My DDN-storie: My week#5 kan opgesom word as “OEPS”!


RSG Gesond se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

In my vyfde  week het alles skeef geloop. En dít net nadat ek in my vierde week van oefening en slimmer eet gevoel het ek maar vordering en dat die oefening makliker word.

Ek het siek geword. Nie dodelik siek nie, maar siek genoeg dat ek kon voel hier is ‘n virus in lyf aan die woel en dat ek dom sou wees om te oefen – ek kan dit nie waag om te oefen of ooraktief te wees met ‘n aktiewe virus in my lyf nie, want enige virus kan die hartspiere aantas en ek is nie bereid om daardie kans te vat nie. Buitendien voel ek net gewoon onder die weer. Alles in my bors, nie my neus of keel nie, net bors, en dis nou nie die beste vir iemand wat asem nodig het vir oefening en flinkstap of draf nie. Ek moes my sessies by Frederika kanselleer, uit die koue bly en my rustig gedra. Ek weet dat as mens net een week nie oefening doen nie, jy die vorige twee weke se fiksheid verloor, en ek sal dus weer by my week#3 van oefening moet begin. Ek moet erken, ek is so bietjie mismoedig oor die blerrie virus, maar ek moet nou eenvoudig hierdie virus-golf uitry.

My honde raak smiddae vyfuur opgewonde oor hulle stappie, wat dan nou nie dié week realiseer nie.

Ek drink handevol van A.Vogel se Echinaforce Forte (julle kan maar vir Estie Schreiber van SA Natural Products glo, dit wérk, en as dít nie werk nie, sou niks anders gehelp het nie, en ek word nie betaal vir hierdie woorde nie, maar ek kan ook nie stilbly oor goeie raad nie!) en water en rooibostee met skyfies suurlemoen in (van my broeder se sitrusplaas in die Sondagsriviervallei) en vrugte en sop. Só wag ek vir die virus om die aftog te blaas.

Ek moes die kiem in die vliegtuig gekry het of êrens in Gauteng. Ek verneem daar is nou so ‘n griepvirus in die omtes in Gauteng. Ek het vir Michelle Breedt gaan kuier terwyl sy tussen haar opera- en konsert-optredes in Europa deur  ‘n kort rukkie by haar ouers deurgebring het voordat sy weer op 3 September terugkeer na  Europa toe, waar optredes in Helsinki en Torino eerste wag.

Susan Vosloo (middel) saam met prof Elmi Muller (links) en prof. Elmin Steyn

Ek het hierdie week vir Susan Vosloo, hartchirurg, bietjie gehelp met haar voorbereidings vir gisteraand (Donderdagaand) se Sakeleier van die Jaar funksie by ‘n spoggerige hotel in Kaapstad.

Susan is as Ambassadeur van die Kaapstad Sakekamer vir 2017 aagewys en moes ‘n praatjie lewer. Ons het ‘n oulike slot vir haar praatjie uitgedink, maar ek vertel julle volgende week daarvan. Ek weet nie hoe sy alles gedoen kry en dan nog ingewikkelde operasies op piepklein babas as haar eitnlik werk!

Op die foto is sy saam met prof. Elmi Muller (links), hoof van Chirurgie van die Universiteit van Kaapstad en die Groote Schuur Hospitaal, en prof. Elmin Steyn (regs), hoof van Chriurgie van die Universiteit van Stellenbosch en die Tygerberg Hospitaal. Die drie chirurge het in Junie op een dag vier orgaanoorplantings gedoen – drie tegelykertyd in twee teaters langs mekaar in die Christiaan Barnard Gedenkhospitaal en een in Groote Schuur Hospitaal, en die vierde ‘n paar uur later ook in laasgenoemde hospitaal.

Só het my week#5 verloop:
Kopplan:
ek moes en moet steeds kophou om nie moedeloos te raak omdat ek my oefenplan moes onderbreek nie.

Oefenplan:
Ek het Maandag laas gestap, en wel in Gauteng. Met die dunner lug, is dit beslis moeiliker vir ‘n Kapenaar, maar het ek ‘n vriend saamgesleep, kamma vir sy onthalwe, maar dit was eintlik om my te help.

Eetplan:
Ek sorg dat ek twee of meer vars vrugte per dag eet. Koejawel, sagte sitrus, piesang, en nou al selfs pere! Ek probeer meer blaarslaai, murgpampoentjies, boontjies en ertjies te eet, en vars aspersies. Ek drink versoeter in my tee, eet soveel kere ek kan, vis (maar ek my vasgeloop in ‘n magdom kabeljougrate by ‘n eetplek in Johannesburg – maak maar seker dat die vis nie deurspek is met groot en klein grate nie; dit gee darem net te veel van ‘n gesukkel af), salm-sushi en hoender roerbraai.

Ná byna 5 weke en 22 oefensessies:

  • is ek effe moedeloos omdat ek weet die vrekselse virus gaan van my bietjie fiksheid wegvreet
  • probeer ek om elke dag die vier basiese strekke by die huis te doen
  • is dit ondanks my terugslag vir my makliker om gesonder te eet, moontlik juis omdat ek siekerig voel en net lus is vir ‘skoon’ kosse
  • wil ek so gou my virus afgeskud is, weer aan die oefen kom.

Ek is 3.5 kg ligter en my middellyfmate is 3 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai. Ek het nou jou aanmoediging nodig.