Skatkis 2019: die hele program


RSG SKATKIS 2019 (Let wel: die program is onderhewig aan verandering.)

RSG Skatkis is van 1 tot 4 Desember terug met ‘n spesiale klankbederf van musiek, woordkuns en drama. Daar is vanjaar 17 produksies, wat ses debute insluit. En die deelnemers wissel van dertien tot negentig jaar oud! Die gordyne word op Sondag 1 Desember gelig en sluit ‘n hele paar debute, verrassings en selfs ‘n konsert deur ‘n bekroonde wonderkind in. Sondag 1 Desember se program duur van 15:00 tot 18:30 en Maandag 2 Desember, Dinsdag 3 Desember van 19:00 tot 22:00 en Woensdag 4 Desember van 19:00 tot net na 21:00. Alle aanbiedinge is gratis en luisteraars kan wêreldwyd via RSG se webblad luister of op 100 tot 104 fm inskakel.

RSG Skatkis 2019 is moontlik gemaak deur ‘n borgskap van die Dagbreek Trust.

Luister na die aankondiging oor Skatkis 2019:

 

Woensdag 4 Desember 19:00 – 21:00

Voetsoldaat van die vers Debuut (POëSIE)

Met Clinton V. du Plessis en Dean Balie asook Cantona James as voorlesers.

Saamgestel en aangebied deur Frieda van den Heever

Clinton du Plessis

Die bundel Verslag word deur die dikwels miskende digter Clinton V. du Plessis as sy swanesang beskryf nadat hy vier dekades gelede met ‘n vers in die tydskrif Patrys gedebuteer het. Luister na van die mooiste gedigte uit Du Plessis se tiende bundel, voorgelees deur Dean Balie en Cantona James.

Kom vind ook meer uit oor hierdie “onderskatte voetsoldaat van die Afrikaanse lettere”: die kronkelende lewenspad, die amper uitgebrande kers, die spoorlyn, die doringdraad, die gebreekte glasbottel en uiteindelik die volledige katastrofie van die lewe.

 

19:30 DEURnis 1 – Winkelpop deur Braam van der Vyver (DRAMA)

Tiaan Slabbert

Met Tiaan Slabbert & Ben Pienaar.

Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen

Volgens Doon was dit liefde met die eerste oogopslag. Hy kon net nie ophou kyk na die beeldskone Nina nie. Elke week in ‘n ander ontwerpersuitrusting. Soms net in haar onderklere. Doon besef die tyd is nou ryp om vir Nina sy huis te gaan wys, maar om dit te kan doen, moet Hendri saam. As hy nie saamgaan nie, kan hy gaan klik. En dan gaan die hel losbars. Maar wie is die geheimsinnige Nina en wat weet Hendri wat ons nie mag weet nie?

Regie: Christelle Webb-Joubert.

Tiaan en Ben

20:00 Mike Wang-konsert (KLASSIEKE MUSIEK)

Mike Wang

Met Mike (Zi Ning) Wang

Die dertienjarige klavier-wonderkind Mike Wang was verlede jaar die algehele wenner van die Hennie Joubert-klavierkompetisie en het ook weggestap met drie spesiale pryse: die vertolking van ‘n prelude en fuga van J.S. Bach, die beste voordrag van ‘n virtuose étude, sowel as die beste voordrag van ‘n Suid-Afrikaanse komposisie.

Hy is ‘n graad 7-leerling by die Hendrik Louw Primêre Skool in die Strand en ‘n student van Mario Nell. Wang het reeds op vyfjarige ouderdom met klavierlesse begin. Hy het ook in 2017 die SAMRO Hubert van der Spuy-kompetisie gewen.

Wang het reeds op vyfjarige ouderdom met klavierlesse begin. Hy het ook in 2017 die SAMRO Hubert van der Spuy-kompetisie gewen.

Vir sy buiging op radio speel hy werke van Ravel, Beethoven, Schumann, Rachmaninoff asook ‘n gunsteling uit die rolprent The Sound of Music.

