorsmakie
Luister na twee snitte van die CD:

Wakkerslaap is te koop by winkels wat CDs verkoop en jy kan ook by David self uitvind waar jy die CD kan kry.

Hier is sy besonderhede:

David het twee facebook-blaaie: David Kramer en David J Kramer.

Volg hom op Instagram: davidjkramer

Sy webwerf is: davidkramer.co.za