Adrenalien junkie: wat gebeur in jou liggaam?


Wat gebeur in jou liggaam as jy sê my adrenalienvlakke is hoog? Waar kom die adrenalien vandaan? is die adrenalien in jou brein dieselfde as dié in jou bloedstroom? En kom daar nog chemiese stowwe by as jy ‘n adrenalien junkie is? En waar pas kortisol in die prentjie?

Luister Woensdag 11:30 – 12:00 na Gesondheid op RSG. Aanbieder Marî Hudson gesels met geneeskundige fisioloog dr. Derick van Vuuren van die Divisie Geneeskundige Fisiologie van die Geneeskunde fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch.

Hieronder is solank enkele interessante feite.

Feit #1: Adrenalien in jou bloedstroom is anders as die adrenalien in jou brein.

Die adrenalien wat in jou bloedstroom is, word deur die binneste selle van die byniere afgeskei. Die byniere is klein kliere wat net bokant jou niere sit.

Die adrenalien in jou brein is effens anders en word noradrenalien genoem. Dit is ‘n oordragstof wat impulse tussen neurone oordra in sekere dele van jou brein.

Feit #2: Beide adrenalien en noradrenalien, en ook dopamien en verskeie ander hormone word uit een van twee spesifieke aminosure (die kleinste boublokke van proteïne) vervaardig. Die twee aminosure is tirosien en fenielalanien. Hulle is noodsaaklik vir die vorming van verskeie hormone in jou liggaam. Die veranderings vir die omsetting na adrenalien word stelselmatig in 4 stappe gedoen:
1. Tirosien verloor ‘n OH-groep en word L-hidroksi-feniel-alanien (L-DOPA), ‘n voorloper van dopamien, ‘n oordagstof in die brein.
2. L-DOPA verloor ‘n karboksielgroep (COOH) en word dopamien, wat ook bekend staan as die goedvoel-hormoon.
Sien skets hieronder waar epinephrine adrenalien is en norepinephrine is noradrenaline.)
3. Dopamien kry ‘n hidroksielgroep (OH) by en word noradrenalien (ook genoem nor-epinefrien), ‘n oordragstof in jou brein.
4. Noradrenalien kry ‘n metielgroep (CH3) by en word adrenalien, die hormoon wat deur die byniere in jou bloedstroom vrygestel word as jy moet veg of vlug.

Feit #3: Die brein stel meer noradrenalien in die brein vry en laat die byniere weet om meer adrenalien in die bloedstroom vry te stel as jy gevaar ervaar deur:
– wat jy sien,
– wat jy hoor,
– wat jy voel,
– wat jy ruik,
– of enige ander gewaarwording van gevaar.

Van die sintuie word impulse in die spesifieke areas in die brein (gehoor-, visuele area ens) geprikkel, wat die ook impulse na die hipotalamus in die brein stuur, wat dan die byniere in kennis stel om meer adrenalien af te skei.

Feit #4: Hierdie vrystellings en reaksies vind baie vinnig – binne sekondes of minute – plaas, omdat jou lewe in gevaar mag wees en jy vinnig moet reageer. Die reaksie hou nie lank aan nie, hoewel die effekte nog ‘n paar dae kan duur.

Feit #5: Adrenalien en noradrenalien is hormone wat deel uitmaak van die outonome stelsel, waaroor jy geen beheer het nie. Dis outomaties. Die outonome stelsel kan verdeel word in die simpatiese stelsel (die adrenalien reaksies) en die parasimpatiese reaksies, wat die teenoorgestelde is as die veg-en-vlug-reaksie.

Feit #6: Adrenalien junkies se adrenalienvlakke is verhoog, maar ook hulle dopamienvlakke. Dopamien is die plesierhormoon, en die adrenalienvrate jaag die gevoel van hoë dopamienvlakke na.

Dopamien is ook die hormoon wat verhoog word in mense wat dobbel, en tydens verliefdheid. Konstante lae dopamien-vlakke lei to Parkinson-siekte.

Feit #7: Die brein, oë, bloedvate, hart en ander organe reageer onmiddellik op verhoogde adrenalien- en noradrenalienvlakke.
Verhoogde adrenalienvlakke in die bloed:
– verseker dat meer glukose in die bloed beskikbaar word
– die brein kry dus meer glukose en kan vinniger dink
– die bloedvate na die brein, hart en spiere en word wyer wat meer bloed na die brein, hart en spiere vervoer sodat daar vinniger meer glukose by die spiere kan kom
– Die hart klop vinniger en kragtiger om meer bloed, vinniger by die spiere en brein te kry.
– Die bloedtoevoer na die spysverteringstelsel word minder want verwerking van kos in ‘n gevaarsituasie is nie so belangrik as om helder te dink en vinnig te kan beweeg nie.
– jy sien beter, hoor beter en ruik beter om die situasie beter te evalueer.

Feit #8: Die nadraaie van die uitwerking van hoë adrenalienvlakke is nie altyd lekker nie. Jy voel vodde.

Feit #9: Kortisol is die hormoon wat styg met langdurige stres
Dis die hormoon wat verhoog word as jy moet leer vir eksamen. Dit kan dae, weke of maande verhoog wees. Dis die stres-hormoon, nie die veg-en-vlug hormoon nie. Dit word ook deur die byniere uitgeskei, maar deur die buiterand van die byniere, naamlik die korteks.

Feit #10: Alles is in voortdurend in balans.
Die simpatiese en parasimpatiese sisteme in jou liggaam is voortdurend in balans, en sal styg en daal volgens die situasie waarin jy verkeer, en wissel ook sirkadies. Kortisolvlakke is byvoorbeeld altyd hoër in die oggend.

Vraag
As adrenalien jou hart, brein en spiere ‘aanskakel’ en jou spysverteringskanaal ‘afskakel’, waarom sien mens so baie blertse as ‘n trop bobbejane of ape skrik en weghardloop?

Dis moonlik om die vyand af te skrik met die stank. Die skielike verslapping van die sfinkters is beslis ook ‘n outomatiese reaksie.

Luister na die program
As jy dit misgeloop het of weer wil luister, hier is die skakels:

Deur Marí Hudson

© Mari Hudson