Mondstuk: Charles Leonard spoel sy mond uit oor politiek en musiek


Vanaf 3 Julie moet jy regsit vir ʼn musiekprogram met ʼn verskil!

Ons het die samesteller en aanbieder Charles Leonard uitgevra oor MONDSTUK.

RSG: Waaroor is die program en wat is die idee daaragter?
CL:
Die program se naam is Mondstuk – dis enigiets van ‘n musikale mond uitspoel, vuurspoeg, galbraak, gekskeer, giggel tot ‘n fluister oor politiek, protes en die gemeenskap. Die inhoud is populêre musiek van regoor die wêreld uit elke moontlike genre, uitgevoer deur talle geslagte se musikante. Die politieke boodskap is blatant, subtiel, kwaad, patrioties, anti-establishment, sarkasties, hartseer en trots.

RSG: Musiek en politiek is twee baie uiteenlopende onderwerpe?
CL: Musiek en politiek word in baie kulture vermeng. Dit word soms gebruik om ‘n boodskap oor te dra, protes aan te teken, kommentaar te lewer en opinies te verander. Soms is musiek polities bloot oor die reaksie daarop, of die omgewing waarin dit oorgedra word.

Politiek en musiek is ou bedmaats. Die stories daaragter is wat dit selfs meer interessant maak. Ek glo en hoop dat die luisteraars dit interessant sal vind, iets daaruit sal leer en vermaak sal word.

RSG: Wat is jou gunstelingdeel van die program? 
CL: Ek leer ontsettend baie oor musiek en politiek. Dit is wonderlik om die stories, liedjies en boodskappe met die luisteraars te deel. Wat my verstom is hoe ‘n groot rol musiek regoor die wêreld speel. Daarom gaan daar musiek wees, nie net van voorspelbare plekke soos Suid-Afrika, Engeland of die VSA nie, maar selfs van lande soos Tibet, Ethiopië, Brasilië, Australië, die Kaap Verdiese Eilande, Japan, Nigerië, Chili, Pakistan, en nog meer. Dit verken ook verskillende genres – van rock tot pop, soul tot jazz, reggae tot hip-hop, en alles tussen-in.