RIV RSG-rugbykommentator Stephan Cloete


Deur Jóhann Thormählen

Vir RSG-luisteraars was sy stem sinoniem met Saterdae se rugby, veral dié vanuit die Vrystaat. Om ’n wedstryd uit hierdie kontrei sonder Stephan Cloete se kenmerkende beskrywings te luister klink byna onwerklik.

Die bekende Vrystaatse radioman het onder meer rolle van seremoniemeester, sportkoördineerder by korrektiewe dienste, sportaanbieder en verslaggewer op Radio Rosestad, Onder-voorsitter van die Oud-Greys sportklub, beheerliggaamlid van die Hoërskool Sand du Plessis en Dr Böhmer, asook trotse lid van die destydse Vrystaatse Sportskrywersvereniging, beklee.

Stephan (53) is op 27 Augustus 2020 oorlede nadat hy die laaste tyd weens diabetes-verwante probleme in die hospitaal was. Hy is egter onlangs ontslaan en tuis oorlede.

Hierdie groot gees het nie net vir sport geleef nie, maar ook op verskeie vlakke, soos bo genoem, sport gedien.

Stephan was bekend vir sy humorsin, ook op die lug. As jy hom ooit ontmoet het, sou jy altyd sy vriendelikheid en grappies onthou. Boonop was daar ’n rits lekker staaltjies van agter die skerms ter sprake as hy betrokke was.

Hy was ’n ou hand agter die mikrofoon en kon altyd koelkop bly, ondanks groot druk en selfs tegniese uitdagings. Luisteraars het nie altyd geweet van die probleme nie, want Stephan het aanhou uitsaai.

Uitsaai-hoogtepunte vir hom was beslis 2016 se Curriebeker-eindstryd in Bloemfontein toe die Vrystaat die Blou Bulle (36-16) van die veld af gespeel het en die toets tussen die Springbokke en Engeland in 2018 toe Suid-Afrika die reeks in die Rosestad (23-12) beklink het.

Op sy hartlike manier het hy my destyds gehelp om die oorgang van koerantman na kommentator te maak en ’n nuwe uitsaaidroom by my laat vlamvat. Ek gaan beslis my uitsaaimaat mis!

In sy bekende woorde: “Dit is vir oulaas myself, Stephan Cloete, en Jóhann Thormählen wat groet vanaf die Rosestad in Bloemfontein. Vir oulaas terug na die ateljee in Johannesburg.”

Stephan Cloete en Jóhann Thormählen saam met Ockert van Schalkwyk, ook ’n kommentator, by ’n Curriebeker-wedstryd in Kimberley. Van links is Stephan, Ockert en Jóhann. Foto: Jóhann Thormählen