4 Jagluiperdwelpies gered


Die span van Kuzuko Lodge, wat die leeu Sylvester suksesvol hervestig het sodat hy nou leier is van ‘n trop van 8 leeus, het onlangs ook vier jagluiperdwelpies van ‘n gewisse dood gered.

Gerhard de Lange van Kuzuko Lodge, het vir Amore Bekker op Tjailatyd vertel hoe dit gebeur het. Hier is die hooftrekke:

Die jagluiperdwyfie en haar vier welpies wat gered is.

Die span by Kuzuko, by die Addo Nasionale Park, was baie opgewonde toe die derde jagluiperdwyfie wat by Kuzuko in die natuur hervestig is, op 25 Mei geboorte skenk aan 4 klein welpies. Dit was die tweede groep welpies wat by Kuzuko in die natuur gebore is van ‘n jagluiperdwyfie wat in die natuur hervestig is.

Die wyfie, wat in aanhouding gebore is, is in Februarie vanjaar hervestig as deel van die Cheetah Breeding, Wilding & Release Project, wat gestig is deur Kuzuko Lodge en die Ashia Cheetah Conservation NPO.  Sy het binne dae nadat sy uit ‘n boma in die natuur vrygelaat is, begin jag.

Maar die aanvanklike vreugde oor die geboorte van die vier welpies het algaande plek gemaak vir kommer toe De Lange en sy span sien dat die welpies nie aan haar drink nie. Hulle het besluit om in te gryp, en het die wyfie weggelok, en ondersoek ingestel na die welpies. Hulle het gesien die welpies is baie uitgeteer en kan nie aan haar drink nie, want hulle sit aanmekaar vas omdat hul ma nie hul plasentas alles afgelek kon kry nie.

Die span het toe die welpies skoongemaak en teruggesit.

Toe die span later weer ondersoek ingestel, het die welpies ingeryg by hul ma gelê en gedrink. Hulle het sedertdien goed gegroei, en loop al rond. ”Sy is ‘n goeie ma,” sê De Lange.

Die derde jagluiperdwyfie en haar vier welpies.

Daar is so min wilde jagluiperds in Suid-Afrika oor, dat die land nie kon bekostig om die welpies te verloor nie, het De Lange gesê.

Die jagluiperd is mees bedreigde katspesie in Afrika. Hul getalle het gedaal van 100 000 in 1900, tot minder as 7 000 in 2019. Dit het noodsaaklik geword om etiese telingsprogramme soos by Ashia en Kuzuko in te stel om die langtermyn oorlewing met ‘n wye genepoel van die spesie te verseker.

”Jasmin was die eerste wyfie wat by ons aangekom het Augustus verlede jaar, sy is nou al heeltemal wild en selfversorgend. Ons het toe nog ‘n wyfie gebring in Februarie en sy het die drie kleintjies gekry en hulle doen baie goed. In Februarie het ons toe nog ‘n wyfie, die derde een, gebring en sy het vier kleintjies die 25ste Mei gekry waar ons moes ingryp en die naelstringetjies losmaak. Soos Jasmin en die ander twee wyfies, sal ander jagluiperds wat in aanhouding gebore is, in uitgesoekte bewaringsgebiede deur Ashia se hervestigingsprogram vrygelaat word. Dié vrygelate jagpuiperds se gene verskil van ander jagluiperds in die metabevolking, wat beteken dat hulle nuwe gene in die genepoel inbring en die spesie diversifiseer en versterk,” het Gerhard gesê.

Die tweede wyfie en haar 3 welpies.

Lees meer oor Kuzuko Lodge se jagluiperdprogram:

https://www.kuzuko.com/cheetahs/

https://www.kuzuko.com/activities/cheetah-encounters/