Hoe werk inflammasie?


Teks: Marí Hudson
Het jy opgelet dat as jy jou vinger sny, die wond bloei, maar dan rooi en opgegewe word? Of hoe pynlik gewrigte word as dit swel? Die rooiheid en swelling is alles deel van die inflammatoriese proses. Maar hoe werk die proses en wat gebeur by die wond, of in die gewrig of ander plekke in en op jou liggaam tydens die inflammatoriese proses?

Marí Hudson gesels in Gesondheid op RSG met dr. John Lopes, mediese biochemikus en fisioloog en hartnavorser aan die Divisie Geneeskundige Fisiologie van die Universiteit van Stellenbosch se Geneeskundige Fakkulteit.

Wanneer tree die inflammatoriese proses in werking in jou liggaam?
Wanneer ‘n vreemde voorwerp jou vel of weefsel binnedring of irriteer. Dit kan ‘n splinter, bakterie, virus of enige vreemde partikel wees. Die sneller kan van buite die liggaam wees – soos ‘n splinter, mes, koeël, kos, stuifmeel, ooroefening – of selfs van binne die liggaam soos sekere stowwe binne jou liggaam wat geaktiveer word, of dit kan deur jou eie liggaam geaktiveer word selfs al is daar nie indringers nie en staan dan bekend as ‘n outo-immuun siekte (soos bv reumatoïede artritis).

Waar in die liggaam kan dit gebeur?
Inflammasie kan in byna enige deel van jou liggaam plaasvind, en nie net by ‘n wond nie.
As dit in ‘n wond is, is dit meestal akuut, en as die oorsaak van binne die liggaam is, kan dit maklik chronies word. Die inflammatoriese proses is skadelik vir die liggaam as dit nie stop nie.

  • Dit kan in spysverteringstelsel plaasvind agv kos wat jy eet maar ook agv ‘n siekte soos Crohn se siekte.
  • Dit kan in die lugpype plaasvind – inderwaarheid is laegraadse chroniese inflammasie teenwoordig in mense met asma.
  • Dit kan in die gewrigte plaasvind en dus verskeie soorte artritis veroorsaak, asook ankiloserende spondilitis, lupus en so meer.
  • Dit kan in hart self, en die niere plaasvind.
  • Dit kan in enige spier of tendon wat oorgebruik word, plaasvind.
  • Dit kan in die pankreas gebeur in mense wie se trigliseriedvlakke te hoog is. Dit word ook verbind met diabetes.
  • Dit gebeur in die bloedvatwande is ‘n belangrike faktor in aterosklerose en hartaanvalle.
  • Dit speel ‘n rol in Alzheimer se siekte.
  • Fibromialgie, rugpyn en nekpyn en dikwels uitvloeisels van inflammasie in die spiere, tendons en gewrigte.
  • Kanker kan die uiteindelik gevolg wees van chroniese inflammasie

Watter wapens het die liggaam tot sy beskikking om die indringers aan te val?
Jou liggaam het ‘n hele gevegslinie in die vorm van verskillende witbloedselle wat optree sodra ‘n vreemde stof die vel binnedring of in die bloedstroom of selle beland. Die gevegslinie is baie gesofistikeerd, met troepe wat hoogs gespesialiseerd is en baie spesifieke funksies vervul, tot algemene troepe. Die liggaamselle wat hierdie gevegsfront opstel, is hoofsaaklik die witbloedselle en die stowwe wat hulle afskei soos die sitokiene. Die troepe sluit die volgende in:

