Proteïen uitruilporsies


Eet 2 porsies proteïene per dag (3 vir groot geboude mans) – met een porsie vleis min of meer so groot soos jou handpalm.

Proteïene is in die geel mandjie, omdat mens se liggaam dit benodig, maar baie mense is geneig om oorboord daarmee te gaan. Die gemiddelde mens het egter niks meer as 200g vleis per dag nodig nie.

Porsiegroottes en -uitruillys

Die maklikste manier om te onthou hoe groot ‘n porsie is, is om jou hand te gebruik. Die meeste porsies is so groot soos óf jou gebalde vuis, jou handpalm, jou duim of die voorste lit van jou pinkie. Op dié manier werk dit dan ook só dat groter mense se porsies groter is as kleingeboude mense.

Hier is ‘n eenvoudige lys van uitruilbare porsies in al die groepe. Dit is saamgestel deur NICUS (die Voedings-inligtingsentrum van die Universiteit van Stellenbosch)

Voedselgroep Porsiegroottes
Vleis en vleis-

Vervangers (alle vleisporsies is vir gaar vleis)

(Dink handpalm)

60-90g maer vleis (bees, skaap, vark, of volstruis)
60-90g hoender (sonder vel)
60-90g vis (nie in olie gebraai)
1 eier : hardgekook of geposjeer
60-90g soja maalvleis
½ k gaar peulgroente
½ ruile :
30g tuna in water ingemaak
1 lae vet weense worsie
1 sny maer ham

 

Dis tyd vir ‘n vissie
Maak seker dat jy minstens een keer per week (verkieslik 3 keer per week) ‘n lekker porsie gebraaide/geroosterde vis (nie vis wat in ‘n deeg en olie gebak of gebraai is nie) eet. Vis met ‘n donker kleur is die gesondste omdat dit ryk is omega-3-vetsure, wat help teen depressie, vir beter konsentrasie, en baie organe help om beter te funksioneer. Die gemiddelde mens kry hopeloos te min omega-3-vetsure in. Visse met die meeste omega-3-vetsure is makriel, tuna, sardiens, salm en forel. ‘n Blikkie sardientjies, veral dié in ‘n tamatiesous, is werklik soo gesond. Leer die gewoonte aan om so gereeld as moontlik vis te eet.

1 Porsie vis = so groot soos jou handpalm in grootte en dikte.

Dis aanbeveel vir alle mense.

Eintlik moet vis in die elke-dag groen mandjie gepak word, maar ons pak dit in die geel mandjie. Mens kan ook mos nou nie van vis alleen leef nie. Ons moet ‘n plekke oophou vir ‘n tjoppie of so-iets.

Geroosterde salm

Sardientjies

Makriel

Tuna

Dis tyd vir ‘n heerlike hoendertjie
Maak seker dat jy minstens een keer per week (verkieslik 3 keer per week) ‘n lekker porsie gebraaide/geroosterde hoender (nie hoender wat in ‘n deeg en olie gebak of gebraai is nie) eet. Hoenderborsie bevat die minste vet, maar dit kan soms droog wees – dit is dus ideaal vir ‘n roerbraai met allerlei groente.

1 Porsie hoender = so groot soos jou handpalm in grootte en dikte.

Dis aanbeveel vir alle mense.
Waar pas my skaaptjop in?
Dis tyd op seker te maak daar is rooivleis in jou geel mandjie. Jy is welkom om ‘n maksimum van drie keer per week rooivleis te eet: bees, lam, skaap is die bekendste en gewildste. Maak egter seker dat jy nie hope diervette wat aan die skaaptjop of beesvleis is, saam met die vleis eet nie. Die bevindings dui daarop dat groot hoeveelhede diervette jou weliswaar, pleks van diabetes onder beheer te bring, juis beta-selle in die pankreas kan beskadig en jou binne ses weke ‘n volle diabeet kan maak. Dit is ook belangrik om te let dat ‘n porsie rooivleis so groot soos jou handpalm behoort te wees, en dat een porsie rooivleis so drie keer per week (met vis en en hoender op die ander dae) voldoende is om aan jou proteïenbehoeftes te voorsien. Die mens het eintlik bitter min proteïene nodig om in jou daaglikse behoeftes aan aminisure te voorsien.

1 Porsie rooivleis = so groot soos jou handpalm in grootte en dikte.

Dis aanbeveel vir alle mense.

As jy ‘n vegetariër is, of ‘n vegan is, of bloot jou vleis-porsies met ander proteïenporsies wil afwissel, klik hier en luister na die raad van ‘n dieetkundige kinders en volwassenes wat ‘n vegan-eetplan wil volg.

Onthou ook: peulgroente is helfte proteïen, helfte koolhidraat;
en maaskaas, en ander ligtekleur kase is helfte proteïen, helfte vet.