Veronique: Jou kat is baas, nie jy nie


RSG se personeel is passievol oor hul troeteldiere en deel hul beste wenke met RSG luisteraars.

Veronique van Heyningen-Pieterse

Veronique van Heyningen-Pieterse, regisseur van Middag op RSG, vertel meer oor haar katte.

Guiseppe

“Ek en my man, Johann het twee katte,  Giuseppe wat ook reageer op die naam ‘Peppe’,  asook Katryntjie of ‘Tryntjie-kat’.

Katryntjie is ‘n ‘tortoise shell’ en Giuseppe, glo dit of nie, is ‘n SAUK-kat wat omroeper, Christelle van Tonder in 2014 uit die parkeerterrein gered het.

“Katryntjie is die jongste toevoeging tot die gesin, nou 1 jaar oud. Sy is vreeslik liefdevol en hou baie van water asook boomklim, sy is veral lief daarvoor om in te lê.

“Peppe is die meer avontuurlustige een, en verken graag ander mense se huise in die kompleks waar ons woon. Peppe het ook ‘n talent vir deure en vensters oopmaak – iets wat ons nou nog sukkel om te vesrtaan.

“Ons katte is ons kinders. Ons verseker dat dié twee altyd iets lekker het om te eet, ‘n warm snoesige lê-plekkie het, asook genoeg speelgoed,  om moontlike katte-kwaad te vehoed wanneer ons nie tuis is nie.

Katryntjie hou ‘n speelding fyn dop.

Ek deel graag die volgende wenke vir mense wat belangstel om ‘n kat aan te skaf:

  • Die eerste en seker die belangrikste wenk is om jou kat te laat regmaak .
  • Tweede op die lys is om te verstaan dat ‘n kat maak soos hy/sy wil en dat jy nooit in beheer van ‘n kat is nie – hoe gouer jy dit aanvaar hoe beter.
  • Katte is baie sensitiewe diere, behandel hulle met dit in gedagte.

Guiseppe se oë is eintlik half-toe van lekkerkry.