Ken jy die geelhout?


Aangeplante opregte geelhoutboom

Het jy geweet geelhoutbome kan tot 1000 jaar oud word?

Dis een van die  feite wat in Oggend op RSG duidelik word.

Luister vanoggend na Oggend op RSG om meer uit te vind oor ons nasionale boom.

Daar is vier soorte geelhoutbome in Suid Afrika, waarvan die opregte geelhout (Podocarpus latifolius) en die Outeniekwa geelhout (Afrocaprus falcatus) die bekendste is. Beide is bome wat van die Wes Kaap tot in Limpopo in woude groei.

Reusagtig groot
Outeniekwageelhoutbome kan reusagtig groot word en die sogenaamde Groot Bome wat in die Knysna en Tsitsikamma woude groei lok meer as honderdduisend besoekers per jaar. Hierdie bome groei tot 40 meter hoog, met groot krone en stamomtrekke wat dikwels meer as 7 meter reik. Opregte geelhoutbome word tot 30 meter hoog. Verskeie Outeniekwageelhoutbome is as kampioenbome verklaar, insluitend die Tstiskamma Groot Boom wat langs die N2 nasionale pad staan.

Jaarringe
Geelhoutbome is van die min sagtehoutspesies in die land wat duidelike jaarringe wys. Outeniekwa geelhoutbome kan tot ‘n duisend jaar oud word. In die George museum is daar ‘n deursnit van so ‘n stomp met jaartalle by die jaarringe aangedui wat strek vanaf die boom se ontkieming in die middeleeue. Die manlike en vroulike bome ontwikkel keëls wat soos miniatuur denne keëls lyk. Op die vroulike keël ontwikkel daar ‘n uitgroeisel bekend as ‘n podocarpium, waarop ‘n vlesige saad ontwikkel.

In 1976 is die geelhout as nasionale boom verklaar. Hoewel daar redelik wyd aanvaar word dat dit na die opregte geelhout verwys, skryf die afgetrede bosbouer en boomkenner Neels Esterhuyse dat onlangse ondersoek geen rekord kon oplewer wat onomwonde staaf dat die ander plaaslike geelhoutsoorte spesifiek uitgesluit is nie. Al vier geelhoutspesies is as beskermde bome verklaar, wat beteken hierdie bome mag nie sonder ‘n lisensie gekap of beskadig word nie. Hierdie bome word beskerm omdat hulle waardevolle hout het wat tot houtontginning kan lei, en ook omdat hulle sleutelspesies is wat ‘n belangrike ekologiese rol vervul.

Geelhout kry sy naam van die ligte, ietwat gelerige hout. Onverwerkte geelhout is sowat R3500 per kubieke meter werd, maar in verwerkte en behandelde plankvorm is die waarde baie hoër. ‘n Soliede geelhouttafel is ‘n skaars item, en kan maklik meer as R50 000 kos. Die ligter geelhout word dikwels met donker stinkhout as kontras gebruik in meubels soos die bekende jonkmanskas wat sedert die negentiende eeu gemaak word.

Houtkappers besig om ‘n opregte geelhoutboom te vel in die 1880s

Houtkappers in die Knysnawoude
Sedert die agtiende eeu is geelhoutbome toenemend gekap vir die koloniale houtbehoeftes, veral vir dakbalke, houtvloere, waens en spoorweg dwarsleêrs. In die Knysnawoude was daar ‘n paar honderd houtkappers bedrywig, en die aktiwiteite het mettertyd noordwaarts uitgebrei soos wat die ander kolonies tot stand gekom het. Vandag nog is daar oorblyfsels van saagputte sigbaar vanaf die Knysnawoude tot in die Soutpansberg se woude. Die laaste houtkappers is in dorpies gevestig toe die woude in 1939 gesluit is vir houtontginning. Vandag word geelhoutbome in klein hoeveelhede in die Knysnawoude en die Amatolawoude ontgin vir die meubeldryf, en slegs bome wat besig is om dood te gaan word ge-oes.

Weens streng beheer word geelhoutbome word tans nie ernstig bedreig nie, behalwe in enkele afgeleë woude waar onwettige bedrywighede al plaasgevind het. In een ernstige geval in KwaZulu-Natal is ses mense tot tronsktraf gevonnis weens die kap van 86 geelhoutbome. Die woude waar die bome groei word ook nie deur brande ge-affekteer nie. Tydens die onlangse brande in die Suidkaap het die natuurlike woude min skade gelei, en is slegs bome op die woudrand geaffekteer. Dit is ‘n bekende feit dat natuurlike woude nie brand nie, behalwe vir klein geisoleerde struikwoudareas langs die kus.

Outeniekwa geelhoutbome

Die opregte geelhout en Outeniekwa geelhout word redelik baie in tuine en as straatbome aangeplant. Die bome groei stadig tot matig vinnig. In tuine sal dit normaalweg nie naastenby so groot word soos in die woude nie, en dan word dit gewoonlik ‘n boom van middelslag grootte met krone wat nie wyd sprei nie. Geelhoutbome kan selfs sukkel om te groei in ongunstige toestande soos swaar ryp, droë klimaat of swak gronde. Daar is wel ‘n paar Outeniekwa geelhoutbome in die Wes Kaap en KwaZulu-Natal aangeplant so honderd en vyftig jaar gelede, wat groot afmetings bereik het.

Mense wat die bome aanplant moet aanneem dat die bome redelik groot mag word en nie te naby aan mure plant nie. Geelhoutbome is tweeslagtig en vrugtevlermuise wat die vrugte van vroulikte bome vreet kan dakke en mure kwaai bemors. Die vlermuise versprei die sade van Outniekwageelhoutbome in stedelike gebiede, en in sekere dele van die Kaapstadgebied versprei die bome soos ‘n onkruid. Die skaars Knysnapapegaai vreet ook die vrugte van Outeniekwageelhoutbome, en broei feitlik uitsluitlik in hierdie bome. Dit is ‘n goeie voorbeeld van ‘n voëlspesie wat vir sy voortbestaan grootliks van ‘n spesifieke boomspesie afhanklik is.

Knysna papegaai by die Birdlife SA rehabilitasie sentrum in Hogsback

Alhoewel die vier geelhoutsoorte beskerm word, mag dit gekweek en in tuine aangeplant word sonder lisensie. Hierdie wetlike vrystelling sluit ook in dat tot ‘n kwart van die krone sonder lisensie gesnoei mag word, maar vir die kap van geelhoutbome (selfs in tuine) moet aansoek gedoen word aan die relevante provinsiale streekskantoor van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

Die geelhout is die boom van die jaar in 2018.

Vir meer inligting kan navrae gerig word aan Mnr Izak van der Merwe by izakvdm@daff.gov.za . Die webwerf plantzafrica.com bevat ook goeie inligting oor die verskeie geelhoutboomspesies.