Regstreeks voor ‘n gehoor opgeneem met Mariëtta Kruger as gasvrou.

Hier is ‘n voorsmakie:

Mike Wang

21:00 RSG Skatkis sluit

Reeds afgehandel

Sondag 1 Desember 15:00 – 18:00

15:00 Libertaskoor 30 (MUSIEK)

O.l.v. Johan de Villiers (dirigent), Gerhard Niemand (klavier), Lionel Beukes (baskitaar) en Annemie Nel (slaginstrumente).

‘n Spesiale keur van werke vir RSG Skatkis 2019, met soliste en begeleiding wat enige koorliefhebber se oor sal streel.

Die stigting van die Libertaskoor, onder leiding van Johan de Villiers as dirigent en sy vrou, Louwina, as koorbestuurder, was ‘n direkte uitvloeisel uit die Vroue vir Suid-Afrika-beweging wat in 1989 ontstaan het.

Die Libertaskoor is bekend vir ‘n repetoire wat elemente bevat van top-koorwerke en om drie dekades te vier, is daar onder andere drie kontemporêre gewyde koorwerke, twee protesliedjies, ‘n afdeling in Afrikaans tot lof van ons land, treffers van Sting, Calum Scott en Billy Joel asook Miriam Makeba verwerk deur Ramon Alexander en twee Kersliedere wat Stille Nag insluit.

‘n Regstreekse opname met aanbieder Johan Rademan uit die Endlersaal, Stellenbosch.

16:30 Spoegrym Debuut (POëSIE)

Eloise Cupido

Met Eloise Cupido, Les Javan en Emma Bekker.

Saamgestel en aangebied deur Kobus Burger.

‘n Span kreatiewes draf met ‘n skêr en gom deur die digkuns. Soos die versreëls uitmekaar waai, word daar opnuut met die woord gewals en nuut geskep. En soos van die groot Beat-digters en selfs Nirvana se Kurt Cobain ontdek het, kan ‘n mens met hierdie klas versnippering ‘n ieder en ‘n elk verras.

Van Bertolt Brecht en R.K. Belcher se moppies tot DJ Opperman, Rumi en selfs Pablo Neruda beland in hierdie bredie.

Emma Bekker (digter), Eloise Cupido (aktrise en sangeres), Les Javan (klankbaankomponis) tydens die opname van RSG Skatkis se SPOEGRYM.

17:00 Majesteit die kat – Lina Spies Debuut (POëSIE)

Nic de Jager, Lina Spies, Johan Rademan.

Johan Rademan gesels met die digter Lina Spies oor haar liefde vir katte. Die akteur en voorleser Nic de Jager sit saam om met voorlesings om die tafel haar werke in te kleur.

Lina Sies is op 6 Maart 1939, die jaar waarin die Tweede Wêreldoorlog begin het, gebore.

Haar liefde vir katte is alombekend, maar ‘n sekere siklus en sluiting oor die naamgewing van haar katte is nou voltooi.

Die naam slaan reguit terug uit haar eerste digbundel, Digby Vergenoeg, wat in 1971 verskyn het uit die vers Vir Anne Frank van de Achterhuis in die strofe, “weer moes Peter maar vir Mouschi streel.”

Lina Spies het vanjaar haar 80ste verjaardag gevier.

 

17:30 DEURnis 1 – Bloos deur Johann Smith (DRAMA)

Roche v Blerk in Deurnis

DEURnis (‘n samevoeging van die woorde ‘deur’ en ‘deernis’) is grensverskuiwende teater wat verlede jaar met die kykNET Blou Fiësta-toekenning bekroon is vir die innoverende wyse waarop dit teatergrense beproef.

Dit is kort, plekspesifieke stukke waar die een akteur en een gehoorlid ‘n vorm van baie intieme teater beleef.

