SAUK se orrel is gerestoureer


Daar is weer lewe in die orrelpype van die SAUK se 42-jaar oue pyp-orrel in M1 Ateljee in Aucklandpark. Dié orrel, na jare se verval, is die afgelope 2 jaar danksy die dryfkrag van RSG, gerestoureer.

Luister net: Tharien Oosthuizen, RSG se musiekopsteller, verlede week op die gerestoureerde orrel

Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG skryf in die RSG Nuusbrief van 31 Julie 2018:

“Gegroet hier vanaf my lessenaar in Radiopark hier in Auckland Park. Goeie nuus vir almal wat al navrae gerig het… ja, RSG Skatkis gaan weer aangebied word, en wel in November.

Ons gaan die SAUK se gerestoureerde en blinkgepoetse orrel inwy as deel van RSG Skatkis. Ek wil nou nie spog nie, maar RSG was ‘n groot dryfveer agter die restourasie-proses. ‘n Paar jaar gelede, met ons eerste RSG Kunstefees op lug, wou ons ‘n groot orrelwerk insluit. Toe kom ons agter die orrel werk al vir jare nie meer nie; dit sal eers herstel en gerestoureer moet word. RSG en ons kollega Suzette Lombard van die klassiekemusiek-biblioteek hier by die SAUK, het toe die wiel aan die rol gesit; die sakeplan en begroting is voorgelê en goedgekeur. En nou is ons gereed om die orrel in te wy, met ‘n groot orkes en al. En dis al wat ek vir eers kan uitlap.

Die geskiedenis van die orrel

Die orrel in sy volle glorie in die M1 ateljee van die SAUK in Aucklandpark tydens ‘n konsert in 1976.

In 1976 is een van die grootste plaaslik vervaardigde meganiese pyporrels in Suid-Afrika in die groot musiekateljee in die SAUK, in Aucklandpark, geïnstalleer.  Die orrel is deur Erwin Fehrle gebou.  Die orrel het twee speeltafels, een meganies en een elektries.

Die meganiese deel van die orrel is vasgebou aan die instrument (dis nou waar die pype is) en die eletriese speeltafel kan geskuif word.  Volgens Professor Albert Troskie se boek, Pyporrels in Suid-Afrika, het die orrel 4096 pype.

Bekende orreliste wat orreluitvoerings gegee het voordat die orrel vervalle geraak het was onder andere Diane Coutts, Wim Viljoen en Eddie Davey.

Die restourasie

Die orrel tydens restourasie

Die orrel het ongelukkig vervalle geraak, maar met RSG as dryfveer, is daar deur die SAUK se hoof musiekbiblioteekaresse, Suzette Lombard, ‘n grootse poging aangewend om die orrel te restoureer.  Die restourasie het langer as 2 jaar geneem.  Uiteindelik is die orrel nou weer speelbaar en daar word groot planne gemaak om dit te vier.

En nou…

Die orrel is nou toerus met onder andere ‘n iPod waarmee die orrel gestem kan word, ‘n plek waar jy ‘n geheuestokkie kan gebruik om jouself op te neem terwyl jy speel.  Jy kan dit dan vir jouself terugspeel, wat ‘n wonderlike manier is om ‘n nuwe werk te kan instudeer.  Daar is ook ‘n midi funksie geïnstalleer in die gerestoureerde orrel, om ander instrumente saam met die orrel dan te kan opneem.

Die orrel tydens restourasie

‘n Hele paar mense het al die geleentheid gehad om bietjie op die gerestoureerde orrel te gaan speel om alle probleme uit te sorteer voordat dit weer  vir orreluitvoerings gebruik word.

Dit is belangrik dat die orrel nou soveel moontlik gespeel word.  Enige musiek instrument word beter hoe meer dit gespeel word, dit hou die blaasbalke en pype skoon.

Die inwyding van die orrel

Die orrel sal in November op ‘n konsert as deel van RSG Skatkis se programme ingewy word.

Sodra ons gereed is met al die finale reëlings van RSG Skatkis wat vir November beplan word, sal die besonderhede op lug en ander mediums bekend gemaak en adverteer word.  Luisteraars sal dan uitgenooi word om hul plekke te bespreek.

Richard Cock was gretig om die gerestoureerde orrel uit te toets.

Tharien het ook agter die orrel-klawers ingeskuif.