Vat 5-gas gee gestremde katjie ‘n tuiste


‘n Bondeltjie liefde al is haar voorpote gebreklik.

Toe Derrich Gardner hoor van ‘n gestremde katjie wat huis soek, of anders uitgesit sou word, het hy vinnig gespring om die katjie te probeer red. Die katjie se voorpote is nie reg ontwikkel nie, en krom en die katjie loop op haar elmboë.

Een van Derrich se Vat 5-gaste, Hanni Truter van Upington, het nie ‘n oomblik gehuiwer nie, en nou het Chloe ‘n liefdevolle huis. Derrich noem Chloe ‘Vat 5 se stertjie’.

Derrich vertel:

Ek het eendag op FB gesien iemand in Upington sukkel om vir ‘n gestremde katjie (twee krom voorbene) ‘n huis te kry. Hulle sou die katjie toe laat uitsit.

Ek het hulle dadelik gekontak en gevra om net bietjie te wag. Inderhaas is ek deur my lys van Vat 5 gaste om te kyk wie woon in Upington. Hanni Truter se naam kom toe op en ek e-pos en bel, en verneem toe dat hulle eie kat weggeraak het tydens hulle onlangse verhuising. Hanni het sonder om te skroom, die katjie aangeneem en haar CHLOE gedoop.

Chloe is nou al heelwat groter, doodgelukkig en bekwaam (en stout) ongeag haar krom beentjies. Sy en Tiger (die Yorkie) is groot vriende. Sy het in almal se harte ingekruip.

Video: Chloe in haar ma se pille-laai

Video: Chloe klim boom:

 

Chloe maak die Truters se lewens skatryk.

Chloe is nou al heelwat groter, doodgelukkig en bekwaam (en stout) ongeag haar krom beentjies. Sy en Tiger (die Yorkie) is groot vriende. Sy het in almal se harte ingekruip.

Soos ‘n wafferse meerkat staan Chloe regop as sy nuuskierig raak en iets wil sien.

Sy staan graag pen-orent om beter te sien.

Dankie aan Hanni-hulle wat sonder ‘n sekonde se huiwering die klein katjie aangeneem het.

Ek noem Chloe Vat 5 se Stertjie….

Hanni Truter, Chloe se “Ma” skryf só oor Chloe:

”Chloe het in ons lewens ingekom op ‘n baie besondere manier. Ons het verhuis van een huis na ‘n ander, met twee opregte yorkies, een “Upington special’ yorkie en Payton ons kat.

Payton het heel goed aangepas, maar ná 3 maande was sy net weg. Foto’s op Facebook, terug na ons vorige huis, navrae by veearts (ons het naby een gebly, en bly nou nog na aan hulle), het niks opgelwer.

Toe skakel Derrich en vertel ons van ‘n katjie (met ‘n gebrek) wat huis soek in ons omgewing. Ek het die katjie gekry, en met haar gebreklike voetjies en al, het sy diep in ons harte ingekruip.

Chloe op die lessenaar waar haar ma werk.

Enige iemand met ’n sagte plek vir troeteldiere sal saamstem dat dié wollerige vriendjies nie regtig troeteldiere is – hulle is deel van die gesin. Ons versorg hulle, gee vir hulle liefde, bederf hulle. En soos enige troeteldier-eienaar sal bevestig, is die liefde wedersyds.

My gebreklike vierpotige maatjie floreer onder ons liefde, maar sy ook goed is vir my geestes- en fisieke gesondheid. En Chloe is voorwaar so liefdevol, dat ek nie kan glo iemand wou haar summier doodmaak nie, net omdat sy gebreklik is nie!!!

Chloe is pragtig, en ‘n ware inspirasie. Sy hardloop in die tuin rond, hardloop op my skoot wanneer ek sit. Sy slaap soms bo-op my. Sy is ‘n ware vertroosting. Sy kom en lek met die ou skurwe tongetjie as ek “af” voel. Sy het my bygestaan toe my sussie oorlede is. Net op my kom lê en in my gesig gekyk asof sy wil sê: “dit is ok”. ‘n Ware stresverligter!!

Tiger en Chloe is onafskeidbaar

Sy moedig my aan om buite te wees – en te beweeg!! Hardloop en speel met die blomme, of skoenlappers. Sy klim selfs boom. Sy is ‘n lewende bewys dat mens nie moet gaan lê as van jou ledemate nie werk. ‘n Sagte bondeljie liefde!!! En sy en Tiger is beste maatjies.

Dankie Derrich!”

Video: Chloe loop by die trappe op:

Video: Chloe staan regop soos ‘n meerkatjie

 

Sy en die Yorkies is groot maats.

Chloe

Selfs die krom beentjies se naels word skerp gemaak teen die boom

Chloe en haar ma, Hanni Truter

Vas aan die slaap