RSG Landbou groet Dr Chris Viljoen


Die bekende aanbieder van RSG LANDBOU (ELSENBURG), dr. Chris Viljoen, tree af, en die nuwe aanbieder in sy plek is Eloïse Pretorius. Met Chris se wye kennis, kundigheid en kontakte in die Landbou-wêreld, laat hy groot skoene om vol te staan. Maar Eloïse is opgewonde oor haar nuwe uitdaging.

Dr Chris Viljoen

Wees gegroet Dr Viljoen
Hierdie week groet ons die bekende stem agter RSG Landbou, voorheen bekend as Radio Elsenburg, dr. Chris Viljoen. Dr. Viljoen se loopbaan agter die mikrofoon strek byna 50 jaar. Hy het begin as ‘n omroeper op die destydse “Calling all Farmers” en het sedertdien ononderbroke landbouradioreekse vervaardig en uitgesaai. Sy vasberadenheid en deursettingsvermoë om stories en sake van die dag wat die boer raak, na te vors, op te neem en uit te saai is wat die radioreeks uitsonderlik gemaak het.

Elkeen wat al ‘n radio onderhoud met dr. Viljoen gedoen het, sal beaam dat hy ‘n ware heer is, wat net altyd sy gassprekers op hulle gemak laat voel het en nooit omgegee het om te redigeer totdat die spreker gelukkig was met die eindresultaat. Hy het alles met presisie en passie gedoen. Die Landbousektor erken dr. Viljoen as ‘n legende. Die uitstekende inhoud wat hy oor die jare gegenereer het sal altyd voortleef, danksy die wonderlike inligtingsera waarin ons leef. Dr Viljoen se laaste twee bydraes word Vrydag, 16 November om 04:45 en Saterdag, 17 November om 11:45 op RSG uitgesaai.

 

Eloise Pretorius

Welkom Eloïse
Op die skouers van hierdie radio-reus, staan die nuwe stem van RSG Landbou, Eloise Pretorius.  Eloise is ‘n bekwame joernalis en ervare radio omroeper. Ons luisteraars van die Vrystaat sal dadelik haar naam en stem herken nadat sy 14 jaar lank agter die mikrofoon was by OFM. Sy het 6 jaar gelede die Rosestad verruil vir die berg en see van die Kaap en was aanvanklik die oggendstem op SmileFM en het later haar eie program op die radiostasie gekry.

Eloïse is opgewonde om die Landbousektor en sy mense te leer ken en is ywerig om stories en nuus te deel wat die mense van Landbou ingelig en geïnspireerd sal hou. Sy het baie groot skoene om te vul, maar sy gaan hierdie uitdaging met albei hande aangryp en haar eie stempel afdruk. Eloïse se 1ste program word Vrydag 23 November om 04:45 op RSG uitgesaai.