Kinders se vernoude lugpypies met fyn chirurgie herstel


Baie babas, veral vroeggebore babas, het asemhalingsprobleme ná geboorte, en hul asemhaling moet in die hospitaal ondersteun word, wat beteken dat ‘n buis in hul lugpyp gedruk word. Dié buis kan die binnekant van die klein lugpypie beskadig en littekenweefsel veroorsaak, wat dan die lugpyp onder die stembande vernou. Om dan seker te maak die baba of kind kry voldoende suurstof, word ‘n gaatjie in die lugpyp gemaak – bekend as ‘n tracheostomie (wat letterlik beteken sny deur die trachea/lugpyp) – en baie kinders lewe lank met die tracheostomie-pypie in die keel. Dit word dan later uitgehaal en moet maar vanself toegaan, want die chirurgie om die gaatjie reg toe maak, is kompleks.

Nou het ‘n jong oor-neus- en keelspesialis by Rooi Kruis Kinderhospitaal ‘n bestaande program om dié kinders te help, ‘n nuwe hupstoot gegee. Dr Shazia Peer (foto regs), het in Kanada opleiding ontvang om dié kinders op twee maniere te probeer help:
1. Om kinders wie se lugpype vernou is, met ‘n ballon te rek sodat hulle nie ‘n tracheostomie benodig nie.
2. En om kinders wat wel ‘n tracheostomie ondergaan het, se tracheostomie te herstel deur ‘n stukkie kraakbeen van die rib te neem om die lugpyp oop te hou sodat hulle maklik kan asemhaal. Dié werk is baie fyn en word onder mikroskopiese lense gedoen om die baba of kind se piepklein lugpypie te vergoot. Die litteken wat agterbly is klein horisontale snit in die nekvoue wat skaars sigbaar is.

‘n Kind se lugpyp is dunner as jou pinkie, en as dit vernou is, nog dunner. Om dit wyer te maak, moet dit in die middel voor oopgesny word en dan moet ‘n spasieerder met groot presiese ingepas word om die lugpyp oop te hou. ‘n Klein stukkie ribkraakbeen word as spasieerder gebruik.

In Gesondheid op RSG, het Marí Hudson met Dr Peer gesels oor dié operasie.

Só lyk die keel aan die binnekant

Met ‘n tracheostomie word ‘n pypie deur die keel tot in die lugpyp gedruk sodat suurstof regstreeks deur die pypie tot in die longe kan vloei

‘n Klein stukkie ribkraakbeen word gebruik

Die skets wys hoe die lupyp wyer gemaak word deur ‘n stukkie ribkraakbeen as ‘n spasieerder te gebruik

Die sketse verduidelik hoe die ribkraakbeen gebruik word om die oopgemaakte lugpyp oop te hou.

Deur Marí Hudson

© Marí Hudson