My DDN-storie: my week#12 is maar ‘n genies en geproes


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My twaalfde week is driekwart en verloop glad nie goed nie. Ek het weer ‘n kiem opgetel. Seker in die vliegtuig of êrens in die Sondagsriviervallei toe ek vroeg in Oktober Kirkwood toe was vir my pa se 93ste verjaarsdag. Dit was ‘n week van nies en proes, en keelseer en ‘n stywe bors en baie Echinaeforce-druppels, maar die besigheid het gelukkig teen Woensdag sy draai gevat.

Nou moet ek ernstig aan myself erken dat dinge nie volgens plan verloop nie. Ek het dié week nog net een keer geoefen, en verlede week ook net een keer en die vorige week net twee keer. Ek moet erken dat ek, wat my kop betref, nog verbind is tot my aksieplan, maar dat my dade dit nie juis weerspieel nie. Ek eet so gesond moontlik, maar wat oefening betref, val ek uit die bus uit.

Net een oplossing: ek hys my eie wit vlag, vergewe myself, trek my gymklere aan en doen dit net. Finis en klaar.

Só het my week#12 tot dusver verloop:
Kopplan:
Die Kopplan vir week#11 is Vergewe jouself en gaan aan, en ek het hierdie woorde hierdie week heeltyd onthou.

Oefenplan:
Niks. Want ek is al weer siek. Toe neus, seer keel, stywe bors. Dus het ek nie geoefen nie. Veral nie buitentoe in in die wind en reën nie.

Ek het Woensdag regstreeks my program in die ateljee gedoen en omtrent gesweet toe my gas se telefoonlyn skielik doodgaan en ek nie seker is of die luisteraars hom ook nie kan hoor nie, of net ek. Dit het gebeur presies die oomblik toe Martelize uit die ateljee was om die nuusbulletyn te kry. Sekondes het soos ure gevoel, maar Martelize het in die ateljee ingejaag en die draaie gevat asof sy ‘n Ferrari ry om vinnig weer klank op die lug te kry.

Donderdagoggend was dit douvoordag op en in stad toe vir Praat Saam regstreeks op lug. Ek het die middag net eenvoudig my drafskoene en sweetpak aangetrek, die honde se leibande aangesit en vir 30 minute gestap en 15 minute gedraf. Ek het onmiddellik beter gevoel oor myself.

Vrydagoggend is dit deur stad toe vir ‘n video-opname vir ‘n TV-program oor Chris Barnard, dan ‘n onderhoud met ‘n oogarts oor strabisme oftewel skeelheid by kinders te gesels vir een van my volgende gesondheidsprogramme.

Dan gaan ek ook probeer om oor die naweek my oefenplan voort te sit. Dalk ‘n Parkrun stap? Volgende Saterdag wil ek die Parkrun op Swellendam doen.

Eetplan:
Ek hou goed by ‘n gesonde eetplan, maar was gister lus vir vars ciabatta met botter en appelkooskonfyt en het weggelê aan drie dikkerige snye.

Ná byna 11 weke (waarvan 3 weke oefeningloos weens griep) en 37 oefensessies:

  • gaan ek ondanks die teenspoed, nie tou opgooi nie

Ek is steeds 6 kg ligter en my middellyfmate is 7 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.