RSG vier 80 jr van Afrikaanse radio met nostalgie


Ons het Vrydag ‘n spesiale program om 80 jaar van Afrikaanse radio te vier.

Maak seker jy’s Flink uit die vere op Vrydag 27 Oktober, want om 05:00 skop RSG se verjaarsdag af met hierdie program van Fanus Rautenbach (illustrasie links) uit die argief. Fanus was die voorganger van moderne ontbytprogramme op radio.

Om 08:00 klink Praat Saam effens anders met historiese momente uit die eerste vyf dekades van Afrikaanse radio. Chris Swanepoel kyk na nuuswaardige gebeure van 1938 tot 1976, waarna gaste verder oor die tema sal gesels.

Die Oggend op RSG-span onder leiding van Johan Rademan en Martelize Brink bring ‘n baie spesiale Vrouerubriek uit argief aangesien die spesifieke episode ook ‘n 20ste verjaarsdagprogram was waar vele oudomroepers en medewerkers gesels oor hulle bydrae tot Vrouerubriek. Jy kan die stemme hoor van onder andere Audrey Blignaut (foto regs) en Monica Breedt.

Die Kaapse ateljee sal ook propvol wees met mense wat vroeër jare by Afrikaanse radio betrokke was, soos Antoinette Duvenhage, Dawid van Lill, Marius du Plooy wat Uitspan op die Hollandse werf en Monitor aangebied het, en Susan Voormolen.

Kort ná die 12:00 nuus op Middag op RSG, sal die stasiebestuurder, Magdaleen Krüger, haar spesiale boodskap en gelukwensing aan al die luisteraars lewer. Dan is daar nog ‘n skat uit die argief – Stadig oor die klippe.

Die jolyt en feestelikheid gaan voort met heerlike musiek en gelukwensinge van verskeie bekendes wat spesiaal vir RSG gestuur is. Luisteraars is ook welkom om boodskappe aan die stasie te stuur deur Twitter (@zarsg #80Jaar), SMS’e na 45770 teen R1.50 per sms, of regstreeks na die ateljee via www.rsg.co.za

Die verjaarsdag word afgesluit met argiefmateriaal van Saterdagspieël, wat tydens Oppiradio om 20:30 uitgesaai sal word. In hierdie program gesels Fanus Rautenbach met Rudi Neitz (foto links) en sy vrou oor die lewe van ‘n kunstenaar, en hoe dit sy familie en persoonlike lewe beinvloed. Daar is ook ‘n skets van iemand wat voorgee hy is Rudi Neitz, en dan soos Rudi sing!

In aanloop tot die verjaarsdagdag, is daar ‘n spesiale dokumentêre reeks wat deur Anita Visser, aanbieder van Monitor saamgestel is, en vanaf Maandag 23 Oktober tot Vrydag 27 Oktober net ná die 07:00 nuus uitgesaai word. Die reeks se fokus is van menslike drama en oorlog tot politieke gebeure en sukses en swier.

As deel van RSG se 80 jaar-vieringe, is daar ook ‘n kompetisie waar vier luisteraars ‘n wegbreeknaweek kan wen. Gaan na www.rsg.co.za vir meer inligting oor hoe om deel te neem. Die kompetisie sluit op Vrydag 3 November om 12:00.

Gaan luister ook na al die 80 Jaar-programme op potgooi by http://rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=383.

‘n Paar foto’s is ook opgediep en afgestof om ‘n blik in die verlede te gee. Jy kan daarna kyk by http://www.rsgplus.org/nostalgie/afrikaanse-radio-80-jaar-op-lug/.

Ook op sosiale media het ons die 80 jaar gevier: http://www.rsgplus.org/nostalgie/80-jaar-van-afrikaanse-radio-op-sosiale-media/

Hier’s op 80 jaar van Afrikaanse radio! RSG – dis die een!