Dankbaarheidsuitdaging: skryf elke dag net een goeie ding neer


Sondagjoernaal het elke Sondag ‘n dankbaarheidsinsetsel en daag mense om te kyk na waarvoor hulle dankbaar kan wees. Dis baie gewild. Aanbieder Lizelle de Bruin skryf:

“Daar is soveel om voor dankbaar te wees

Wanneer die lewe met ‘n slag jou voete onder jou uitslaan, en jou hartseer jou kortasem maak, is al wat jy somtyds kan doen om ‘n grens op te rig. Die spreekwoordelike streep in die sand te trek en vir ‘n oomblik terug te tree.

Bepeinsing bring aanvaarding en daarmee saam ‘n hartsbegeerte na verandering. Die hunkering na vernuwing gee momentum maar dit verg moed om jouself of jou situasie in ‘n nuwe lig te sien. En jy soek na iets om aan vas te hou terwyl jy nuut word.  Vir my is dit dankbaarheid.

Dit maak nie saak wat dit is nie, ons almal het iets om voor dankbaar te wees.

Luister na die onderhoud wat Lizelle met Johannes gevoer het.

Dankbaarheid is nie ‘n eenvoudige konsep nie, maar dit is gratis en dit maak jou gelukkig. Dis ‘n gewoonte wat gekweek moet word, dis werk en om een of ander rede kom dit nie natuurlik nie. Maar ek het ‘n metode gevind.

Lizelle de Bruin

Sondag-Joernaal op RSG daag mense elke Sondag-oggend uit om vir een ding dankie te sê. Paulus het alle rede gehad om nie dankbaar te wees nie.  Hy was mos onskuldig in ‘n tronk gestop, vêr van sy familie en vriende af. Tog het hy volgens wat geskryf word, lofgesange gesing.

Hy het geweet dat ‘n dankbare gesindheid baie kragtig is.

Om ’n dankbare hart te hê verander mens se uitkyk en hoe jy oor die lewe voel. Onlangse navorsing wys dat mense wat dankbaar is gelukkiger en meer tevrede met hulle lewe is. Hulle is minder gespanne en depressief. Hulle verhoudings is beter.

’n Manier om dankbaarheid te kweek is om bewustelik te dink aan al die goeie dinge wat jy in jou lewe het.

Ek daag luisteraars uit om elke dag net 1 ding neer te skryf om voor dankbaar te wees. Na ’n paar maande sal jy ’n boek vol redes tot dankbaarheid hê en op die manier kom jy gou agter hoe geseënd jy is! “

Ons het ‘n groot glasfles by die huis waarin ons elke dag die dankie-nota gooi. Elke nou en dan lees ons al die notas en dan staan jy verbaas as jy oor die jaar terugkyk hoeveel seën jy belewe het. Ek daag luisteraars uit om dieselfde te doen.

Die boodskappe van luisteraars het my laat besef dat dankaarheid ‘n groot rol speel en dat ons mense moet aanmoedig om dankbaarheid uit te spreek:

– Duisend Dankies v jille gesalfde werk. Ek het vir eerste keer ingeskakel. Ek was oppad werk toe en was soo depresief….

– Dit het my soo op gekikker… Jille program is van onskatbare waarde

– Dankbaar dat ons in Sy genade kan baai: ons het water, elektrisiteit en ruim liefde vanoggend. So geseënd.

– More vandag loop ek oor van dankbaarheid omdat die Here op my pad die beste familie en vriende sit. Ons het gister my man se begrafnis gehou en my ondersteuningsraamwerk is al hierdie wonderlike mense. Ek was ook bederf met die beste man op aarde.

– Liewe Lizelle – Te midde van onsekerheid en stress is ek vanoggend dankbaar vir alles wat ek het, gesondheid, my kinders en familie en stil Sondagoggend.

– Driekie Potchefstroom Soooo dankbaar dat ek elke dag met ‘n sekerheid weet God is ALTYD by my

– Vanoggend is ek dankbaar vir 22mm reën in droë Aberdeen Oos Kaap

Dankbaarheid genees. Sluit by ons koor van dankie-mense aan. Jy het veel om te wen.”