Wees gegroet Gentleman Wouter!


Wouter de Wet

Wouter de Wet, geliefde aanbieder van Dis Opera en Loof die Here, het ná meer as 50 jaar in die uitsaaibedryf, het nou finaal uitgetree. Hy het ná sy amptelike aftrede by die SAUK destyds, steeds voortgegaan om programme te maak en ook tennisverslae te lewer. Maar nou is dit tyd om die stokkie aan te gee. Ons gaan dié gentleman mis, en wens hom ‘n vreugde- en vredevolle aftrede toe.

Wouter skryf self oor sy liefde vir opera:
Waar my liefde vir opera vandaan kom, kan ek jou nie sê nie. Al wat ek onthou van my kleintyd was ‘n voorliefde vir soprano – veral as hulle hoog kon sing! Ek was nog op skool toe ek plate begin versamel het, grepe uit operas, en wanneer ek dit kon bekostig, ‘n volledige opname. En dan was dit my groot vreugde om op ‘n Vrydagaand skoolvriende na ons huis toe te nooi om vir hulle musiek te maak. My ‘opera-aande’ het in instelling geword.

Hierdie passie het voortgeduur. Toe programme soos U eie Keuse my kant toe gekom het, was ek in die sewende hemel. Om vir mense musiek te maak, hoe wonderlik! En toe, enkele jare gelede, het dit my beurt geword om Dis Opera op RSG aan te bied. Dit was ‘n droom wat bewaarheid is. My ideaal was om bekende arias te speel, wat luisteraars maklik kon herken, en dan weer om onbekende (mooi) musiek te speel sodat luisteraars kon dink: “O, ek hou daarvan. Miskien moet ek weer aanstaande Sondagaand inskakel…”

Nou is dit tyd om die leisels te laat gaan. Nie maklik nie. Dis Opera is in my bloed. Ek wens Charl van Heinigen alle sukses toe, en hoop hy sal dieselfde vreugde uit die program put, soos ek.

Lees ook:

Gentleman Wouter: méér as net operaliefhebber

Welkom Charl!