Luister weer: Bring vir Carli


Kan harde werk en musiek die geniale Tehan staande hou, tien jaar nadat sy lewe drasties verander het toe hy as eerstejaar-student oor die tou getrap het?

Dié radiodrama deur Janie Ligthelm en regie deur Anrich Herbst, word op 24 Desember 2020 uitgesaai.

Die storie

Tehan Kriel is ‘n geniale student wat oor die tou trap in sy eerstejaar op kampus. Tien jaar later lyk die lewe heeltemal anders vir hom (nou doktor) en sy vrou, met hulle drie kinders. Die verhouding met sy vrou is uitdagend en sy ma stel baie hoë standaarde. Om die uitdagings van die lewe te hanteer, neem hy sy ontvlugting in hard werk en die luister na musiek, maar gaan dit genoeg wees om hom staande te hou?

Melt, Deon, Susanne en Rolanda

Die spelers is
Melt Sieberhagen as Doktor Sebastehan (Tehan) Kriel,
Rolanda Marais as sy vrou Loura,
asook Susanne Beyers, Deon Lotz en Karli Heine.

Cassi, Rolanda, Deon, Susanne, Anrich, Melt en Karli tydens die opnames op 6 Okt 2020.

Deon Lotz en Susanne Beyers met Bring vir Carli Opnames 6 Okt 2020.

Regisseursvisie: Bring vir Carli

in die regisseurstoel. Anrich en Cassi.

Bring vir Carli het heelwat toneelwisselings, meer as gewoonlik. My eerste uitdaging was dus om seker te maak die hoorder weet sonder twyfel waar die karakters hulleself bevind.

Ek het swaar geleun op Cassi (tegniese en akoestiese regisseur) se leiding hierin.

Janie (skrywer) het voorstelle vir musiek gemaak. Ek het nie almal gehandhaaf nie, maar wel Schubert se impromptus, Op. 142, No. 1 wyd gebruik. ‘n Groot deel van my voorbereiding was om die korrekte momente in die fantastiese stuk musiek te identifiseer, en op die regte plekke in die teks te gebruik.

Die situasie waarin Dr. Sebastehan Kriel homself bevind was vir my aanvanklik vreemd, maar na heelwat nabetragting en gesprekke met vriende het dit in geloofwaardigheid toegeneem, en kon ek met selfvertroue die akteurs blootstel aan die mikrofoon.

Die suksesvolle aanpassings wat die SAUK en RSG moes maak om veilige radioteater produksies te laat geskied ten tyde van die kovid-19 pandemie, het die opnames beslis meer uitdagend gemaak. Twee mikrofone is gebruik in plaas van die bekende enkel mikrofoon, afgesonderde posisies in plaas van almal saam in ‘n bondel, die “buite” ateljee was skielik in ‘n aparte kamer en spelers moes met oorfone aan werk, maar niks hiervan het die kwaliteit negatief beïnvloed nie.

Radioteater in Suid Afrika kan vergelyk met van die beste in die wêreld. Die uitmuntende spel van gedissiplineerde spelers is een van die grootste redes hiervoor.