Luister weer: Herinneringe aan die Luxurama


As deel van die RSG 2016 Dokumentêre seisoen, word op Donderdagaand, 26 Januarie om agtuur aan die eertydse Luxurama – ’n eens omstrede, maar uiters gewilde teater in Wynberg – hulde gebring. Soveel Kaapse kunstenaars wat later groot internasionale name sou word, se loopbane het in hierdie teater begin.

Die Luxurama-teater of “The Lux” soos dit meestal bekend gestaan het, is in 1963 gebou deur Ronnie Quibell. Hy het later ook die Three Arts in Dieprivier begin.

Die Luxurama het in 1964 in Parkweg, Wynberg geopen. Dit was in die jare 60 een van die min teaters waar gemengde gehore na konserte kon kyk. Verskeie oorsese kunstenaars soos Tom Jones, Engelbert Humperdinck, The Troggs en Percy Sledge het hier opgetree.

“Where the Boys Are”, “Il Mondo”, “Spanish Eyes”, “Stay Beside Me”, “Puppy Love”, “My Life and Delilah”, was treffers wat deur plaaslike en internasionale kunstenaars in die Luxurama uitgevoer was. Name soos Connie Francis, Dusty Springfield, Engelbert Humperdink, Tom Jones, Percy Sledge, Peaches and Herp, Petula Clark, Jose Feliciano, Dobie Gray, Lovelace Watkins en vele meer, het by die Lux opgetree. Maar mense het ook graag daarheen gegaan om plaaslike talent soos Taliep Petersen, Zayn Adam, Jonathan Butler, Richard Jon Smith, Ricardo, Ronnie Joyce, Giempie Vardien, Terry Fortune, Terry Hector Smith en Lionel Petersen te sien optree.

Later is ook rolprente hier gewys en die teater was bekend vir sy reuse skerm wat hiervoor gebruik is. Dit is ook gebruik vir politieke samekomste van die United Democratic Front en ander.

Intussen het die teater in onbruik verval en dis in 2013 verkoop en daar is planne om dit vir ’n skool te gebruik.

Wanneer jy met mense oor die Luxurama praat, sal een die spieëlbal in die voorportaal onthou, en ’n ander hoe hy in die sestigerjare skool gebank en in die deftige teater gaan fliek het en dat dit die eerste teater in Kaapstad was met ’n draaiverhoog. Nog iemand dink aan die prettige aande wat hy saam met sy gesin hier deurgebring het.

Luister hier na ‘n uittreksel uit die dokumentêr:

Luister hier na die volledige program.

Die gebou staan nog in Parkstraat in Wynberg in die Kaap, al is dit erg vervalle. Die teater het in onbruik verval en die gebou is in 2013 verkoop om moontlik as ’n skool te gebruik.

 

Interessante feite oor deelnemers aan die program

Giempie Vardien (foto links) is in Distrik Ses gebore en het op die ouderdom van sewe begin sing. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy rol as een van die Sexy Boys in die oorspronklike David Kramer/Taliep Pietersen musiekdrama – District Six – The Musical.

Terry Fortune (foto middel) is ‘n veteraan van die plaaslike musiek- en vermaakbedryf en bekend vir sy rolle waarin hy vroulike karakters vertolk in verskillende musiekproduksies en in 2009 het hy ’n Fleur du Cap-toekenning gekry vir die beste vertolking in ’n musiekspel in die produksie Songbook.

Terry Fortune as Female impersonator

Terry Hector (foto regs) is ook ’n veteraan van die Kaapse musiek- en vermaakbedryf. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy rolle in David Kramer/Taliep Pietersen produksies soos District Six – The musical en was ook deel van die oorspronklike rolverdeling wat wêreldwyd getoer het.