Ontmoet Bibber die bobbejaantjie


RSG se nuwe kinderstorie kan van 7 Oktober elke Sondagaand om 18:10 gehoor word. Lizelle de Bruyn van Wordwise Media, vertel meer oor Bibber.

Bibber is ‘n klein bobbejaantjie

Bibber is die bobbejaantjie wat ons van nader gaan leer ken in die nuwe kinderstorie op ‘n Sondagmiddag op RSG. Bibber is aanvanklik ‘n ou bangjan maar stadigaan begin hy meer en meer dapper word saam met sy maats in die bos. Ons leer ken vir Trieks, sy maatjie waarmee hy elke dag speel en dan is daar sy twee neefs Boela en Breker wat maar wilde bobbejane is.

Saam met Bibber en sy maats leer ons van liefde en dapper wees. Ons leer van Ouma Wiese se wyshede en hoe om elke dag met mekaar saam te lewe.

Chrystal Donna Robert

Die verteller is bekende aktrise, Crystal Donna Robert, en Thomas van Niekerk is die stem van Bibber.

Lizette Murray

Bibber is geskryf deur joernalis en skrywer, Lizette Murray en versorg deur Wordwise Media. Haar groot liefdes is woorde, musiek en kinders. As onderwyseres en ma van vyf seuns ken Lizette die hart van ‘n kind. Benewens haar vryskut-skryfwerk vir die vrouetydskrif, LÉÉF met hart & siel, skryf sy kort toneelstukkies vir skole en libretti vir kinderoperettes – Uit haar pen het ook ‘n  aantal Bybelse musiekblyspele, en lirieke vir kore vorendag gekom.