My DDN-storie: In my week#14 word sake warm


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My veertiende week verloop goed, al styg die temperature in die Paarl hierdie week skielik baie sterk. Die kraaie gaap behoorlik, en my tuin droog net verder uit. Ek weet nie hoe gaan my tuin teen Februarie volgende jaar lyk en of daar nog ‘n plant oor gaan wees nie. Daar het ‘n paar druppels reën Woensdagnag geval, maar beslis nie genoeg om enige verskil aan die damme te maak nie. Maar toe tref die donders en blitse die Boland Donderdagnag en die reën stort neer. My honde het styf langs my bed kom lê. Wat gaan aan met die weer? Die Boland is dan veronderstel om ‘n winterreëngebied te wees, en nie somer donderstorms nie?

Ek kon die week tot dusver twee keer oefen, al moes ek soms wag vir die dag om af te koel. Gelukkig het die gym lugreëling.

Só het my week#14 tot dusver verloop:

Kopplan: Hoewel my kop reg is, moes ek aanpas by die hitte. Later saans, vroeër soggens vir oefening.

Oefenplan:
Ek het Saterdagoggend ‘n lekker lang ent op Swellendam gestap. Ek wou die Parkrun daar doen, maar ek sou vasdraai met tyd voordat ek by die NG Kerk se vroudiensafsluiting moes wees. Wat ‘n mooi dorp is dit nie? Met die berge aan die een kant, strate met ou huise en die Drostdy-museum (foto), ‘n pragtike kerkgebou, baie bome en ‘n stroompie wat deur die dorp loop.

Dankie aan die vriendelike mense van die dorp – van dss. Gawie Gouws en Lounette Engelbrecht tot die vriendelike gastehuis-eienaar Juanita.

Maandag het ek my broer se seun, Nico (foto), wat nou sesde jaar medies aan US is, gehelp met sy trek en kon hy by my kuier. Hy het Dinsdag begin blok vir sy finale eksamen wat oor sowat 2 weke begin. Dan is hy klaar geswot. Dit voel soos gister dat hy pas uit die skool, op Stellenbosch aangekom het. Nou is hy ‘n jongman wat graag ná sy internjare (as hy ‘n plasing kry, want sowat 400 van die jong dokters het nog nie ‘n hospitaaljaarpos nie omdat die Departement van Gesondheid nie voldoende beheer oor die Provinsiale gesondheidsowerhede het nie, en die Provinsies dokters- en verpleegposte – maar nie adminposte nie – links en regs sny as hulle geld min raak.) en Zuma-jaar wil gaan spesialiseer.

Dinsdag en Donderdag was my oefensessies in die gym onder die wakende oog van Frederika.

Eetplan:
Ek hou goed by ‘n gesonde eetplan, maar ek moet bieg, dis moeilik om nie in ou gewoontes te verval van bloot eet wat beskik

Ná byna 14 weke (waarvan 3 weke oefeningloos weens griep) en sowat 42 oefensessies:

is ek byna 7 kg ligter en my middellyfmate is 7 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.