Katot Meyer – natuurbeskermer


Katot Meyer op sy gelukkigste in die helder kabbelende water van die Keurboomsrivier naby De Vlugt in die Suid-Kaap. Foto: Heilie Combrinck

Ontmoet Katot Meyer, gewese landbou wateringenieur, wat al 20 jaar lank sy eie oorlog voer teen indringerbome en -plante in die Suid-Kaap. Mariska Spoormaker het hom in sy Pietersriviernatuur-reservaat gaan opsoek en baie meer verhale as net dié van dorstige indringerbome gekry.

En uit hierdie dokumentêre program oor Katot Meyer, kan ons aflei dat die stryd teen indringerplantegroei op permanente grondslag gevoer.

Agtergrond oor Katot Meyer

Jy sal Katot Meyer nooit sonder sy spuitkan teen indringers kry nie .. al is dit tydens sy onderhoud met Mariska Spoormaker in die Keurboomsrivier FOTO: Heilie Combrinck

In ‘n wêreld vol van gierigheid, ontwikkeling, aftakeling en natuurvernietiging, is die 72-jarige Katot Meyer, toegewyde natuur- en waterbeskermer, ‘n baken van hoop, skryf Mariska Spoormaker.

Katot Meyer = man van natuur, man van water

Wanneer laas het jy langs ‘n kabbelende rivier gestaan en hande vol suiwer,suiwer water gedrink?

Weet jy hoe klink ‘n lewenskragtige rivier?

Dié twee vrae spring vanself na vore wanneer enigiemand vra hoe was die kuier by Katot Meyer, want dit is op sy Pietersriviernatuurreservaat se oostegrens waar die bolope van die Keurboomsrivier só sterk en skoonhelder vloei.

Dit mag vergesog klink om te sê dit is alles danksy Katot, maar dié man voer al 20 jaar sy eie oorlog teen dorstige indringerbome. Die grotes, lankal gefel, is al deel van die aarde se humus, maar steeds bly jong indringers – veral die wattel en denneboom – opslaan op sy grond.

Net aan hierdie stuasie alleen te oordeel, besef n mens hoé ernstig is die indringerboom probleem, dit is ‘n stryd wat op deurlopende grondslag gevoer moet word, want ‘n terrein skoon van groot indringerbome beteken nié dat die nuwes weer sal inkom nie.

Maar terug na Katot Meyer (72), wat op sy gelukkigste is wanneer hy kaalvoet in sy eie veld, die rivier of in die stroomgebiede kan loop – nie filosoferend nie, maar met ‘n wakker oog vir enige indringer.

Met dieselfde passie waarmee Katot Meyer indringerbome uitroei, besing hy die werkvermoë van die Land Rover. FOTO: Heilie Combrinck

“Pietersrivier is in die opvangsgebied van die Keurboomsrivier geleë. Dis hoekom die dorstige indringers van my grond moet waai,” verduidelik hy toe ons hom laatmiddag nog aan die werk aantref by die tweelingdamme vlak by die grondpad.

“Jy kan maar sê ek is ‘n waterboer, maar niemand betaal my nie,” sê Katot nadat hy nóg ‘n wattel geknak en bespuit het. “Hoe minder indringers hoe meer water –hierdie Keurboomsrivier se water is vir verbruik vir die inwoners van Plettenbergbaai, Sedgefield en so aan. “

Die Pietersrivier natuureservaat is ‘n inheemse Eden sowat 22km van Avontuur in die Langkloof .Dit is skaars 5km van De Vlugt, ‘n piepklein nedersetting langs die R339 waar die Prins Alfred-pas (een van die pasbouer Thomas Bain se meesterwerke) die Keurboomsrivier kruis.

‘n Mens kan vir Katot in die oostelike voue van die Oueteniekwabergreeks gaan kuier – daar is basiese kampeergeriewe in die reservaat – maar onthou, alles wat jy soontoe inbring, moet jy weer uitvat.

“As ek hier asblikke vir gewone rommel insit, kan ek maar die plek sluit, want sal dit beteken die besoeker het nie hier kom leer hoe belangrik dit is om lig te trap waar jy loop nie,” verduidelik hy.

Net die goed wat kompos kan word (skille, pitte) mag in die komposemmers (só uitgemerk) agterbly. Onthou om die deksel weer terug te sit in sy stewige plek, want op dié reservaat is die bobbejane nog só wild, hulle assosieer mense nie met ‘wegneemetes’ nie.

Katot se voete lyk asof hulle duwweltjies tot snuif kan trap. Dra hy ooit skoene?

“Ja, na brande wanneer die indringers in duisendes uit die as opstaan en doodgespuit moet word. Dan moet ek kyk waar ek spuit om die indringers raak te spuit, ek kan nie kyk waar ek loop nie.”

‘n Groen spuitkan lê in die spaarwiel op die Land Rover se enjinkap. Katot skuif die kapmes terug in sy knyphouers wat aan die kant van die enjinkap gemonteer is.