Vyf van hierdie stukke – Net, Student, Bloos, Die winkelpop en Toets – is nou spesiaal vir die radio verwerk, juis omdat radio so ‘n intieme medium is. Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen

In Bloos deur Johann Smith, is die akteurs Jacques Adriaanse en Roché van Blerk.

Jacques Adriaanse

Barend ontmoet iemand deur die gewilde toep Tinder en nooi haar na sy hotelkamer vir ‘n diskrete afspraak. Dit is nie iets wat jy van Barend sou verwag nie. Inteendeel, van Barend word nét die beste verwag.

Johann Smith

Sy hele lewe lank het hy die samelewing se verwagtings van hom oortref. Maar gaan die aand verloop soos hy dit beplan het? ‘n Teer drama met ‘n roerende wending. Slegs vir volwassenes.

Regie: Christelle Webb-Joubert

18:00 Skatkis sluit

Maandag 2 Desember 19:00 – 22:00

19:00 Woorde op akkoorde (MUSIEKTEATER / POëSIE)

Woorde op Akkoorde. Agter van links na regs is Frazer Barry en Churchill Naudé. Voor van links na regs is Hermien de Vos, Diana Ferrus, Jolyn Phillips en Deniel Barry.

Met Diana Ferrus, Frazer Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips, Deniel Barry en Hermien de Vos.

Ses bekroonde kreatiewe woordkunstenaars neem jou op ‘n musikale reis van woordkuns, sang, digkuns, dreunsang en rymklets. Hulle skep musiek met handgemaakte instrumente en rommel wat uit die see gespoel het. Woordkuns word verweef met harmoniese sang met ‘n Afrika-klankbaan as basis.

Die produksie is ‘n viering van ons geskiedenis, die natuur, ontwikkeling van alledaagse klanke, woordkuns, musiek en die mens se strewe om sin te maak van die lewe. Moeder Aarde en die gees van die letter is in gevaar, want “die mensdom het vergeet, ons woon op ’n planeet”.

Musiekregie: Frazer Barry

Klankingenieur en opname: Ricardo McCarthy

20:00 En toe kom Eva deur Joe Kleinhans Debuut (DRAMA)

Adam and Eve in die Tuin van Eden deur Peter Wenzel

Met Mandi Baard, Luan Jacobs, Louis van Niekerk, Stefan Vermaak, Johny Klein, Renske Jacobs en Martin Jansen.

Daar is haas geen mens op Aarde wat nie die verhaal van Adam en Eva al iewers gehoor of gelees het nie.

Joe Kleinhans se verhaal volg wél die breë skeppingsmite van die eerste mense op Aarde, maar met ’n bietjie humor en anachronistiese kinkels daarby: Eva sit op Adam se kop en sy boer met haar neus in perkamentrolle wat net deur mans geskryf is. Iets wat haar dwars in die krop steek. Sy sou graag meer opwinding wou beleef, maar Adam wil net hê sy moet gaan vrugte pluk en water haal. En boonop is hy ’n vrot vryer.

Die wyse uil probeer die saak beredder, want hy is deeglik bewus van die opdrag dat Adam en Eva, soos al God se skepsels, moet vrugbaar wees en vermeerder. Maar daar’s ’n uiters flambojante, romantiese vent wat by Eva vlerksleep en alles in sy vermoë doen om haar te verlei…

Regie: Eben Cruywagen

Die span van Eva: Agter is Renske Jacobs as Lig, Johny Klein as Uil en Luan Jacobs as Adam. Voor is Stefan Vermaak as Duiwel, die regisseur Eben Cruywagen, Mandi Baard as Eva, Louis van Niekerk as God en Martin Jansen as die Wag. Foto deur Kobus Burger

21:00 Nuus en weer

21:10 Argief-storie van Ferdinand Deist

21:20 Argief-storie van Ferdinand Deist

21:30 DEURnis 2 – Student deur Braam van der Vyver (DRAMA)

Juanita de Villiers

Met Juanita de Villiers & Jacques Adriaanse

Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen

Sonja werk al vir agt jaar lank in Potchefstroom se gastehuise. Haar ouers dink sy swot met prestasiebeurse en stuur steeds elke maand  sakgeld.

