Pessiekte in Madagaskar: WGO waarsku


Spektrum: Donderdag 26 Oktober 2017

Moenie paniek saai nie, maar wees paraat. Dit is die raad van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes met betrekking tot ‘n waarskuwing dat builepes in Suid-Afrika kan uitbreek. Suid-Afrika is een van nege lande wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gewaarsku is, soos Hanri Wondergem berig.

Nuus: 25 Oktober

Die dodetal in Madagaskar weens die uitbreking van builepes op die eiland het tot 124 gestyg. Builepes is endemies aan die Indiese Oseaan-eiland waar die jaarlikse seisoen van September tot April strek. Die seisoen het egter vanjaar vroeër begin en baie meer mense is geraak. ‘n Professor aan die Londense skool vir higiëne en tropiese medisyne, Brandon Wren, sê vanjaar se uitbreking is ernstiger as gewoonlik en die meer as duisend gevalle wat reeds aangemeld is, is heelwat hoër as gewoonlik. Wren sê dit wil voorkom of ‘n ander vorm van dié dodelike siekte oorgedra word en dat dit meer oordraagbaar is as in vorige jare.

21 Oktober 2017
Die regering van Madagaskar sê die dodetal weens die uitbreking van builepes op die eiland het tot 107 gestyg. Die eiland se ministerie van gesondheid sê meer as duisend gevalle van die dodelike siekte is reeds aangemeld. Die meeste van die pasiënte is met die hoogs gevaarlike en maklik oordraagbare longpes, wat ‘n vorm van builepes is. Die jongste syfer volg nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie gister bekendgemaak het dat die dodetal op 94 staan. Dit beteken dat nog dertien mense intussen dood is. Builepes is endemies aan Madagaskar waar nagenoeg 400 gevalle jaarliks aangemeld word.

 

Monitor
Suid-Afrikaners word aangeraai om eerder reisplanne na Madagaskar uit te stel. Die Groot Pes oftewel Swart Dood in Madagaskar het reeds meer as 50 lewens geeis en meer as 500 is dodelik siek. Skole is gesluit en massabyeenkomste is voorlopig verban. Op lughawens, in banke en elders by openbare plekke word maskers gedra om te probeer om die verspreiding van die pes te keer.

Dr Albie de Frey van die reiskliniek, The Travel Doctor, het vir Hanri Wondergem gesê as Suid-Afrikaners geen ander keuse het as om na Madagascar te reis nie, is daar wel voorsorgmaatreëls wat getref kan word.

Die Swart Dood (bubonic plague) is ‘n bakteriële infeksie wat deur die bakterie Yersinia pestis veroorsaak word en dit word oorgedra deur vlooie wat besmette knaagdiere gebyt het en dan die mens byt.

Die pes kan op drie maniere voorkom:
as bubonic plague oftewel Vlooi-pes
Septicemic plague oftewel algehele liggaamsinfeksie-pes
of pneumonic plague oftewel long-pes.

Verskeie soorte antibiotika is doeltreffend teen die pes-bakterieë, maar vroeë behandeling is nodig.

Die eerste simptome is baie soos griep. Maar dit tas die hele liggaam aan en kan tot gangreen en die dood lei.

Nuus 4 Oktober 2017
Die dodetal weens ‘n uitbreking van builepes en longpes in Madagaskar het tot minstens 24 gestyg terwyl owerhede sukkel om die verspreiding van die siekte te keer. Owerhede het reeds groot openbare byeenkomste in die hoofstad Antananarivo verbied. Vyf mense is in die hoofstad dood, insluitend die afrigter van die Seychelles se basketpalspan, Alix Allisop, wat op besoek aan Madagaskar was. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het bykomende personeel en voorrade op die eiland ontplooi om te help om die verspreiding van die siekte te verhoed. Minstens 114 gevalle is tot dusver bevestig.

Lees meer oor die huidige uitbreking van die Swart Dood (bubonic plague) in Madagaskar en ook nou in die Seychelle-eilande:

http://www.who.int/csr/disease/plague/en/

http://www.sciencemag.org/news/2017/10/deadly-plague-epidemic-rages-madagascar

http://edition.cnn.com/2017/10/16/health/madagascar-pneumonic-bubonic-plague-outbreak-continues/index.html

https://en.wikipedia.org/wiki/Bubonic_plague