Agterin in die Land Rover is daar onder meer n matras, kettingsae, gereedskap, gereedskaphouers, oliekanne en ‘n groen emmer. Katot is paraat vir enige indringer.

“Die indringers is rêrig soos die Fillistyne, hulle kom op jou af, dis amper soos die vierde nywerheidsrewolusie. Dis soos die cowboy-tyd, jy moet sorg dat jy altyd alles by jou het sodat jy op die plek die indringer kan uitroei.”

Katot vertel verder iemand het hom eendag gevra hoe sien hy die indringers so maklik raak.

“Met tyd spring hy in jou oog. Behalwe as dit droërig is, dan knyp sy blare toe, dan sien jy hom moeiliker in die fynbos raak.”

Net so “sien” hy watter soort mense kom kampeer op Pietersrivier.

“Daar is n verband tussen die voertuig en die mense wat daarin kom : As die rydingte veel blink – sê maar hier kom n Toyota aan met so ‘n  blink buffer, dan weet ek – die vrou sal uitklim en sê ek soek die beste kampplek.

“Dan sê ek mevrou, ek het net die tweede beste kampplek. Dan sê sy nee, sy kan nie, dan sê ek  mevrou, weet jy ek hou altyd die beste kampplek vir die onbekende kampeerder.”

Daar is ook die Burchill 4×4 roete wat op die Pietersrivier natuurreservaat gevolg kan word. Dit is ‘n sirkulêre roete, 20 km lank, duur enigiets tussen 4 en 6 ure en wissel tussen grade 3 en 4.

William Burchell het in die 1814’s  oor so 7 200km per ossewa deur suidelike Afrika gereis en 10 kilometer hiervan het oor  Pietersrivier gegaan.

“Burchell het ondersoek ingestel na die biodiversiteit tussen die Karoo en die kus. Toe hy hier verbygekom het, het hy al oor die 60 000 monsters geneem van plante. Sy wa was gepak, daar was dierevelle en allerhande goed.

“Hy het ook gesê dit voel vir hom met elke tree wat hy gee, hy ‘n ander botaniese tuin betree. Een van my fokusse op Pietersrivier-natuurreservaat is om hier te probeer om die biodiversiteit te probeer terugkry na wat dit was min of meer toe Burchell hierdeur getrek het. “

Teen Skuurberg, ook op Pietersrivier, kan jy nog sleeroetes uit die 1700’s sien.

“Voor die Groot Trek was daar al baie pioniers in die gebied. Dis waar die sleeroetes vandaan kom. By die steiltes het die osse vreeslik gesukkel met die vrag wat van agteraf stoot, dan het die manne ‘n blok, vasgemaak aan ‘n ketting aan die onderstel, onder die agterwiel gesit. Dít omvorm die ossewa in ‘n slee, want die wiel staan dan stil.”

Meer as twee eeue later staan ‘n mens by daardie sleepmerke nadat jy in ‘n vierwiel vastrapper tot vlak by dié punt gery het en jy voel piepklein in vergelyking met wat die manne van ouds bemeester het.

“Die idee agter die Burchill 4×4 roete is om te kom ry waar Burchell en die pioniers met die slee’s 250 jaar gelede gery het. Ek het nie die roete verander nie, dit is nog soos Burchell dit gery het.“

Katot sê egter die Burchill-roete is nog gesluit vir besoekers, groot brande in 2018 het groot skade aangerig. Sodra die veld genoeg herstel het en al die roetebordjies weer in plek is, sal hy weer die roetes oopstel.

Tot tyd en wyl dié roete weer oopgaan, kan ‘n mens langs die Rondekop-dam kampeer en die uitgemerkte voetslaanpaaie volg wat jou oor die lengte en breedte van die Pietersrivier natuurreservaat neem.

Kontak:

Meer besonderhede oor Pietersrivier natuurreservaat by  http://www.pnaturereserve.co.za/nature_reserve/contact

Jy kan Katot Meyer ook bel by 082 0839967. As hy in seingebied is, sal hy antwoord. Stuur ‘n sms wanneer dit direk oorgaan na stempos.Hy sal terugbel wanneer hy weer in seingebied is. Onthou, dit mag n paar dae later wees.

Jy kan ook  ‘n e-pos na attakwas@cybersmart.co.za stuur.

 

ID: KatotMeyer1FOTOHeilieCombrinck

Katot Meyer op sy gelukkigste in die helder kabbelende water van die Keurboomsrivier naby De Vlugt in die Suid-Kaap. Foto: Heilie Combrinck

 

ID KatotMeyer2FOTOHeilieCombrinck

Jy sal Katot Meyer nooit sonder sy spuitkan teen indringers kry nie .. al is dit tydens sy onderhoud met Mariska Spoormaker in die Keurboomsrivier FOTO: Heilie Combrinck

 

ID: KatotMeyer3FOTOHeilieCombrinck

Met dieselfde passie waarmee Katot Meyer indringerbome uitroei, besing hy die werkvermoë van die Land Rover. FOTO:HeilieCombrinck