Wilhemina by die Parlementsopening


Ek is Wilhelmina Jaftha, 65 jaar en ‘n afgetrede onderwyseres. Ek bly in Ritchie, ‘n baie klein dorpie sowat 35km vanaf Kimberley langs die N12 na Kaapstad. Ek is ‘n weduwee en het twee seuns, Clive en Vincent. My oudste seun het van die kompetisie op RSG te hore gekom en toe my naam en nommer gesms. Sonder dat ek in my wildste drome so dink, bel Jody my terug en ek is deel van hierdie kompetisie.

Met al die vrae reg geantwoord, was ek gereed vir my eens-in-‘n-leeftyd geleentheid oppad na die parlements-opening.

Donderdag, 9 Februarie vlieg ek vanaf Kimberley tot in Kaapstad. Daar aangekom, word ons met ‘n bussie na die luukse Southern Sun Waterfront in Kaapstad geneem en ek gaan op die tiende vloer tuis. Om twee uur is ons oppad na die parlement en na bykans ‘n uur en half se stop en ry agv die strate wat toe is, kom ons by die parlement aan.

Hier word ons deur ‘n baie vriendelike dame (gids) deur die parlement op ‘n toer geneem, na verskillende kantore. Buite op ‘n balkon het sy ons Tafelberg en sy “tafeldoek” gewys. In een van die vertrekke het ons Mnr Roelf Meyer ontmoet wat met ons gesels het oor die grondwet van SA.

Na die toer het ons, ons sitplekke op die gallery ingeneem en gewag dat verrigtinge begin. Om 18:20 was almal bewus dat die EFF die parlement binne gekom het want daar was geweldige dreunsang. Verrigtinge het begin en later moes ons hoes en proes omdat daar iewers ‘pepperspray’ of iets gespuit was. Die president het sy staatsrede voltooi en ons is na buite. Hier kon ek met Mangasuthu Buthelezi blad skud.

Weer het die bussie ons kom haal en na weer ‘n uur en ‘n half was ons terug by die hotel. Hier het ek meer bekendes gesien soos ons eie premier, Sylvia Lucas. Foto’s neem met die bekendes was nou nie moontlik nie.

Maar na ‘n lekker nag in die hotel is ek terug na die realiteit en land Vrydagmiddag weer in Kimberley.

RSG – baie dankie vir die geleentheid – julle is tops! Dankie aan almal wat die geleentheid moontlik gemaak het, want min mense weet waar is Ritchie, maar ‘n inwoner was in die parlement by ‘n staatsrede wat min mense beskore is.

 

Wilhelmina Jaftha