Leon se Top 20 Flieks van 2020


Dit was ‘n rare en eintlik brutale, gruwelike jaar wat rolprente betref. Geen mens sou ooit kon raai dat films by die dood sou omdraai nie, maar darem nou tydsaam herrys. Van die top 20 films kom sommige natuurlik van stromingsdienste af en is nie in teaters uit gereik nie.

Nommer 20, Military Wives wat ons bietjie laat glimlag het,

nommer 19 The Sun is also a star oor twee verliefdes wat die sterre gesien het,

nommer 18, The True History of the Kelly Gang, ‘n baie wrede film oor die berugte en wrede Kelly Broers,

nommer 17 die verrassende Mulan,

Nommer 16 Bombshell oor die gruwels wat Roger Ailes teen vroue gepleeg het by Fox News, en

nommer 15 Greta Gerwig se verfrissende Little Women.

In plek nr. 14 Bad Education wat net ‘n TV-uitreiking geniet het. ‘n Geliefde onderwyser wat ook die skool se finansiële sake bestuur, steel die skool rot en kaal vir jare met ‘n onskuldige gesig en ‘n glimlag so breed soos ‘n snelweg. Hy is boonop gay en steek dit ook weg. Maar hy word later onverwags ontmasker deur ‘n leerder. Hugh Jackman het puik gestalte aan hierdie onderduimse kalant gegee in die swart komedie Bad Education op Netflix.

Plek nommer 13 gaan aan Christiaan Olwagen se dapper hervertel van Elsa Joubert se Poppie Nongena-verhaal. ‘n Vrou word na ‘n tuisland verban omdat haar pas nie in orde is nie. Maar die  hele stelsel is teen haar, en die film verduidelik hoe sy uiteindelik verstaan dat ‘n gewapende stryd voorlê. Clementine Mosimane het uitstekende spel as Poppie gelewer.

In die 12e posisie ‘n kunsfliek wat heeltemal ongewaardeerd verbygegaan het: Les Miserables. Dit is beïnvloed deur Victor Hugo se klassieke roman, en speel op dieselfde plek af. Dit is na  moderne tye verplaas wanneer straatbendes, meestal kinders en weerbarstige seuns en die polisie gewelddadig slaags raak.

Posisie nommer 11 gaan aan ‘ n riller wat skielik vanuit nêrens opgedaag het, en onverwags, drie weke voor die Covid-pandemie, nie net baie geld  gemaak het  nie, maar die riller-genre hernieu het: The Invisible Man. Die fliek is vol testosteroon en woema. ‘n Vrou se voormalige minnaar wat haar gevange gehou het (Elizabeth Moss speel haar uitstekend) raak onsigbaar en begin haar terroriseer. Maar sy het ‘n plan met hom… Dit is anders en heeltemal oorspronklik.

Plek nommer 10 gaan aan die plaaslike film Wesens wat feitlik niemand gesien het  nie. ‘n Boer ontdek iets vreemds op sy plaas en die mense van die omgewing kom kyk. Maar een van die siele sien meer hierin as die ander. Hoewel dit hoegenaamd nie kommersieel is nie, is dit die bakgat-verrassing van die jaar.

Nommer 9: Joe Mantello het Matt Crowley se uitbundige maar ook satiries-bytende The Boys in the Band verfilm met die verhoogakteurs, nadat die stuk op Broadway moes sluit as gevolg van die pandemie. ‘n Groep gay mans kom in Manhattan bymekaar en skeur mekaar met die tonge aan flarde. ‘n Paar harde waarhede kom uit.

In die agtste posisie is die woordryke drama The Trial of the Chicago 7.  Dit gaan oor ‘n groep wat in die jare sestig geprotesteer het teen die sinnelose oorlog in Viëtnam. Hulle word gearresteer en hof toe gesleep. Aron Sorkin, een van Hollywood se top draaiboekskrywers, het hierdie moeilike woordryke drama geregisseer.

In die 7e posisie is Autumn de Wilde se verrassende, amper moderne aanpassing van Jane Austen se Emma. Dit is die topklas-rolverdeling wat dit so kop en skouers  bo ander kostuumdramas laat uittroon. Ana Taylor Joy, wat the TV-reeks The Queen’s Gambit so ‘n suksevol gemaak het, is die selfsugtige Emma. Johnny Flynn, ‘n voormalige Suid-Afrikaner, en Josh O’Connor, wat prins Charles in The Crown speel, het Emma verder verryk.

Dan verstommend hoeveel Afrikaanse rolprente in die top 6 voorkom. Jozua Malherbe se ontsenuende drama oor Don Steenkamp wat tronk toe gestuur is vir die moord op sy ouers en suster, Griekwastad, is glo meer as 100,000 keer gekyk op televisie. Dis ‘n ware riller sonder sensasie.

Plek nommer 5 gaan aan Louw Venter se Stam, ook ‘n rolprent wat gestroom is en wat min mense gesien het, alhoewel dit op filmfeeste gewys het. ‘n Polisieman en sy  broer kry stry. Dan is daar ‘n straatvrou wie se seuntjie wegraak en nog ander verlore siele. Die hiper-realistiese en rateltaai Stam wys die Suid-Afrika van vandag.

In die 4e plek is Rene van Rooyen se manjifieke verwerking en regie van Dalene Matthee se Toorbos. ‘n Groepie bosbewoners word hardhandig uit die Knysnabos verwyder in die naam van vooruitgang. Maar dan raak ‘n gentleman, wat ook uit die  bos gekom het, op ‘n meisie verlief wat die bos nie van haar kan afskud nie. Stian Smith en Elani Dekker het uitgeblink in Suid-Afrika se inskrywing vir die 2021 Oscars as beste buitelandse rolprent.

In die derde plek is die pragtige The Personal History of David Copperfield. Dis ‘n besonderse intieme en raakvat hervertel van die storie. Dis ‘n onderspeelde, gesofistikeerde en treffende kunsfilm.

In posisie nommer 2 is die aweregse JoJo Rabbit waar ‘n seun geteister word deur die spook van Adolf Hitler, maar nie die Hitler wat ons ken nie. Dis ‘n vlymskerp satire en gitswart komedie wat eintlik ‘n klein rewolusie veroorsaak en almal in vervoering gehad het wat films ernstig opneem.

En die beste film van ‘n bedroeflike 2020 is 1917, Sam Mendes se taai oorlogfilm wat lyk of alles in een skoot geskiet is. Dit handel oor twee jong soldate wat ‘n lewensbelangrike brief deur vyandige gebied, bomme en landmyne moet vervoer.

Kom ons hoop dat 2021 beter sal vaar en dat teaters stadigaan na normaal sal terugkeer.