‘Garage’-wynmaak sorg vir groot vermaak


Bertus Osbloed van Niekerk

Het jy al ooit gewonder hoe mens nou eintlik jou eie wyn maak? Wel, Middag op RSG regisseur Veronique van Heyningen het die afgelope paar maande by ‘Garagiste’-wynmaker, Bertus ‘Osbloed’ van Niekerk haar eerste Cabernet Sauvignon gemaak.

Veronique vertel:

Bertus, ‘n voormalige predikant, het ‘n paar jaar gelede die kerklewe vir wynmaak verruil en is nog nooit spyt oor sy besluit nie. Sy ‘Garage-wyne’ wat hy onder die handelsmerk Osbloed verkoop, sluit Riesling, Chardonnay, Crouchen, Syrah en nog ‘n hele paar ander interessante en ongewone variëteite en versnitte in, en alles word in sy motorhuis in Somerset-Wes gemaak.

Hy nooi sy wynvriende jaarliks uit om saam met hom wyn te maak –  dit is beslis nie ‘n geleentheid wat Veronique wou misloop nie! (Veronique wou egter nie verklap of sy ook kaal die druiwe gepluk het nie, want Osbloed glo dat dinge natuurlik gedoen moet word, en dan is die plukkers kaalgat in die wingerd!)

Dit is ‘n langtermyn-stokperdjie waarvoor jy belis geduld moet hê, maar indien die wyn-gogga eers gebyt het, is dit neusie verby … daarom gaan wyn-entoesiaste soos Veronique, Stanley van den Heever, Jan Pool en Philip van Staden elke jaar terug om weer saam te speel, om nie eers te praat van al die lekker proe tussenin nie.

Hier is hulle juis hard aan die ‘speel’ om die finaleproduk wat hulle amper ‘n jaar voor moes wag, in die bottel te kry! Indien al dié harde werk nie ‘n goeie rede is om ‘n glasie te klink nie, dan weet ek nie wat is nie, sê Veronique.

Parstyd fotos:

Stap 1: Alles begin in die wingerd

Stap 2 – Druiwekorrels word geskei van die stokke en blare. Die korrels word dan liggies gekneus in die proses om van die sap uit te laat.

Stap 3 – Die druiwe en sap word nou saam in ‘n houer gegooi. Ons wag geduldig vir die fermentasieproses om te begin.

Stap 4- Gistingsproses. Die druiwedoppe bevat genoeg natuurlike gis om die fermentasieproses aan die gang te kry. Dis ‘n natuurlik manier van wynmaak – Ons voeg nie gis by nie.

 

Stap 5: Nadat die druiwe op die doppe gelê en fermenteer het, skei ons dit nou van die sap sodat ons dit in die houtvate kan sit; Nie alle wyne gaan in houtvate in nie – Dit hang af van die styl wyn wat jy wil maak.

Veronique by die Universiteit van Stellenbosch Garagiste Kleinskaalwynmaakkursus.

Veronique proe wyn.

Botteleringsvideo: