‘n Prettige kerkkoorkomedie sorg vir vakansievermaak


Die Vrystaatse aktrise en dramaturg Ilne Fourie se nuwe komedie, Halleluja Amen, word op Donderdag 17 Desember om 20:00 op RSG uitgesaai met Denver Vraagom as regisseur. Vraagom was ook onlangs die regisseur van Die Aasvoël wat besonder gewild was.

Die storie

Dit is ‘n baie belangrike dag vir Broer Gawerjal Grootwoord.  Die nuwe dominee op die dorp, Ds. Hendrik Hermanus Haasbroek, word vandag verwelkom en Broer Gawerjal het besluit om dit op ‘n gepaste wyse in te wy met lofgesang en hallelujas. Die kerkkoor het ‘n noodvergadering waar daar besluit gaan word wat hul gaan sing om die nuwe dominee te laat tuis voel.

Daar is egter een probleem – die kerkkoor kan glad nie sing nie… Boonop is daar slegs drie lede en sedert hul ontstaan het geen nuwe lede kom aanmeld nie. Tussendeur ‘n toondoof-dowe orreliste, ’n alkoholiese alt, ‘n suurpruim sopraan en ‘n Skouspel-sokkie-boob-bokkie moet arme Broer Gawerjal bontstaan om die spul te beheer en te laat harmoniseer.

Radioteater

DIE ROLVERDELING

Van links na regs: Ivan Abrahams, Annelize van der Ryst, Royston Stoffels, Celeste Matthews, Denver Vraagom, Esther von Waltsleben, Zenobia Kloppers

Broer Gawerjal Grootwoord – Ivan Abrahams

Koster Karel – Royston Stoffels

Bettie Bas – Celeste Matthews Wannenburgh

Hannah Hooglied – Annelize van der Ryst

Poppie Prinsloo – Esther von Waltsleben

Tannie Annie – Zenobia Kloppers

DIE REGISSEUR DENVER VRAAGOM skryf

Dank die Goeie Vader ons is almal heel uit daai koorkamer. ‘n Mens kan net soveel malheid in een vetrek hanteer.

Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit nou nie!? Om aan die ander kant van die “gordyn” te sit, met ‘n talentvolle geselskap, het hierdie regisseur se siel verskriklik baie verryk. Meer kan ‘n persoon nie voor vra nie.

Ilne Fourie kry dit reg om die malheid, die werklikheid en die menslikheid, so opreg vas te vang in hierdie skrywe van haar, jy voel sommer om weer by ‘n koor aan te sluit.

Cassi Lowers, soos gewoonlik, was weereens puik as dit kom by klankkeuses en suggesties. Wat ‘n jol is dit nie om saam met haar te skep nie.

Kobus Burger, my geselskap, Cassi Lowers, RSG & Magdaleen Kruger. . . BAIE DANKIE VIR JULLE VETROUE IN MY! As regisseur, is hierdie definitief een van my loopbaanhoogtepunte.

Aan ons luisteraars: Ek hoop van harte julle geniet die manewales van hierdie kerkoor(tjie)!

DIE SKRYWER ILNE FOURIE

Ilne Fourie

Ilne Fourie is ’n Vrystaatse akteur, regisseur en dramaturg en veral by RSG-luisteraars bekend om haar komedie, Sjarrap en eet jou kos!,

Sy voltooi haar graad in B.A. Drama en Teaterkuns (cum laude) in 2006 aan die Universiteit van die Vrystaat. Hierna ontvang sy ook haar Honneurs in skyfkuns waar sy haar studie fokus op vertaling en die invloed van politiek op skrywers voor en na 1994.  Ilne se dramaloopbaan begin in 2008 nadat sy die goue akteursprys ontvang vir haar vertolking as die weduwee Ant Vossie, in die komedie Die Begrafnis.  Die gesogte SPAT-prys (Sanlam Prys vir Suid-Afrikaanse Teater) word aan Ilne toegeken as algehele beste akteur.   

Dit is in hierdie tydperk dat Ilne debuteer met haar gewilde solostuk Impi. Sederdien is Ilne ‘n gereelde kunstenaar by verkeie nasionale kunstefeeste soos KKNK, Volksbladfees en Aardklop.  Hier vermaak Ilne gehore met haar stories, pittige waarnemings en komedies.

Ilne is ‘n ywerige regisseur.  Haar plekspesifieke drama Poppekas (Vryfees, KKNK 2013) het gehore laat regop sit. Sy skryf ‘n  komedie die-hoe-se-wie-se-wat-nou-weer spesiaal vir die geliefde akteurs-paartjie Elize Cawood en Wilson Dunster. Vir hierdie nuutgeskreewe teks, sowel as haar spel in haar nuuste solostuk ValenPYNsdag,  ontvang sy die gesogte toekenning vir Beste Vrystaatse Kunstenaar.

Ilne het haarself gevestig as Vrystaatse aktrise wat aktief betrokke is by die ontwikkeling van nuwe tekste vir die Universiteit van die Vrystaat se Drama department, asook skrywer vir die ATKV Tienertoneel bv. Victoria se geheim, Pappa Mia! Die V.V.V.V.V,  Duiwelsdans, Roadtrip, Bevange, Spoor en Eerste Liefde. Ander toneelstukke uit haar pen vir 2015 is: Vettie BoemBoem!, Skree(f), Ag My Moeder en Die Hemel het ‘n Chromosoom laat val saam met die Downsindroom Motiveringsspreker Shéri Brynhard …en vele meer.