My DDN-storie: Week 13 en Kaptein Von Trapp se fluitjie werk


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My dertiende week is glad nie ‘n ongelukkige week nie. Ek het Kaptein Von Trapp se fluitjie in die hande gekry en hard daarop vir myself geblaas. G’n nonsens nie, g’n verskonings nie. As iemand soos Martelize, wat in ‘n rolstoel is, kan oefen en selfverdedigingsklasse bywoon en Robbeneiland toe roei in ‘n kano en Italië toe reis en ‘n kosboek skryf, dan het ek wraggies geen verskoning om oefening te doen en gesonder te lewe nie.

Ek kon die week reeds drie keer oefen en voel heel in my skik met myself.

Só het my week#13 tot dusver verloop:
Kopplan:
My kop is reg. Kaptein Von Trapp se fluitjie het gewerk.

Oefenplan:
Ek het Sondag 2,1 km gedraf, en Dinsdag en Donderdag het Fredrika my sake gewerk dat my maagspiere skoon styf is.

Ek het Woensdag regstreeks my program in die ateljee gedoen met my gas in Pretoria.

Ek het gedink ek sou Saterdagoggend op Swellendam aan die Parkrun kan deelneem, want ek is gasspreker op die Vrouediens se afsluitingsfunksie vir die jaar. Maar ek gaan nie my draaie kry as ek nog wil Parkrun nie. Ek sal nog ‘n oefensessie elders oor die naweek inpas.

Eetplan:
Ek hou goed by ‘n gesonde eetplan, en het hierdie week doodseker gemaak ek eet genoeg vis – gelukkig is ek mal oor sushi.

Ná byna 13 weke (waarvan 3 weke oefeningloos weens griep) en 40 oefensessies:

is ek steeds 6 kg ligter en my middellyfmate is 7 cm minder. Ek is nou beslis op ‘n plato wat gewigsverlies betref, maar ek gaan my nou nie daardeur van stryk laat bring nie. Ek weet my brein sal een of ander tyd herprogrammeer.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.