Philip de Vos terug met program oor Johannes Brahms


Philip de Vos se reekse oor klassieke musiek is ou gunstelinge by ons luisteraars. Hy vertel meer oor sy nuwe reeks: Johannes Brahms – die musiek en die mens, wat Sondag 2 Julie om 10:00 begin.

‘n Jong Brahms

Soos in my vorige reekse gaan hierdie een oor die komponis se musiek, maar ook oor hom as mens. My eerste inspirasie was toe ek die briewe tussen hom en Clara Schumann raakgeloop het. Daarna het ek die heel beste biografieë oor hom begin lees en ʼn volledige stel CD’s van al sy komposisies aangekoop.

Wat ek die meeste van die reeks geniet is om my nuwe kennis te kan deel. Vir my was dit maande van vroeg opstaan en tot laataand werk, in ‘n tydperk waar ek byna oorweldig is deur feite en musiek wat ek nog nooit gehoor het nie. As dit by musiek kom, is ek net ʼn gewone man, nie ʼn musikus nie, maar ek hoop ek kan tog musiek toeganklik vir ander maak.

Brahms was ‘n vreemde mengsel van onbeskoftheid en goedhartigheid – ‘n man wat as’t ware agter ‘n yslike baard weggekruip het. Later in sy lewe het hy alle korrespondensie probeer vernietig en ander komposisies verbrand wat hy nie goed genoeg geag het nie – en alleen dit nagelaat soos hy wou hê ons hom moet onthou.

Ek hoop dat luisteraars hom as mens, asook sy musiek- die bekende en die onbekende – beter sal leer ken. Ek hoop om mense te laat besef dat daar veel, veel meer is as net die Hongaarse danse en die bekende wiegelied.