  • Die patrolliepolisie/fluitjieblasers (makrofage) wat alarm maak en seine uitstuur sodra hulle ‘n vreemde stof opmerk.
  • Die algemene polisie wat nie-spesifieke funksies het nie, maar tog help. Dis die eosinofiele, Basofiele, neurtrofiele. Hulle herken die indringer en kan op verskeie maniere optree.
    – Neutrofiele sal eerste daar aankom en oor die bloedvatwand klim. Hulle sal dan soos makrofage die indringer insluk.
    – Monosiete is in die bloedstroom, en sodra daar ‘n indringer inkom, word hulle en die neutrofiele ontbied. Die monosiete moet eers oor die wand klim, maar kan nie onmiddellik veg nie, maar moet eers makrofage word.
    – Eosinofiele sit onder die mucusmembrane en doen ‘border patrol’ in die spysverteringskanaal. Hulle teiken meestal wurms, hulle sal soos groep honde op die wurm spring.
  • Die spesialiseenhede wat baie spesifieke funksies het bv:
    – die afstandbeheer-eenheid: wat soos Ninjas sterre gooi na die vyand, of soos skerpskutters van ‘n afstand op die vyand skiet. Dit is die B-limfosiete (baie gespesialieerd en sien antigene baie goed raak, hulle maak antiliggama).
    – die martial arts gevegslinie, waar die vyand fisiek aanval en dan soos ‘n Pacman insluk. Die T-limfosiete sal die indringer insluk. Hulle sal die indringer vernietig maar ook die sel waarin die indringer is.
    – die rigtingwysers wat met ‘n duidelik spoor (soos Hansie en Grietjie se krummels) aandui waar die indringer is. Dit is die proteine bekend as komplement- protiene wat deur die lewer afgeskei word.

Wat is die stappe in die inflammatoriese proses?
Stap #1: Neutrofiele en monosiete word via seine wat deur die makrofage afgegee word, na die plek ontbied. Makrofage en witbloedselle skei verskeie sitokiene af en dié sitokiene skep eintlik ‘n groot kommunikasienetwerk in die inflammatoriese proses. Sommige sitokiene is pro-inflammatories en ander is anti-inflammatories.

Die lewer skei proteiene af bekend as komplement, en bewerkstellig chemotakse, wat ‘n pad los sodat die witbloedselle die pad na die infeksie herken. Hulle help ook om die bloedvatwande meer deurlaatbaar te maak.

Die eerste reaksie en stowwe wat afgeskei word lei daartoe dat meer bloed na die plek van die indringer gaan. Dit veroorsaak dat die plek rooi lyk. Die bloedvloei na die gebied verhoog danksy seine van chemiese stowwe wat deur die witbloedselle afgeskei word.

Stap #2: Die bloedvate word meer deurlatend agv die chemiese stowwe (o.a die komplement proteine) wat afgeskei word, en meer plasma en proteine gaan deur die bloedvatwande na die plek waar die indringer is. Die groter hoeveelheid plasma (vog) in die gebied, veroorsaak die swelling.

Die twee prosesse kan senuweeselle stimuleer en pyn veroorsaak.

Stap #3: As die indringer verslind is, begin herstel van die weefsel en word die inflammatoriese stowwe minder en verdwyn. Die herstel vind plaas deur kollageen wat neergelê word, wat deur die fibroblaste afgeskei word en tot littekenformasie lei.

Foutiewe stap #3: As die inflammatoriese stowwe nie verminder nie, irriteer dit die gebied en as dit byvoorbeeld in ‘n gewrig is, begin dit om die kraakbeen te beskadig, en as die kraakbeen weg is, begin die been teen been te skaaf (artritis). Dieselfde skadelik prosesse kan in bykans enige weefsel of orgaan plaasvind.

Kan mens inflammasie behandel?
Ja, beslis. Die medikasie wat gebruik word, is anti-inflammatoriese middels soos Ibuprofen en kortisoon.
Maar leefstyl-aanpassings is baie belangrik. Die volgende speel ‘n rol in inflammasie:

  • Rook
  • Verkeerde kosse soos te veel versadigdevet-kosse en geproesseerde kosse. Voordelige kosse is vrugte, volgraanprodukte, plantproteïen soos bone en neute, vis ryk aan omega-3-vette soos salm, tuna, sardiens, gesonder olies oos olyfolie of avokado-olie, kos met baie probiotika.
  • Gebrek aan oefening
  • Te min slaap

 

Hier is baie volledige inligting oor die proses: http://www.hopkinsmedicine.org/mcp/education/300.713%20lectures/300.713%202013/beck_08.26.2013.pdf

Deur Marí Hudson

© Mari Hudson