Vanaand: Oukersaand-konsert


Oukersaandkonsert op RSG saam met Salon Musiek

Maak seker dat jy op Oukersaand ingeskakel is op RSG vir van die mooiste tradisionele kersmelodieë, kompleet met ‘n koor, orkes en soliste. Salon Musiek-produksies en die Brooklyn-teater in Pretoria het goedgunstiglik hulle Kerskonsert 2018 vroeër die maand opgeneem en op aanvraag vir RSG beskikbaar gestel vir uitsending op Oukersaand. Hulle Kerskonserte word al vir die afgelope 20 jaar in Pretoria aangebied.

Aanvanklik is dié Kerskonserte in die ZK Matthews-ouditorium by Unisa aangebied met koor, soliste, orrel, klavier, asook ’n instrumentale solis van een of ander aard. Sedert 2010 word die konsert in die Brooklyn-teater aangebied.

Met die stigting van die Gauteng Filharmoniese Orkes is die Kerskonsert deel gemaak van die GPO-orkesprogram, wat sedert 2014 elk jaar ten minste vyf uitvoerings deur die loop van die jaar aanbied. Besoek gerus brooklyntheatre.co.za of skakel hulle by (012) 460 6033 vir enige inligting oor produksies, CDs,DVDs en bladmusiek.

Onthou om Oukersaand net na die 21:00 nuus op RSG ingeskakel te wees vir ‘n fees van tradisionele kersmusiek, uitgevoer deur die Gauteng Filharmoniese orkes, die Studio Chorale-koor, die mezzo sopraan Jolene McClelland en die bas-bariton Thomas Mohlamme. Die tenor Tinus Spiesen die trompetsolis Braam van Tonder maak ook ‘n buiging. Die dirigent is Eddie Clayton en verwerkings en orkestrasie vir die konsert si deur Willem Vogel en Eddie Clayton.

Hier is enkele van die kersmusiek wat jy op Oukersaand op RSG in die Salon Musiek Kerskonsert kan hoor: Somerkersfees, Adeste Fideles, Little Drummer Boy, O Holy Night, Duitse Kersfees-overture en Twelve Days of Christmas om enkeles te noem.