Kook Groen: nuwe program vir “groener’ kombuis


Die Kook Groen program fokus op ‘n holistiese benadering tot kookkuns en hoe om ‘n “groener” kombuis te handhaaf.  Onderwerpe soos energie- en waterbesparing, volhoubaarheid & ander ekonomiese kosmaak-benaderings word bespreek.  Besprekingspunte sluit die belangrikheid van die gebruik van produkte in seisoen in, die toegangklikheid tot plaaslike produkte, verantwoordelike gebruik van alle bestanddele, alternatiewe bronne vir sekere bestanddele asook metodes vir vermindering en herwinning van voedsel-afval. Resepte word deurgaans ontwikkel met die bogenoemde konsepte in gedagte.

Kook Groen het Saterdag 1 Desember begin en kan dan elke Saterdag tot einde van Maart 2019. Die sjef is Anri Ferreira van die ICA, Institute of Culinary Arts.

Derrich vertel meer oor sy liefde vir kos

Ek is ‘n kos-snob. My vrieskas het nie gevriesde kos in nie. Ek koop soos nodig en maak net vars kos. Vleis verkies ek ook net plaasvleis (vrylopend en grasvretend) en in die stede sien ek al hoe meer plekke hou dit deesdae aan. Ek geniet goeie slaai en ou-kaas.

Eenvoudige kos met goeie speserye in is my voorkeur. Ek haat skottelgoed was so hoe minder potte ek gebruik hoe beter. Ek maak kos om binne 20 minute te kan eet. Anders mors jy jou tyd en kook al die voedingswaarde uit.

Ontbyt is maklik met plaaseiers en ‘n vars romano-tamatie/uie-smoor saam met ‘n handvol growwe maalvleis of fyn gesnyde volstruis vinnig gebraai in plaasbotter. Bedien op ‘n sny regte rogbrood en versier met ‘n paar varsgeplukte kruieblare.

Net voor gym maak ‘n glasie mambawoema die oefen minder pynlik. Dis maar vars spinasie, wortels, stuk komkommer, ‘n appel en halwe pynappel deur die versapper gedruk. Dit hou ‘n hele paar dae in die yskas en is beter as enige vitamientablette. Bietjie gemmer of kaneel help ook om die metabolisme op sy tone te hou.

Ek geniet moerkoffie. Ek het nie poeierkoffie in die huis nie.

Anri Ferreira

ANRI FERREIRA

Anri het ‘n BComm graad in Logistieke Bestuur aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.  Ná afloop van haar studies by die universiteit, het Anri haar visier op kookkuns – haar eerste liefde – gedraai.  Sy gradueer as Top Student in haar klas aan die Institute of Culinary Arts (ICA) met ‘n Diploma in kookkuns en gevorderde kooktegnieke, sowel as ‘n internasionale Diploma van City & Guilds (Engeland).

Gedurende haar studies aan die ICA het Anri waardevolle professionele met werksondervinding by van Suid Afrika se beste restaurante opgedoen.  Haar gespesialiseerde administratiewe ondervinding in die korporatiewe sektor komplimenteer haar loopbaan as professionele sjef en uiteindelik as dosent by die ICA.

 

INSTITUTE OF CULINARY ARTS – ICA

Die ICA is in 1995 deur Letitia Prinsloo gestig. Die ICA ontvang in 2016 ‘n internasionale toekenning van die City & Guilds in Londen vir die beste opleidingsinstansie vir professionele sjefs in Afrika, en een van drie bestes ter wêreld. Die skilderagtige Banhoek-kampus, geleë in die wynlande net buite Stellenbosch, dra daartoe by dat studente optimaal kreatief kan funksioneer en uitblink.

Die ICA-kampus spog met sy eie groente- en kruietuine wat wonderlike, organies verboude bestanddele vir die kombuis bied en waardevolle omgewingsimpak en –volhoubaarheid aanmoedig.