Tranetrekkers = nuwe Sondag musiekreeks


Almal van ons het al saam met ‘n lied gehuil of ‘n traantjie gepink! Tranetrekkers is musiek wat ons in melankoliese en reflektiewe oomblikke luister. Vanaf Sondag 7 Julie begin ‘n nuwe musiekreeks deur Johan van Lill so net na 10 uur waar ons na musiek gaan luister wat ons al so diep geraak het of wat so gepas was vir wat op daardie stadium in jou lewe aan die gebeur was, dat jy nog jare daarna wanneer jy weer die liedjie hoor, nog steeds die herrinnering kan oproep en presies onthou oor hoekom daardie liedjie op daardie tydstip in jou lewe trane in jou oë laat opwel het.

Dink maar aan hoe sekere liedjies net wêreldbekend geword het na dit in ‘n montage in ‘n film gebruik is om ‘n katarsis-tydperk van ‘n karakter uit te beeld. Musiek uit flieks soos The notebook (2004), Terms of endearment (1983), Titanic (1997), Beaches (1988), Love story (1970), The fault in our stars (2014), Ghost (1990), Steel magnolias (1989) en Brokeback Mountain (2005) het ‘n nuwe belangstelling in die sogenaamde “tear jerker” wêreldwyd laat opvlam – in afrikaans, tranetrekkers.

Daar is ook musiek wat die hartseer van sekere visuele kunstenaars se werk besing, soos Don McLean se Vincent (Starry, Starry Night) geskoei op die bekende werk van Vincent van Gogh.

Ook Suid-Afrikaanse musiek het ‘n groot aanbod van tranetrekkers … van musiek wat destyds in Distrik Ses gehoor is, Kaapse Jazz tot wat in die musiek en liriekbeweging geskep is. Tranetrekkers is ookal gebruik as temaliedjies vir televisiereekse, dink maar aan Kinders van die wind en die klankbaan van Meisie van Avignon.

Daar is ook bekende musiekteaterstukke wat van die mooiste tranetrekkers opgelewer het, soos Blood Brothers, Les Miserables en Cats. Groepe soos ABBA en vele ander het ook vir ‘n groot verskeidenheid tranetrekkers gesorg, wat veral gewild is om na te luister na ‘n liefdesteleurstelling, wanneer jy verlang of by die dood van ‘n geliefde.

Die wêreld van opera het ook toeganklik tranetrekkers opgelewer wat ookal in bekende flieks ingespan is om karakters se emosionele reise te beskryf. Dink maar aan die gebruik van die Maria Callas vertolking van “La Mamma Morta in die rolprent Philadelphia.

Episode 1: Oorsig

In die eerste episode van Tranetrekkers gee Johan van Lill ‘n oorsig van liedjies uit die verskillende temas wat ons in die reeks na gaan luister. Ons begin by die Briels en Charles Jacobie wat hierdie genre aanvanklik oorheers het, luister na liedjies wat vertaal is en gesels oor tranetrekkers uit musiekteaterstukke, flieks, ballet en opera.