Die jongste feite oor makulêre degenerasie


Wat is makulêre degenerasie? Waarom verloor mens jou sig in die middel van jou gesigsveld? Is daar meer as een soort? Kan dit behandel word? Kan mens iets doen om dit te voorkom of die agteruitgang te verstadig?

Marí Hudson gesels met dr. Carina Slazus, oogarts by die Kaap Ooghospitaal en die Mediclinic Panorama.

Interessante feite oor makulêre degenerasie

  • Die twee vorms van Ouderdomsverwante makulêre degenerasie.

    Daar is meer as een vorm makulêre degenerasie, naamlik Ouderdomsverwante Makulêre Degenerasie (OMK) wat of droog of nat kan wees, en Stargards se siekte.

  • Die makula is die deel van die retina waarop die strale gebuig word sodat ‘n mens duidelik en fyn kan sien om te kan lees en fyn werk te doen.
  • OMK is ‘n baie algemene oogprobleem onder mense ouer as 60 jaar.
  • Die geel vlekke in die middel van die foto is die afvalprodukte wat teen die makula ophoop.

    Met Droë MK, vorm geel spikkels op die makula. Die geel kolle op die makula is afvalstowwe wat weens ouderdom nie meer goed genoeg verwyder nie.
    Daar is geen mediese behandeling wat die agteruitgang kan stop nie, maar oogartse beveel aan dat mense wel luteien-vitamien aanvullings neem, en so gesond as moontlik lewe en eet, en bloeddruk en diabetes so goed as moontlik beheer.
    Die visie-verlies is in die sentrale deel van die visie, waar vaal kolle vorm. Die perifere (kant) visie bly intakt, maar is nie geskik om maklik te kan lees nie, of naaldwerk of enige ander fynwerk te doen nie. Die persoon word nooit heeltemal blind nie, maar behou kantvisie, al is dit nie goed nie. Die agteruitgang in visie is geleidelik.
    Voorts kan reguit lyne begin om golwend te lyk omdat die afvalstowwe op die makula die retina beskadig en die oppervlak van die retina oneweredig maak.

  • Die bloederigheid van die oortollige bloedvaatjies kan in die middel van die foto gesien word. Dit is Nat Makulêre Degenerasie.

    In Nat MK vorm bykomende bloedvaatjies op die makula. Die agteruitgang in sig is skielik en vinnig, met donker kolle in die middel van die gesigsveld.
    Sowat 10 jaar gelede kon dokters niks vir die pasiënt doen nie, maar danksy behandeling met ‘n inspuiting direk in die oog, word ‘n middel ingespuit wat die bloedvatvorming stop. Die persoon kan dan weer beter sien, al is die herstel nie 100% na wat die persoon voorheen kon sien nie. Oogartse volg dié pasiënte elke sowat 6 weke op, en spuit hulle weer in. Sodra die inspuitings stop, sal die bloedvatvorming weer oorneem en die visie kan weer vinnig agteruitgaan.

  • Stargards se siekte tref jongmense. ‘n Kind wat met dié defekte geen gebore word (die siekte is dus oorerflik), kan aanvanklik sien. Dan begin die kind se visie op 6 tot 10 jarige ouderdom verswak.
    Navorsing is tans aan die gang om te kyk of diegene met geenterapie behandel kan word waar die foutiewe geen met ‘n geen vir normale visie deur ‘n inspuiting in die oog vervang word. Dié navorsing het groot belofte getoon in honde, en word nou op mense getoets. Mense wat belangstel om deel te word van die Stargards navorsingstudie kan die Departement van Oogheelkunde by die Universiteit van Kaapstad en die Groote Schuur kontak.

Só sien iemand met Makulêre Degenerasie

Hoe iemand met vroeë Droë Makulêre Degenerasie sien

Die visie verlies is in die sentrale gesigsveld.

Só gaan die visie algaande agteruit.

Reguit lyne begin om golwend te lyk in alle vorms van Makulêre Degenerasie.

Lees meer oor makulêre degenerasie:

https://www.webmd.com/eye-health/macular-degeneration/age-related-macular-degeneration-overview#1

https://www.macular.org/what-macular-degeneration

Lees en luister ook:

Diabetiese oogprobleme

Weet jy wat oogtoetse alles kan verklap?

Deur Marí Hudson