Met ‘n rugsak deur die Filippyne


Stefanie Vos by Martelize in die ateljee.

Stephanie Vos vertel vir Martelize Brink van haar avonture as rugsakreisiger in die Filippyne.

Avontuur en ongerepte natuur wag in die Filippyne, skryf Stefanie Vos:

As ek my ervaring in die Filippyne in een woord moet vasvang, is dit avontuur. Dis ‘n paradys vir enige buitelewe entoesias, met van die mees ongerepte natuur wat ek tot dusver in Suidoos-Asië teëgekom het.

 

Meer as 7000 eilande
Die Filippyne sê spottenderwys dat hulle land uit 7107 of 7108 eilande (sedert 2018 is die offisiële getal 7 641) bestaan – afhangend van die gety.

Wat dit vir ‘n avonturier beteken is ‘n wateraktiwiteitsparadys vir feitlik elke belangstelling: wêreldklas surf-strande, skuba- en snorkel-oases, ‘island-hopping’ per kajak of per motorboot (of bangkas, soos die plaaslike bote bekendstaan), of sommer net ‘n seedag van strandlê en swem.

Sommige eilande, soos Siquijor, is bekend vir die poskaartagtige poeierwit strande, turkoois water en kokosneutbome. Ander, soos Boracay vir hul partytjies en naglewe. En ander, soos Palawan, is bekend vir die ongerepte natuurskoon en asemrowende koraal.

Sjokolade heuwels en rys-terrasse
Die Filippyne is egter nie net ‘n see-mekka nie, die binneland bied ook onmisbare ervaringe.

Die sogenaamde ‘Sjokolade Heuwels’ (Chocolate Hills) van Bohol is een voorbeeld, asook die Ifugao-rysterrasse in die Cordilleraberge van Luzon – ‘n UNESCO Wêrelderfenisgebied en myns insiens ‘n móét vir stapentoesiaste.

Die terrasse is sowat ‘n duisend jaar gelede teen die berghange uitgekerf, en rys word vandag nog daar op die tradisionele wyses verbou.

‘n Mens kan dié area meerendeels net te voet verken weens die gebrek aan paaie in die bergterrein.

Ons drie-dag staptog deur die Ifugao rysterrasse vanaf Banaue, deur klein nedersettings soos Cambulo en Batad waar stappers aan huis by plaaslike families bly, was ‘n hoogtepunt van ons reis.

Manila met sy byna 13 miljoen inwoners
‘n Besoek aan die hoofstad, Manila, is ‘n integrale (en waarskynlik onvermydelike) deel om die land en sy mense te verstaan.

Dis ‘n uitgespreide metropool van sowat 12.8 miljoen inwoners.

‘n Tipies Asiese stad, is dit dig bewoon en taamlik chaoties, met wolkekrabbers wat Sandton se sakekern verdwerg.

‘n Drankie by ‘n rooftop bar in ‘n trendy area soos Makati of Bonifacio Global City voel amper soos ‘n New York-ervaring in die ooste.

Meeste Manila-bewoners verhuis daarheen vir werk, maar het families (of familiebande) in die ‘provinsies’, soos die locals daarna verwys.

Vakansies gaan kuier meeste stadsbewoners by hul families in hul plek van herkoms – iets om in gedagte te hou met vlugbesprekings.

Danksy vyftig jaar van kolonisering deur die Amerikaners in die eerste helfte van die twintigste eeu (ná sowat 300 jaar as ‘n Spaanse kolonie), is Engels wydgesproke, wat toerisme vir Engelsmagtiges baie toeganklik maak.

Sowat 83% van die bevolking is Katoliek, wat beteken dat Kersfees en Paasfees groot feesseisoene is.

Ons was in Desember in die Filippyne, en het uitvoerige kersversierings en opgeruimde kersliedjies feitlik oral en soms ad nauseum teëgekom (dink ‘n oornag busrit met kersliedjies teen die bestuurder se verkose volume).

‘n Paar realiteite van eiland-lewe is nuttig om te noem vir diegene wat ‘n reis daarheen beplan:

  • Die groter stede van die onderskeie eilandgroepe is goed gekonnekteer met Manila deur plaaslike vlugte, wat volop en goedkoop is (vergelykbaar met vlugkaartjies tussen Kaapstad en Johannesburg).
  • Reis na die kleiner eilande vanaf hierdie ‘gateways’ is meestal per boot of per ferry, en is dus onderworpe aan seetoestande.
  • Eilandweer is onvoospelbaar. Tropiese siklone kan die see onbegaanbaar maak en meeste buitelugaktiwiteite in die wiele sal ry.
  • Weersomstandighede is egter baie area- en seisoengebonde (siklone is meer algemeen tydens sekere seisoene, en ‘n sikloon twee eilande verder mag skaars ‘n impak hê waar jy jouself bevind). Dit is wel ‘n goeie idee om reisplanne buigbaar te hou, en ‘n paar ekstra dae in te werk indien weerstoestande nie jou aktiwiteite of bewegings op ‘n spesifieke dag toelaat nie.
  • Al het toerisme die afgelope dekade geweldig toegeneem het, voel meeste plekke nog nie oorrompel deur toeriste nie. Die landskap is egter besig om vinnig te verander in gewilde plekke soos El Nido (Palawan), waar nuwe hotelle en strandoorde teen ‘n verbysterende spoed verrys. En alhoewel Palawan homself bemark as eko-bewus en toerisme beheer (sommige gewilde bestemmings word op tye gesluit), laat groot getalle besoekers wel ‘n voetspoor op sensitiewe natuurverskynsels soos koraal en eilandmere. Dit gesê, skep toerisme aansporings en geld vir bewaring, asook werksgeleenthede vir die plaaslike inwoners.
  • Die toerisme-bedryf is oor die algemeen goed uitgelê, met goed-georganiseerde inligtingsburo’s van waar toeriste maklik self aktiwiteite en plaaslike gidse kan bespreek.
  • Terwyl pad- en seevervoer soms tydrowend is, kan mens maklik met minibusse, busse en, vir kort afstande, tricycles (motorfietse met sykarretjies) oor die weg kom.
  • Verblyf is baie bekostigbaar: teen dieselfde tarief as ‘n gastehuiskamer in Suid-Afrika, kan mens ‘n lieflike chalet in ‘n lekker strandoord in die Filippyne kry.
  • ‘n Groot deel van die reiservaring is die Filippyne se vriendelikheid. Dis maklik om met mense te geselsies aan te knoop en grappe te ruil danksy Engels as gemene taal – dis iets wat nogal uitstaan in vergeleke met ander bestemmings in Suidoos-Asië.

Klink snorkel met walvishaaie, skuba met mantas, skemerkelkies op idilliese eilande of ‘n tatoeërmerk deur ‘n honderdjarige tradisionele tatoeërkunstenaar soos jou idee van pret? Voeg dan die Filippyne op jou bucket list.