Treffende foto’s deur luisteraars
Ons het op ons Ooggetuie-blad geloer, en van die mooiste luisteraarsfoto’s wat tussen 1 Desember en vandag geplaas is, hier bymekaargesit vir jou om te geniet.
Die foto’s is in geen spesifieke volgorde nie, en ons neem aan die foto’s is deur die sender gestuur en dat daar nie met ‘n ander fotograaf se kalwers geploeg word nie.

Besige by. Die bye op George is baie besig met die insameling van stuifmeel in ons tuin. 28 Maart 2018. Sender: Dot Reinecke.

Die mooiste boom in die wingerd. Toneel naby Rawsonville. ‘n Groen tapyt van wingerde. 16 Desember 2017. Sender: Jacques Hugo

Vinnige bad om af te koel. Mossie wys sy vrinne hoe mens dit doen. 30 Januarie 2018. Sender: Jacques Hugo.

Dorstige bye. Die bye begin water soek noudat dit so droog raak in Worcester. 30 Januarie 2018. Sender: Jacques Hugo.

Hluhluwe Dam loop oor 20 Feb 2018. Einde van ‘n lang droogte! Aan God die dank. 20 Februarie 2018. Sender: Johannes Meintjes.

Pjongjang metrostasie, Noord-Korea. Die platform op een van die metrostasies in Pjongjang. Een van die toerlede het die foto van my geneem waar ek staan en foto’s neem van die mosaïekmuur. 25 Februarie 2018. Sender: Tjaart Herbst.

Drakensberg – Sentinal. Jou tent is jou “paleis”! Die Drakensberg plato op 3000 meter bo seevlak is meestal plat en al vier seisoene kan binne een dag daar voorkom – reen, mis, wind, hitte en selfs sneeu – ja dit het al daar bo gesneeu op elke dag van die jaar! Die belangrikste stuk toerusting is dus jou tent! Daar binne is dit warm, cosy, daar is koffie, milo, proviant, soetighede, versnaperinge, ‘n warm donsveer bed (slaapsak) en nog alles en nog wat wat jou hart begeer – dit kom als uit jou rugsak wat jy saamdra tot bo! Binne die tent is daar ook moeë bene, seer voete, en lam knieë – maar dit is nie al nie – daar is ook ‘n warm hart wat klop van die besef van baie seeninge om gesond te kan wees om tot daar te kon stap – net gesonde mense kan daar kom! Ons het ‘n baie mooi land – ons moet dit net raaksien – en die lens van ‘n kamera fokus ons om dit mooi saam te vat en vas te vang en dan te deel met die wat nie daar kan kom nie! Maak dan seker jy klim minstens net een keer die Drakensberg in jou lewe indien jy gesond is – dan hoef jy nie te wonder hoe dit daar is as jou laaste gedagtes begin rondspring nie! 8 Desember 2017. Sender: Francois van Jaarsveld

Flambojant in rooi getooi. In Rubidastraat in Pretoria pronk hierdie rooier as rooi flambojantbome se blomme kwistig met pragtige groen bolletjies en klein geel blomblaartjies tussenin, maar jy moet stop, uitklim, tot op die middelmannetjie van die pad gaan staan en die skoonheid met jou sintuie gaan beleef. Pure kersfeesbome. Feestelik. 12 Desember 2017. Sender: Ria Viljoen.

Uitsig vanaf Tugelawaterval. Drakensberguitsig vanaf die Tugelawaterval. 11 Januarie 2018. Sender: Francois van Jaarsveld.

Nóg ‘n luisteraarsfoto van Vrystaatse wolke, dié slag by Harrismith Die foto is op 28 Januarie 2018 geplaas en is ingestuur deur Corrie Labuschagne.

Nuwejaar in die Waterfront. Ek het die foto uit die vuis geneem van Milnerton se kant af. 1 Januarie 2018. Sender: Altus Erasmus.

Supermaan geneem naby Musina. Dit was bewolk, maar ek is net ‘n oomblik gegun om hierdie foto te kan neem van die maan. 6 Desember 2017. Sender: René van Breda.