My DDN-storie: Week#4 sorg vir ‘n klein deurbrakie


RSG Gesond se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My vierde week het vir ‘n ligte deurbrakie gesorg. Ek is mos ‘n week voor jou, net sodat ek kan vertel hoe ek vorder (of nie vorder nie).

Ek het nou al altesame 19 oefensessies in byna vier weke agter die rug – 2 gymsessies per week met Frederika my persoonlike instrukteur by die gym en die ander dae het ek hier naby my huis in die Paarl gestap. Met my honde, sonder my honde, meestal laat smiddae. Soms was ek lus en soms was ek nie lus nie, maar my honde het so opgewonde geraak as ek net aan my sweetpakbroek of stapskoene raak dat ek in my on-lus dae maar aangetrek het en gaan stap het. En elke keer was ek bly ek het gegaan.

My deurbraak? Dit was vroeg in my vierde week toe ek op die trapklimmer-affêre van ‘n oefeningsapparaat was om my kardiovaskulêre aan die gang te kry – dis mos altyd die eerste 10 minute van my program by Frederika – dat ek dwarsdeur my oefening glimlag en gesels en toe skielik besef dat ek nie so uitasem is as drie, vier weke gelede nie. En toe ons by die maagoefeninge kom, kan ek dit makliker doen. En toe ek weer op een van stapsessies kans sien om te begin draf. Ek het jare gelede gedraf, maar ná ‘n lang stilte en ‘n besering nie gedink ek sal ooit weer kans sien om te draf nie. En toe draf ek. Stadig en kort entjies (soos die DDN-oefenplan aanbeveel). En Donderdag by my sessie by Frederika voel ek weer bietjie sterker.

Dit was my deurbraak: ek voel ‘n raps sterker en fikser en minder moeg as vier weke gelede. Ek voel ook minder styf. Nog nie soepel nie, maar minder styf – te danke aan die strekke! Ek weet ek het nog ‘n groot ent om te vorder, maar gemeet teen myself van 4 weke gelede, het ek reeds ‘n ent gevorder.

Só het my week#4 verloop:
Kopplan:
ek het weereens nie gedink nie, net gedoen. Die ding dat ek bietjie sterker voel, maak my kop ook bietjie sterker. Dr. Ian Westmore, die psigiater met wie ek onlangs op RSG Gesondheid gesels het, was reg: kom eers aan die oefen, dan sal daar iets in jou brein aanskakel. Ek dink iets het nou begin aangeskakel.

Oefenplan:
Vrydag, Sondag, Maandag en Woensdag:
Ek stap 30 minute so flink ek kan, in my buurt. Teen Maandag begin ek stukke tussendeur te draf, stadig, maar darem vinniger as stap. Dit was nogal kouerig en mens kon beslis die sneeu in die windjie voel, maar die honde het nie omgegee nie.
Saterdag: Ek woon ‘n simposium oor dwelmverslawing by die Universiteit van Stellenbosch se mediese skool by. Ek het voor-af besluit vandag is my afdag en ek gaan nie oefen nie.
Dinsdag: Frederika werk my sake, maar ek word beslis sterker. Ek hou bietjie langer uit, is bietjie minder uitasem, en hoef minder tussendeur te stop omdat my bene lam raak. Ek weet ek het nog ‘n lang pad om te stap, maar vordering is vordering.
Donderdag: Vandag is ek na Stellenbosch se mediese skool om ‘n onderhoud te doen met ‘n psigiater oor dagga as medikasie, en daarna is ek Stikland Hospitaal toe om met ‘n tweede psigiater te gesels oor wat die wettiging of dekriminalisasie van dagga vir gesondheidsdienste kan behels. Maar ek het my dag al vroeg begin en 07:00 by Frederika en die gym ingeklok. Ek het nog nooit in my lewe vroeg opgestaan om oefening te doen nie – vir afsprake en om vlugte te haal, of om te werk – maar nie om by ‘n gym te gaan oefen nie. Maar toe ek terugkom by die huis, was die stortslag heerlik.
Vrydag: Vandag is ek oppad Johannesburg toe. My vriendin, die operasangeres Michelle Breedt, is in Suid-Afrika en amper weer oppad terug Europa toe, en ons gaan bietjie opvang oor die naweek.

Eetplan:
Ek hou nie van Brusselse spuitte en brokkoli nie, maar het seker gemaak dat ek elke dag murgpampoentjies, groen boontjies, avo, blaarslaai of heerlike asperies eet. Ek drink versoeter in my tee, eet vrugte deur die dag, en het al twee keer hierdie week vis geëet (heerlike geroosterde salm en sushi). Vir die res eet ek steeds soos gewoonlik.
As ek lus was vir iets, het ek ‘n naartjie of appel of piesang geëet. Ek maak ook vir my elke dag ‘n smoothie van jogurt, ‘n appel en nog ‘n vrug, soos ‘n koejawel.

Ná byna 4 weke en 19 oefensessies:

  • is my kop beslis in ‘n beter ruimte.
  • besef ek dat ek steeds baie onsoepel is en meer strekke moet doen, veral my bene en skouers en nek.
  • dat dit vir my makliker is om gesonder te eet.
  • ek gaan beslis voort.

Ek is 3 kg ligter en my middellyfmate is 3 cm minder.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.