Luister weer na die post-pandemiese, distopiese drama Morgenster


Op Donderdag 15 April om 20:00 kom Philip Nolte se Morgenster, ‘n distopiese, post-pandemiese drama aan die beurt.

Frieda van den Heever is die regisseur van hierdie wenner van die derde prys in die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie van 2020.

Die spelers sluit in Johann Nel, Gideon Lombard, Antoinette Kellermann, Jana Strydom en Kay Smith.

Die storie

Dit is 2040 en Suid-Afrika is onherkenbaar. ‘n Distopie. Die post-pandemie regering het ekonomieë verander en beheer die land met ‘n diktatorshand. Provinsies is geskrap. Mure is rondom metropole gebou om die rykes en die armes te skei. Aardverwarming het veroorsaak dat somer verdwyn het en dat winter die wêreld deur die jaar omhels. In die armsalige uitstedige uitbreiding, Morgenster, is die inwoners desperaat en moedeloos in die gehawende omstandighede van hulle bestaan. So ook die middeljarige pessimis, Benjamin, wat elke aand op ‘n straatbankie voor ‘n kafee slaap. Een aand val daar ‘n jong engel, Azrael, met net ‘n wit onderbroek per ongeluk uit die hemel en Benjamin help hom onwillekeurig om terug te keer hemel toe. Maar hierdie reis tussen twee vreemdelinge word onopsetlik Benjamin se redding van sy bestaan. Benjamin se verlede word sy hede, sy toekoms verander en sy menslikheid word bevraagteken. En hy mag nie van Lucy vergeet nie…

 Karakters

Johann Nel

Benjamin (Johann Nel): Benjamin is 60, ‘n siniese wewenaar en bly op straat. Die lewe het hom ‘n paar taai klappe gegee. Hy het sy besigheid, geld en familie verloor en voel steeds skuldig oor die besluite wat hy in die verlede geneem het. Sy ma was ‘n konsertviolis en het hom van kleins af geleer om musiek te waardeer. Met die skaarste van CD’s in Morgenster was dit moeilik vir hom om op sy gunsteling klassieke Vivaldi konsert te vind, die Vier Seisoene. Sy donker sin vir humor en verdedigende houding is ‘n fasade om sy kwesbaarheid weg te steek.

Gideon Lombard

Azrael (Gideon Lombard): Azrael is ‘n jong engel wat in menslike vorm per ongeluk uit die hemel val en op ‘n manier weer moet terug boontoe. Hy is ‘n naïwe optimis en sien net die goeie raak in almal rondom hom. Planeet Aarde fassineer hom verskriklik en hy is tot ‘n mate opgewonde om hier te wees. Hy wil alles weet van Planeet Aarde en die mensdom. Azrael se naam beteken ‘hulp van God’.

Kay Smith

Maria (Kay Smith): Die uitgesproke Maria bestuur die Morgenster Cash ‘n Carry kafee. Sy verkoop die beperkte kruideniersware wat beskikbaar is. Oorskietkos van die stede word geprosesseer en vakuumverpak, en is die stapelvoedsel in Morgenster. Sy smokkel met lekkernye en bederfies (soos koffie). Maria dryf ook onwettig handel en verkoop CD’s en boeke. Biblioteke is jare terug gesluit om die gepeupel buite die mure ongeletterd te hou. Maria is nie op haar tong geval nie en is liefhebbend teenoor Benjamin al kan hy haar gereeld grensloos irriteer.

Jana Kruger

Lucy (Jana Kruger): Lucy is iemand uit Benjamin se verlede. Benjamin se verkeerde besluite het haar uit sy lewe gedryf en hy probeer haar met alle mag vind. Sy het hoop vir die toekoms maar sukkel om haar verlede te laat gaan, dus lewe sy meerendeels in isolasie.

Antoinette Kellermann

Tannie Daisy (Antoinette Kellermann): Tannie Daisy is ‘n nuuskierige bejaarde dame en die opsigter by ‘n ou verlate fabriek wat haweloses huisves. Sy kan moeilik wees, maar nie onredelik nie.

V.l.n.r. Kay Smith, Johann Nel, Jana Kruger, Gideon Lombard en Antoinette Kellermann met Frieda van den Heever (voor).

Die skrywer

Philip Nolte

Philip Nolte is ’n bekroonde skrywer, regisseur en inhoudsvervaardiger in the televisie- en fliekbedryf. Hy het in in 2010 sy BA Korporatiewe Kommunikasie en in 2012 sy BA Honneurs in Oudiovisuele Kommunikasie grade van die Universiteit van Johannesburg verwerf. Hy werk al vir nege jaar op verskeie realiteits-, kook en leefstyl programme. In 2017 het Philip vir eerste keer in die regisseursstoel in die drama genre gesit. Sy eerste kortfliek, Vossie Vergas Homself, met Tobie Cronjé en June van Merch, het al op 15 internasionale fliekfeeste se silwerdoeke verskyn en talle nominasies en pryse ontvang. Philip se laaste projek was as een van die skrywers en regisseurs van die bekende SAUK-reeks, Swartwater. Een van Philip se passies is om Suid-Afrika, in al sy kulturele glorie, se stories te vertel. Hy is ook gereeld verras wanneer sy vriende en kollegas lag terwyl hy ernstige stories vertel.

 Regisseursnota

Frieda van den Heever

Ek is altyd opgewonde oor ‘n boek of ‘n storie wat in die toekoms afspeel en as dit ‘n soort distopie voorstel, word die aanbiedingsmoontlikhede nog meer. Ek was ook van meet af mal oor die karakters wat Philip Nolte vir hierdie radiodrama geskep het en ek het ‘n baie spesifieke rolverdeling in gedagte gehad. Mense wat met hulle koppe en harte kan speel, want “to keep it real” in ‘n ander realiteit as wat ons ken, is nie altyd so maklik soos dit lyk nie.

Groot was my vreugde toe elke akteur wat ek in my kop gesien het vir die verskeie rolle die opnamedatum kon maak en in die ateljee instap daardie dag. Om te kan werk, en veral sáám met mense te kan werk, word nie tans onder elke bos uitgeskop nie. So die atmosfeer was gelaai met hartlikheid, oorgawe, intelligente spel, empatie, humor en sin van bevoorregting om in baie van ons se gunsteling medium – die radio – te kan werk in hierdie tyd. En ons het weer in lewende lywe kon ervaar (of dan eerder die teendeel daarvan): “There are no small roles, only small actors.”

Wat ‘n vreugdevolle ervaring wat my weereens gegun is!

Die voorgeskrewe Cassi Lowers-selfie!

Kyk na die video’s wat tydens die opnames gemaak is

Jana, Kay en Gideon.

Kay, Gideon en Antoinette