Luister weer na die dokumentêr: Calitzdorp se mense


In hierdie dokumentêre program van die eerste seisoen van 2017, kuier Haidee Muller by Calitzdorp se mense.

Dié dokumentêre program word op 19 Januarie 2017 uitgesaai.

Haidee reis altyd deur Calitzdorp om by haar tuisdorp, Oudtshoorn uit te kom. Sy het altyd gewonder oor die mense hier, wat hulle doen en wie hulle is.

Toe gaan maak sy ‘n draai op hierdie dorpie wat onder inwoners as die “port hoofstad” bekendstaan. Sommige ander verwys daarna as Kallieklip. Sy het ‘n hele paar mense se stories gehoor en vertel vir ons meer oor die plaasboer Klokkie, die taxi-ou met die rastalokke, Neale Coetzee, so ook van ‘n hele spul ander kleurryke mense wat in hierdie klein karoordorpie woon.

Luister hier na die program.

Plaasboer Johan Fourie, alombekend hier op die dorp as Klokkie. Hy het dié naam gekry omdat sy ma desjare ‘n vroedvrou was, en die swanger vroue ‘n klokkie gelui het as dit sulke tyd was.

Calitzdorp is ‘n besonderse dorpie, of so het Haidee agtergekom toe sy daar gaan kuier het. En die mense daar, vertel die lekkerste stories.

Taxibestuurder Neal Coetzee. Hy is gebore in die Kaap, maar bly reeds ‘n hele paar jaar op Calitzdorp. Hy bestuur taxi en vertel die mense hier sê nie meer vir hom waarheen hy moet ry nie, hulle neem aan dat hy reeds weet (die dorpie is mos klein en hulle reken hy behoort almal te ken). Hy sê hy is nie meer ‘n rasta nie, maar mediteer nou deesdae.

Die sjarme van die dorp in die winter