Totsiens Tharien!


Tharien Oosthuizen, RSG se musiek-samesteller en ook regterhand met digitale werk, verlaat RSG. Vandag, 16 November, is haar laaste dag by ons. Sy is aangestel as Departementshoof van Musiek by Hoërskool Florida, waar sy haar passie om kinders aan die wonderwêreld van musiek bekend te stel, wil uitleef.

Só skryf Tharien oor die draaie wat sy geloop het en haar nuwe lewe:

Tharien (regs) by Katherine Jenkins

Ek het die eerste keer by die SAUK se musiekdepartement in 1991 begin werk, ná ek my B.Mus studies voltooi het.  Die musiekdepartement is in 1994 ontbind en toe word ek by Radio Suid-Afrika ingedeel as deel van hulle musiekopsteller span. In 1997 bedank ek by die SAUK en aanvaar ‘n pos in die musiekbiblioteek van UCT se konservatorium.  Ek het  wye draai geloop, van pampoene plant op ‘n plaas, musiek gegee by verskillende skole, skoolkore afgerig en toe uiteindelik weer in 2005 deel geword van die RSG-span.  Hier het ek die geleentheid gehad om my musiek en my liefde vir musiek uit te leef met die maak van verskillende programme, van ligte musiek (Viniel), na van my gunsteling programme, Dis klassiek, Oggendstemming, Laat ons sing en die musiekkeuses van Vers en klank.

Tharien toets die gerestoureerde orrel.

Hoogtepunte
Hoogtepunte is daar so baie van, maar ek kan defnitief iets uitlig soos my onderhoud met Katherine Jenkins, my besoek aan Londen en onderhoud met Michael Flatley voor hulle toer na Suid-Afrika met Lord of the Dance. Ek as aanbieder van spesiale Sondagreekse, soos Harmonie in die Halfsirkel, Die kuns van….,

Tharien en Charl du Plessis

Só maak mens musiek, Moederland komponiste en Vroue in harmonie.  Die RSG kunstefees op die lug saam met die Charl du Plessis Trio met Rapsodie op Gershwin en dan die absolute fees om deel te wees van die restourasie van die orrel in die M1 ateljee in Johannesburg en dan 13 November 2018 se Orrel opgesmuk konsert as deel van die RSG Skatkis.

Ek sal Magdaleen Krüger, bestuurder van RSG, altyd dankbaar wees vir haar vertroue in my en dat sy my toegelaat het om deel te wees van die wonderlike, dinamise RSG-span.  Ek sal dit vreeslik mis en ek sal altyd in my hart deel wees van die span.

As musikant leef ek my nog altyd uit in verskillende Simfonie Orkeste, my eie ensemble wat by verskeie kerke optree en iets wat elke jaar ‘n hoogtepunt is, Richard Cock se Orchestra from Scratch!

Tharien (agter in die middel) met Marius (regs) en hul dogters, Mart-Leen en Cara.

Dit is vir my ‘n passie om kinders aan die wonderwêreld van musiek bekend te stel en dit is nou hierdie passie wat ek as Departementshoof van Musiek by Hoërskool Florida gaan uitleef.  Dit gaan ook baie lekker wees om deel te wees van my kinders se skoolloopbaan. Hulle en Marius, wat al die afgelope 25 jaar my anderhelfte is, is my hele lewe.