Volgens haar studeer sy menslike bewegingskunde. Daar is baie dinge wat sy vir haarself hou. Tot sy saam met iemand in ‘n gastehuis begin drink… Toé begin sy praat.

Braam van der Vyver

Slegs vir volwassenes.

Regie: Christelle Webb-Joubert.

Jacques en Juanita

22:00 RSG Skatkis sluit

DINSDAG 3 Desember 19:00 – 22:00

19:00 DEURnis 3 – Toets deur Johann Smith (DRAMA)

Roche v Blerk in Deurnis

 

Tiaan Slabbert

Johann Smith

Met Roché van Blerk en Tiaan Slabbert

Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen

Jana bied ekstra klasse vir ‘n leerder aan. Die onderwys is ‘n roeping en onderwysers maak groot opofferings. Hulle motiveer en inspireer.

Maar soms is dit wat ‘n onderwyseres kan bied, nie goed genoeg nie. En dan tuimel die hele kaartehuis ineen.

Regie: Christelle Webb-Joubert.

Tiaan en Roche

19:30 DEURnis 4 – Net deur Henque Heymans (DRAMA)

Juanita de Villiers

Henque Heymans

Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen

Met Ben Pienaar & Juanita de Villiers

‘n Sweefstokarties maak gereed vir sy heel laaste optrede. Karl was die land se heel voorste en gewildste kunstenaar in hierdie ysere dissipline.

Tot tien jaar gelede… Vandag probeer hy wéér dieselfde toertjie, sowat twintig meter bokant die grond en sonder ‘n net.

Hy word egter kort voor sy optrede deur iemand besoek wat hom met sy verlede konfronteer.

Regie: Christelle Webb-Joubert.

 

Ben Pienaar

Ben, Juanita en Jacques

20:00 Kitaarkonings Regstreeks uit Alteljee M1 Debuut (MUSIEK)

Schalk Joubert

Loki Rothman

Met Schalk Joubert (regisseur), Louis Mhlanga, Loki Rothman, Mauritz Lotz, Albert Frost, Guy Buttery en Kevin Gibson (slaginstrumente).

Altesame ses van Suid-Afrika se voorste en bekroonde kitaarspelers deel ‘n verhoog om die snare na nuwe hoogtes te voer.

Kevin Gibson

Met die hulp van die slaginstrumentalis Kevin Gibson gaan die sesstuks vingervirtuoiste van hul eie komposisies speel asook al tokkelend met mekaar in gesprek tree.

Albert Frost

Mauritz Lotz

Onder leiding van Schalk Joubert, die meester van die baskitaar en bekend om sy werk met internasionale groepe soos Crash Test Dummies, vorm die kitare ‘n koor wat koning gaan kraai!

Guy Buttery

Louis Mhlanga

21:10 Nuus

21:20 Stukkies in die legkaart van die lewe Debuut (PROSA)

Dolf van Niekerk

Met Dolf van Niekerk en Hans Strydom (voorleser).

Saamgestel en aangebied deur Ina Strydom.

Die veelsydige en veelbekroonde Dolf van Niekerk het vanjaar 90 jaar oud geword. Die stukke van die legkaart van sy lewe sluit onder meer sy loopbaan as omroeper en radiodramaturg in; sy loopbaan in die Departement van Landbou; sy doktorsgraad in die filosofie, en as voorloper en vernuwer in die letterkunde, is hy deel van die Sestigers.

Uit sy pen verskyn poësie, prosa en drama.

Onlangs is sy jeugherinneringe in ‘n bundel vervat met die titel Legkaart van ‘n jong lewe wat dié kort huldigingsprogram geïnspireer het.

Kom “luisterkuier” na voorlesings en vertellings oor van die invloede en indrukke wat die legkaart van sy lewe vorm.

22:00 Skatkis sluit