Paasspel: Die leë graf


Die leë graf. Foto: Bruno van der Kraan.

In hierdie grendeltyd bring RSG se Radioteater ’n splinternuwe Paasspel op Goeie Vrydag na die draadloos. Helena Hugo se Die leë graf met Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock, word op Vrydag 10 April om 13:05 en die aand net na 18:00 uitgesaai.

In die Paastyd herleef ons opnuut die kruisdood van Jesus, maar ook sy opstanding. Vir Nikodemus gaan dit gepaard met ’n geloofstryd. Kan hy sy posisie in die Sanhedrin prysgee om Jesus openlik te bely, of skuil hy vir die res van sy lewe onder die dekmantel van die nag?

Jesus se dissipels het Hom in die donkerste nag van sy lewe in die steek gelaat. Sy moeder en die vroue wat haar ondersteun, staan oplaas saam met sy laksmanne aan die voet van die kruis. Tussen die mengelmoes van toeskouers, staan ook Josef van Arimatea, lid van die Joodse Raad en Nikodemus, skrifgeleerde en Fariseër.

Die apostel Johannes het Nikodemis se besoeke aan Jesus kortliks opgeskryf, sy poging om Hom in die Sanhedrin te verdedig en sy verbintenis met Josef van Arimatea. Lukas verwys na die vroue wat Jesus gevolg het, onder andere Johanna, die vrou van Gusa, ’n hoë amptenaar aan die hof van Herodus Antipas. Hulle word slegs by name genoem, maar elkeen het ’n besondere rol in die drama rondom Jesus. Johanna volg Hom openlik. Hoe Gusa daarop reageer, kon ek net raai. Sou hy wat ’n hoë pos in die paleis van Herodus beklee, Jesus openlik erken of Hom soos Nikodemus en Josef van Arimatea in die geheim aanbid? En wie is ek en jy om te oordeel, ons wat ook so graag in die skaduwees skuil, bang om hardop vir Jesus te getuig en so dalk ons status in die samelewing verloor? ’n Nagdissipel, ’n sluiper, ’n geheime gelowige – is jy ook ’n Nikodemus?

“Op Goeie Vrydag kan jy Nikodemus en sy vriende saam met my na die leë graf volg. Die skrywers van die vier Evangelies skryf oor hulle in breë trekke, so lyk dit, maar hulle suggereer soveel meer. Nikodemis se geloofstryd, sy vriendskap met Josef van Arimatea, betrek vir my ook ander randfigure. Ek het Gusa en sy gelowige vrou Johanna gekies en met respek voortborduur op die skrale gegewens wat ek oor hul lewe kon kry,” vertel Helena Hugo, die skrywer en regisseur.

“Ek hoop Die leë graf inspireer jou om nie net die kruisdood van Jesus te herdenk nie, maar ook sy opstanding te vier.”

Die rolverdeling is Richard van der Westhuizen (Nikodemis), Lochner de Kock (Josef van Arimatea), Francois Stemmet (Gusa), Ria Smit (Johanna), Charlie Bougeunon (Johannes die Doper) en Pietie Beyers (Jesus van Nasaret).

Uitsending: 10 April om 13:05

Herhaling: 10 April om 18:10

Teks en regie: Helena Hugo