Meneer Mol se nuwe huis: 65 jaar later


Watter lekkerte is dit nie om in die 80 ste bestaansjaar van Afrikaanse radio ‘n briefie en foto’s te kry wat ons omtrent 65 jaar terug vat. Hier is die storie van een van ons getroue RSG-luisteraars, Denise Fourie (foto links).

“Toe ek ‘n kind was,het ek gereeld na kinderprogramme op die radio (dradeloos) geluister. Een dag gedurende een van kinderprogramme het die SAUK ‘n kompetisie aangebied. Ons moes, as ons wou inskryf, ‘n poskaart instuur met die antwoord. Ek onthou nog dat ons nie briewe kon gebruik nie omrede dit te lank neem om koeverte oop te maak. Ek was baie opgewonde toe ek meegedeel was dat ek die kompetisie gewen het – dit was toe ek 9 or 10 was (1952). Daai dae was daar mos nie e-pos en sulke dinge nie.

Ek is n baie sentimentele mens en hou dinge wat baie vir my beteken, veral dinge van my ouers en my jong dae. Toe ek nou weer die op die boek afkom, besluit ek om vir julle foto’s van die boek te stuur.

Ek luister nog elke dag na RSG, en geniet dit nog dieselfde.

Groete

Denise Fourie”

En die Tannie Douwlina wat die boekie geteken het, was die bekende radiopersoonlikheid Douwlina Grobler, vrou van die legendariese uitsaaier Fanus Rautenbach.