Agter die inperking-skerms met RSG


RSG se omroepers, regisseurs en ander personeel moes vinnig aanpas tydens die vlak 5 en selfs die komende vlak 4 inperkings. Sommige werk van die huis af, maar ander moet die stasie op lug hou en moet dus inkom ateljee toe. Die vlak 4 inperkings maatreëls by RSG is eintlik grotendeels ‘n voorsetting van die graad 5 inperkings, maar ons kan darem nou begin om nuwe vervolgverhale en radiodramas op te neem.

Hier is ‘n kykie agter die skerms.

Stasiebestuurder Magdaleen Kruger (agter) en persoonlike assistent Janine Kerspuy met maskers en al.

Mariëtta Kruger en Willem Pelser bied Spitstyd aan.

Vandag is dit amptelik meer as 33 dae wat ek laas ons werf in die Paarl verlaat het. Dit is bietjie van ‘n uitdaging om elke keer my rolstoel oppad huis in te steriliseer, so my wederhelf doen inkopies indien enigsins nodig. Ek is dood gelukkig by die huis. Tussendeur werk word daar gebak en gebrou en interessante programme, dokumentêre en lokettreffers gekyk. Dit bly baie belangrik om gereeld te oefen, laatmiddag in die son te gaan sit en elke dag netjies aan te trek, grimering en al. My werkspasie is gemaklik met baie lig. Ten spyte van my MacBook Air se klein skerm, word daar geredigeer en onderhoude saamgestel. Daar word wyd en suid gelees vir inspirasie. My werk om jou, ons lojale luisteraar in te lig oor, nie net ons huidige wêreldkrisis nie, maar alles wat die wêreld nog laat draai gaan voort. Ek mis uitsaai vreeslik! Hopelik is ons binnekort weer in die ateljee besig om direk met jou te gesels. Intussen, bly asseblief veilig en gesond.

Nood leer bid. ‘ Kabeltjie hier, ‘n rekenaartjie daar en voeg alles bymekaar om steeds kwaliteitprogramme op RSG saam te stel. “Harde”tye laat ‘n mens gou “Sagte” ware in die tegnologie ontdek en siedaar – ‘n kantoor en semi-ateljee by die huis. Goed daar is ‘n paar ompaaie en dit is meer tydrowend, maar niks in die lewe kom maklik nie. Ons vat dit volvloer aan en ek het bv al 3 volledige Reisprogramme saamgestel deur hier te “transfer” daar te “rip” (sonder om te strip) en met whattsapp stemnotas ‘n paar onderhoude opgeneem o.a. met “Supervan” Sarel van der Merwe en internasionale Fietsryer, Johnny Koen. Saam sal ons die ding oorkom! Sterkte aan die kollegas en luisteraars. Bly veilig, was hande, hoes in die moue, lag met ‘n traan en behou daardie afstand met ‘n masker op. Grendelgroete. JR

Grendeltyd is nogal vasbyttyd. Die werk bly dieselfde, maar die omstandighede waarin dit gedoen word is so anders. Daar is geen klankdigte vertrek van waar ek bel om gaste vir die program te nooi nie. Die suksesvolste aanslag is om die luidsprekerfunksie op my foon te gebruik, sodat my tweejarige by die gesprek betrek kan word. Gelukkig hoor jy gereeld in die agtergrond hoe die lewe ook by ander huise aangaan. Soveel mense is in soortgelyke omstandighede. Ons deel ons van-die-huis-af-werk staaltjies en kry die besigheid gedoen. Professioneel bly binne die elke dag se menswees omstandighede vra nogal ‘n kopskuif. Van ‘n kleuter op jou en om jou, tot die wasmasjien afsit dat jy kan hoor wat ek sê wanneer ek vertel wat gons op Twitter. Dan moet jy duimvashou dat ‘n tweejarige opinie nie deel van die insetsel word nie. Dis ook nogal ‘n vreemde ervaring om nou heeltyd programmering te skep vir mense wat baie tyd het, terwyl jou eie ervaring van die periode so ver verwyderd is daarvan.

My eetkamertafel is nou ons kantoorspasie. Ek en Harry werk daar, maar aan weerskante van mekaar. Dit gaan heel goed, maar met opnames in MY geval, sukkel dit soms. Die hadidas kan genadeloos wees en soms is daar ander geraas, soos die honde wat blaf en duiwe wat kliphard koer op die telefoondraad. Ek neem my klank op in my garage, dis die beste en stilste plek – dis nou as die hadidas of duiwe nie BUITE die garage tekere gaan nie. Ek probeer hou by my roetine wat ek handhaaf het VOOR lockdown. Ek stort en trek eers aan en maak die kombuis skoon, voordat ek by die tafel gaan sit en werk. Dis asof die vuil kombuis my mal maak as ek dit nie skoonmaak voordat ek begin werk nie (ek kan dit sien vanaf die eetkamertafel). Ek sit maar oorfone op as ek werk, en beide ek en Harry hou om die beurt ‘n ogie oor Maddy, ons babadogter. Want, onthou kinders wil OOK aandag hê. EK vind dat dit soms die beste is om te begin werk wanneer almal nog slaap – vroegoggend. Dis nie altyd maklik om by jou werksroetine te hou as daar ‘n baba ook in die huis is nie, maar dan spring Harry in om te help wanneer ek klankpakkies dringend moet klaarkry. Hoe sê die Ingelsman? So far, so good.